Die ontstaan en geskiedenis van Upington

a) 200 Jaar gelede
Met die besoek van Robert Gordon in 1779 het die Gyzikoas hier gewoon en die drif was seker bekend, want Gordon het ook die eiland besoek en dit na sy oudste seun de Jonge Robert Gordons Eiland genoem.

Voor Gordon was Wikar hier en hy gee ‘n meer breedvoerige beskrywing van die mense waaruit dit duidelik is dat Upington 200 jaar gelede al ‘n handelspos was. Die Gyzikoas of Tweelingvolk was so genoem omdat hulle twee tale kon praat en die produk van bloedvermenging was. 

Die Bathlaping, toe beter bekend as die Blib of Brique, het vanaf die Kurumanrivier met ryosse hier kom besoek aflê, handel gedryf en met die riviervolk ondertrou en so ‘n Bantoe-Korana baster geskep, wat as ‘n eie groep hier gewoon het. Die tweelingvolk het die handelsware dan hiervandaan verder versprei. 

Die Blib het gekom met spiese, messe, else, dagga, tabak, kafferkoring, gelooide velle, houtbakke, ivoor lepels, yster- en koperringe en die artikels hoofsaaklik vir beeste verruil. 

Geld was natuurlik onbekend en ‘n jong vers was die mees gesogte dier en was gewaardeer teen agt assegaaie, ‘n byl, ‘n els, ‘n sakkie tabak en ‘n sakkie dagga. ‘n Os is teen slegs vyf assegaaie verruil. Hierdie handel het waarskynlik voortgeduur totdat blanke jagtersmouse die afsetgebied ontdek het en die geweer bekend geword het.

Dit kan seker aanvaar word dat blanke smouse die grootste omwenteling teweeggebring het in die leefwyse van die mense noord van Olyvenhoutsdrift, maar omdat hulle bewegings onwettig was is min op skrif gestel. In Suidwes (Namibia) het Gerald McKiernaw egter reguit gesê dat handelaars en sendelinge mekaar nie graag gesien het nie, want wapens en brandewyn het altyd ‘n goeie mark gehad en “many trader were not exactly shining examples of Christian virtue in their personal life”.

b) Die Sendingstasie
Weens die gedrag van sekere sendelinge en veral Dr Philips van die Londense Sendinggenootskap, was sendingorganisasies op een tydstip so onpopulêr by die Kaapse regering dat goewerneur De Mist in 1805 selfs die stigting van sendingstasies verbied het. 

Dit het beteken dat sendelinge alleen buite die grense van die kolonie kon optree. Hierby kom ook die neiging van die Basters om gedurig na nuwe “Trekvelde” te soek en hulle het dan gewoonlik in groepe by oop waters versamel. 

Sulke plekke soos byvoorbeeld De Tuin (aan die Sakrivier), Amandelboom (Williston) en Schietfontein (later Carnarvon), die Rynse Sendinggenootskap het die mense hier bearbei en so het dit gekom dat Schröder hiervandaan na Koranaland sou gaan. Hierby moet genoem word dat die Rynse sendelinge popular was, want hulle was destyds daarvoor bekend dat hulle die mense op geestelike sowel as materiële gebied bygestaan het.

Noord van Gariep by O’Mama (onder die blankes bekend as Olyvenhoutsdrift) was die woonplek van Klaas Lukas, die uitgeslape kaptein van Boven-Koranaland. Waarskynlik het Lukas die waarde van lees en skryf by smouse en jagters gesien, want in die omgewing van 1860 het jy al probeer om ‘n onderwyser te bekom.

Dit is bekend dat hy selfs ‘n boodskap aan die biskop van Kaapstad gestuur het en toe die katkisasiemeester Norgarb hom in 1864 besoek het, het hy sy versoek om ‘n onderwyser so dringend gestel dat Norgarb dit saam met Eerw Sterrenburg van Schietfontein bespreek het en laasgenoemde het weer by die NG Kerk aanbeveel dat daar ‘n sendeling na Koranaland gestuur moet word. 

Toe Lukas verneem dat die Rynse sendelinge wel aandag aan sy saak skenk het hy die pot warm gehou. Hy het eers boodskappe gestuur en later self gegaan en op daardie tydstip was die jong Schröder juis ‘n onderwyser by Sterrenberg. Weer het Lukas sy saak so dringend gestel dat Schröder hom pen, ink en papier gegee het om solank te gaan oefen. 

In Junie 1870 is die eerste offisiële sendingbesoek hier afgelê toe Sterrenberg, Schröder en Jan Möller hom kom besoek het om sake deur te kyk, maar ongelukkig was Lukas toe weg op ‘n jagtog. Met die terugkoms het jy dadelik weer na Sterrenberg gegaan en hierdie slag het hy ook belowe om ‘n stuk grond te gee vir die doel van ‘n sendingplaas. 

Die NG Kerk het intussen vir Schröder as sendeling aanvaar op voorwaarde dat hy die nodige verlof van die Rynse genootskap moes kry en dat hy die NG Kerk se leerstellings sou onderskryf. Ds Murray van die NG Kerk het vir Lukas kom besoek en op Saterdag, 20 Mei 1871 is die sake beklink en op daardie Sondag is die eerste offisiële diens deur middel van ‘n tolk gehou. 

Lukas en sowat 50 van sy mense het die diens bygewoon. Vir die doel van Ds Murray se besoek het Lukas ‘n spesiale matjieshuis laat oprig wat dan seker beskou kan word as die eerste kerkhuis te Olyvenhoutsdrift.

‘n Groep basters het in 1871 van De Tuin na Berseba, in Suidwes (Namibia) begin trek en Schröder het saam getrek met die doel om hulle aan eerw Heideman te oorhandig. Weens die groot droogte moes hulle lank by Warmbad oorstaan en so het dit gekom dat Schröder sy aanstellingsbrief by Warmbad ontvang het. Hiervandaan is hy per ossewa na Koranaland.

c) Schröder se aankoms
Eerw Schröder het op ‘n later stadium geskryf dat op 1 Desember 1871 “was ek ter woon by Lukas aangekomen” maar ongelukkig is al sy briewe nie beskikbaar nie en soms lyk dit tog of hy met datums maklik deurmekaar geraak het.

Op 28 Augustus 1871 skryf hy vanaf Concordia, Namakwaland dat hy meen om op 1 November in diens van die NG Kerk te tree en op 10 Oktober skryf hy van Warmbad dat hy reeds begin het om die Namataal te leer maar “de klikken vallen my zwaar”. 

In ‘n brief gedateer 16 November 1871 “Dabesis in het veld van Warmbad”, sê hy dat hy meen om teen 10 Desember in Koranaland te wees. Hierdie datum klop dus met J.A.J. Steenkamp se stelling dat hy op 9 Desember op Kakamas aangekom het. Onder die datum 14 Desember 1871 skryf hy wel vanaf Kakamas dat hy drie weke getrek het en “9 deser” aangekom en dat Pofadder die dag tevore (dus 13 Desember) van ‘n jagtog teruggekom het.

Dit klop met die verhaal dat jy na die rivier gestap het en die goeie tuingrond gesien het en so besluit het om daar te bly, maar omdat Pofadder op ‘n jagtog was het hy tog voortgegaan na Lukas wat by die aanhoor van die besluit so bedroef was dat hy (Schröder) toe maar liewer by Lukas gebly het. 

Dit kan aanvaar word dat hy van Kakamas na Olienhoutsdrif gegaan het en daarvandaan na De Tuin. Van De Tuin skryf hy op 26 Februarie 1872 en verwys na sy brief van 29 Desember 1871. Hierdie brief van 29 Desember wat nie in die argiefversameling is nie kan moontlik die datum van aankoms by Klaas Lukas aandui en dus ook stigtingsdatum van Upington. 

In latere briewe noem hy 1 Desember 1871 as die datum van aankoms in Koranaland. Die vraag is, waar was hy op Oukersdag 1871? Dis te betwyfel of die Godsman op 25 Desember sou gereis het. In die brief vanaf de Tuin geskryf sê hy: “Ik heb my vooreerst neergeset te Olivendrift daar denk ik my eerste huisje te bouwen. Thans woon ik daar in een armoedige matjieshuis”.

Hiernavolgens het hy dus van Pofadder se kraal na Lukas toe gegaan en hy het of self ‘n huisie opgeslaan of ‘n bestaande huisie betrek en ons kan verder verwag dat hy die trekosse moes laat rus voor die volgende skof, hom inrig in sy nuwe tuiste en dan ook hiervandaan vir Ds Neething in kennis sou stel dat hy uiteindelik hier aangekom het. 

Met hierdie sake in gedagte lyk dit of hy net voor Kersdag op Olievendrift aangekom het. Verder lyk dit of hy ‘n huisie wou hê vir sy aanstaande vrou, maar het nog getwyfel oor die finale posisie van die sendingstasie of soos hy dit uitdruk “hier te kort en daar te lang”. 

‘n Paar jaar later, op 13 Februarie 1875 klink die datum van sy aankoms meer verward: “Den 16 Jan zyn het juist drie jaren geweest zedert myne aankomst in Koranaland te Olievendrift, op dien dag onze kerkklok opgezet en den volgenden dag het eerste klokkengelui in Koranaland en tot Text Lukas 13: 6-9”. 

Ons weet dus nie wat die datum van sy aankoms was nie, en hierdie datum is belangrik, want van hierdie dag af het die veranderinge gekom: Koranaland, Basterland, Gordonia.

d) Die eerste wonings
Volgens die Sending-Feesboek 1875 – 1950 en ander oorlewerings was Klaas Lukas se kraal in die omgewing van die Sendingkerk en verder teen die heuwel af in die rigting van die padbrug, omtrent 30 hutte. Die Koranas se veekrale was omtrent waar die Hoërskool vandag staan en hul begrafplaas was naby die teenswoordige spoorwegstasie. 

Schröder noem sy eerste woning “een Luchtig matjieshuis” en sy eerste kerkgebou “een rietstyger” waaronder die bokke ook bedags geslaap het.

Op 20 November 1902 skryf hy uit die tronk in Tokai in verband met behuising vir eerw Blake dat “Beide woonhuizen behoren aan de zending, de eene aan deze de andere aan de ander zyde der kerk” en Blake kon “in een der huisen zyn logies nemen”. Die eerste steenwoning was dus iewers aan die straat se kant van die kerk.

Dit het maar moeilik gegaan om hierdie twee-vertrek woning te bou “weens het verdriet om met die Koranas te arbeiden”. Om stene te maak moes die arbeiders eers gevoed word en hy het by die kaptein ‘n seeppot gekry en van meel en vleis vir 35 eters sop gekook en hulle twee-twee met een graaf laat werk. “Het was een merkwaardige gezicht de trage onhandige Koranas met de spade te zien werken”. 

In sy afwesigheid moes die arbeiders voortgaan om stene te maak maar “toen zy kost hadden voerden zy niets uit en toen van my teruggelatene spyze verteerd was konden zy niets werken”. 

Onder die datum 9 Desember 1872 skryf hy “Met het bouwen ging het jammerlyk ………………….. Lukas heeft toch eindelyk kort voor ons komen een Engelsman gehuurd zodat ons huis nu naby voltooid is”.

Op 10 Maart 1873 noem hy dat die huisie bewoonbaar ingerig is en sy “boschjes kerk” is ook met die nuwe jaar vergroot en daar is sowat 100 tot 150 toehoorders en 50 tot 60 skoliere. Schröder is intussen (op 7 Augustus 1872) met Lucia Kuhn getroud en haar aankoms was heel dramaties. 

Volgens haar vertelling (“Fees-boek”) het die rivier halfwal gelê en in die middel van die stroom het die osse stroomaf begin draai. Haar man het net geskreeu dat sy maar in die water moes spring en uitsukkel terwyl hy en die touleier die wa en osse wal toe moes bring. Mev. Schröder het in hoofsaak die skool behartig waar kaptein Klaas Lukas self ‘n leerling was.

Op 10 Maart 1873 noem Schröder dat hy na pase met die maak van stene vir die kerk sou begin, maar weens die groot droogte is daar nie veel uitgerig nie. Die arbeidsprobleem was so groot dat hy op een stadium daaraan gedink het om liewer die kerk baie kleiner te maak. Gelukkig vir hom het Basters van De Tuin hierheen begin verhuis en hy het met Lukas onderhandel dat die Basters ook burgerregte kon verkry en dit het die arbeidsprobleem opgelos. 

Op 2 Maart 1874 skryf Schröder dat die eerste steen van die fondament op Maandag die 9de gelê sou word. ‘n Messelaar kon gehuur word teen 7/6 (75 sent) per dag plus kos, maar dit is te duur en hy sou liewer self messel. In hierdie brief noem hy ook dat met die bou van sy huisie 12 man slegs 300 stene per dag gelê het. 

Op 23 Augustus 1874 noem hy die kerk se binnemate as 68 X 25 voet, die fondament is klaar, 10 000 stene is al gevorm en hout vir die dakwerk is gekap. Die buitelae sou van baksteen wees en die binnelae van roustene. Daar word ook genoem dat die bossieskerk vir die tweede maal vergroot is. 

In ‘n brief van 13 Februarie 1875 word genoem dat die bouery nog vorder en van die graan wat na die vloed gesaai is was die oes besonder goed, die Koranas het 92 mud van een mud saad gewen en Schröder se agt blikke (half emmer) het 12 mud koring gelewer. Dit het dan ook beteken dat daar genoeg dekstrooi was vir die kerk se dak. 

Op 23 Augustus noem hy dat daar 100 000 stene gereed is en reeds in Junie het hy al saans na godsdiens by kerslig aan die deure en vensters gewerk. Die voltooiing van die kerk is moontlik in verlore briewe geskryf, maar in latere korrespondensie word dikwels verwys na die inwydingsgeleentheid op 11 September 1875. By hierdie geleentheid was daar sowat 100 Blankes ook aanwesig en daarna sou dit die gewoonte geword het dat Blankes op die banke regs van die preekstoel sou sit.

Volgens oorvertelling was dit kleibanke van steen gemessel en dus sonder rugleuning en die banke was in rye met ‘n looppaadjie tussenin. By blankes was dit dan ook die gewoonte om velkussings saam te bring kerk toe.

Kort na voltooiing van die kerk en wel op 27 September 1875 is ‘n skriftelike ooreenkoms met Klaas Lukas aangegaan. Hiermee is die plaas Olievendrift aan die kerk toegeken en beskryf as “……………. Eene statie voor hierdie zending werk in Boven Koranaland ………… Aan de oost zyde van Deidaup (Melk-stroom) waar die ronde Bakens kop, van oost bakens kop west met een regte lyn waar middel bakens kop en van daar met een regte lyn waar Kalkvlei insluitende de vlei van Kalkvlei met een regte lyn waar tNoes (Zwartkop) aan de rivier”. 

Die ooreenkoms is geteken deur Niklaas Petrus Lukas, Johannes Kat, Pieter Lukas, Jan Lukas en Kobus Lukas. Net die kaptein kon teken, die res het net kruisies gemaak. Die kaptein het met aanneming as lidmaat ook die Bybel se naam Petrus bygekry. 

Boven Koranaland word ook beskryf as van “Keis tot Curries Kamp”. In ‘n “Certificate of Occupation” gedateer 21 Augustus 1875 het Schröder ook regte suid van die rivier verkry as weiveld vir mense op pad kerk toe en om die invloei van drank te kan beheer.

Die kerkklok van 15 ghienies is ‘n geskenk van eerw Sterrenberg, Jan Muller en Mattheus Kuhn, Schröder skryf dat hy op 16 Januarie 1875 die kerkklok opgesit het en die volgende dag het die klokgelui sy aankoms herdenk. 

Volgens die Feesboek het mnr Frederick Strauss as volg vertel: “Sonder versuim het ek ‘n perd laat opsaal en in alle haas vir mnr Schröder laat weet van die gevaar. Toe die man wat die berig bring hom bereik het, het hy staan en messel aan die pilare van die kerkklok. Dadelik is planne beraam om te ontvlug. ‘n Boodskap is gestuur na die naaste polisiepos naamlik Kenhardt en die sendeling en sy vrou is met ‘n perdekar in veiligheid gebring”. 

Schröder skryf dat weens die Korana-oorlog die laaste Basterfamilie en twee blanke families op 11 Julie 1878 die stasie verlaat het en suid van die rivier regoor die kerk gaan kamp opslaan het. Onder die datum 16 Julie skryf hy dat hy en sy familie ook na die kamp suid van die rivier vertrek het. 

Op 18 Julie het Maj Nesbitt sy kamp rondom die kerk en woonhuis opgeslaan waar 20 man gelaat is om die eiendom te beskerm. Moontlik is die klok dus in Januarie 1875 eers net tydelik opgesit en in Julie 1878 is die pilare dan gebou.

Op 24 Desember 1878 skryf Schröder dat die kerk en woonhuis baie verniel is, byna alle ruite is stukkend en die lampe, leie ens. is verniel. Eerw Schonken noem onder die datum 9 Desember 1882 dat die kerk na die Korana-oorlog daar so verwaarloos uitgesien het dat hulle dit buite en binne moes afwit en dat hulle gekleurde ruite en hanglampe aangebring het.

Aan die vergroting van die kerk is daar al heel vroeg gedink en wel op 6 Oktober 1884 en op 14 Februarie 1885 noem hy dat die kerk nou met Nagmaal en fees-geleenthede te klein is en na voltooiing van die watervoor vergroot moet word.

Op 13 Februarie 1890 was daar al ‘n boukommissie waarvan die helfte blankes was en op 13 Oktober 1890 sê hy dat daar reeds op 16 Julie met die vergroting begin is en dat hy besig is om 80 houtbanke te maak, moontlik is die herboude kerk die aand voor Kersdag ingewy, want in sy brief van 17 Februarie 1891 sê hy dat daar by hierdie geleentheid oor die 700 mense was en dat hy nou nog ‘n houtvloer ook wil aanbring. 

Dit kan seker aangeneem word dat na die Korana-oorlog en sy teruggekeer uit Witzieshoek in 1883 hy met nuwe ywer sy sendingstasie weer opgebou het.

Met sy huisie was hy waarskynlik nooit tevrede nie, want reeds op 8 Junie 1875 skryf hy: “Met het bouwen van een betere woning voor ons zalk ik een begin moeten make”. Geen verdere verwysing na hierdie woning is nog gevind nie, behalwe die reeds genoemde brief vn 1902. Ons kan net raai dat met die vernieling van geboue met die Korana-oorlog die bou van ‘n nuwe woning wel aandag gekry het.

e) Die Dorp
Eerw Schröder kon die polisie nie duld nie en hy wou ook nie ‘n dorp gehad het nie en die afleiding word gemaak dat die naam Upington eintlik na Sir Thomas Upington se 80 polisie verwys.

Die twee Korana-oorlog het gesloer en dit was, in die woorde van eerw Schröder, net ‘n vermorsing van geld. Sir Thomas Upington het eindelik persoonlik hierheen gekom en het op indirekte wyse die bevel oorgeneem en die oorlog ten einde gebring. 
Sir Thomas Upington
Om die vrede en orde te handhaaf het hy ‘n mag van 80 polisie hier gestasioneer. Volgens die “Feesboek” het die polisie aan die begin sommer langs die rivier onder die bome kamp opgeslaan. Volgens ‘n latere afskrif het kapt Dyason ‘n permanente terrain uitgesoek wat hy met klipbakens afgemerk het en met Farini se besoek in 1885 was daar al barakke op die bult waar die polisiestasie vandag nog staan. 

Met Schröder se terugkoms van Witzieshoek in Mei 1883 was die polisie reeds hier en het hulle groot onenigheid veroorsaak. Reeds op 8 Junie 1883 skryf hy dat hy nie kan verstaan wat 80 polisie met vier offisiere hier soek nie. Hulle doen hoegenaamd niks nie, hulle het ‘n deel van die sendingstasie se weiveld gevat en hulle ry net in die veld rond om te jag en diere te perd na die skut toe aan te jaag. 

Later het hy vir Dyason beskryf as “een opvliegend mensch en kraait hier koning …………….. my smeekene om verlos-losing van zulk een tyranny ………………” en noem dat mnr Scott vir homself een en vir die polisie twee watererwe gevat het. 

Op 26 November 1883 skryf hy weer dat daar dringend en noodsaaklik aan hierdie saak aandag gegee moet word, want dit is onuithoudbaar vanweë die wyse waarop die polisie beeste en ander diere skut en dat Dyason al byna die helfte van die sendingstasie se weiveld gevat het en hier kon meer geen ryperd of melkkoei of ander dier sonder ‘n wagter rondloop nie en Ds Neethling moes uitvind of Dyason wel owerheids-toestemming gehad het om soveel grond te vat en met klipbakens af te merk en “welk leven voeren sulke niets doenende menschen”.

Op 17 November 1883 sê hy dat as sake nie verbeter nie hy genoodsaak sou wees om werk aan die watervoor te staak want die ouderlinge wat by die grawery moet toesig hou moet voor die polisie uitvlug met hulle diere. 

Op 26 Januarie 1884 sê Scröder dat as die polisie dan hier moet bly dan moet die sendingstasie liewer verskuif word en die regering kan dan die kerk en sendingstasie uitkoop en die watervoor oorneem en aan die deelhebbers hulle onkoste terugbetaal. Onder die datum 11 Februarie 1884 skryf hy: “Verder is myn wensch dat Olyvendrift of Upington niet een dorp, maar een Zending Statie mog blyven”.

Dis sover bekend die eerste maal dat eerw Schröder die naam Upington gebruik en wel uitspruitend uit sy gevoel van weersin vir die polisie. Mnr Scott noem weer in ‘n brief gedateer 11 Junie 1884 dat “The Committee of Management laid out a villiage…………….” wat daarop dui dat daar vroeg in 1884 sprake van ‘n dorp was en dus Schröder se bogenoemde reaksie. 

Met die oog hierop is dit verder interessant dat Schröder in sy bogenoemde brief ook vra dat die regering moet uitspraak gee oor die grense van die sendingstasie Olyvendrift aan een kant van die grenslyn en die dorp met sy polisiestasie, Upington, aan die anderkant van so ‘n grenslyn.

Van die kant van die polisie was daar ook ‘n heel interessante verslag gedateer 14 Desember 1883 waarin Dyason sê dat die polisiekamp nie op die sendingstasie aangelê is nie, maar wel omtrent twee myl (!!) weg met mnr Scott se huis halfpad tussen die twee regoor die drif. 

Verder, dat na die Korana oorlog hierdie streek aan die Basters toegesê is met onder andere die voorwaarde dat – “…………….. a piece of ground be reserved for police purposes which ground I marked off with stone beacons before any other ground was marked off in this country”. Verdere gegewens oor die beplanning van ‘n dorp en die reservering van polisiegronde kon nog nie opgespoor word nie.

In ‘n brief gedateer 31 Augustus 1886 sê Schröder dat die Sendingstasie nou Upington heet en die land Gordonia (na twee ministers) en dat die bevolking gemeng is “van geheel blank tot geheel zwart”. Tussen 1887 en 1893 word dikwels genoem dat aansienlike somme geld vir tuinerwe betaal word en dat die Basters wat eintlik veeboere was hulle grond verkoop en noordwaarts trek. 

So was in 1893 ook op Keimoes die meeste tuinerwe reeds in blanke besit en op Upington was daar 30 Blanke en 40 nie-blanke tuinerf eienaars. Die sending- stasie het dus algaande in die hande van blankes gekom en onder die datum 24 Maart 1893 skryf hy dat Upington ook geen sendingstasie meer is nie, maar ‘n dorp met ses winkels, ‘n hotel en twee kantiene.

f) Die Eerste Besproeiing
Op 15 Augustus 1883 het eerw Christiaan Heinrich Wilhelm Schröder die eerste sooi gespit by die bou van die Upingtonkanaal.

Hierdie onderneming, wat later deur Theal beskryf is as die grootste van sy soort in Suid-Afrika, was die begin van ‘n projek wat baie jare later as die Oranjerivier- projek bekend sou word. Op 18 November 1966 met mnr B.J. Voster die knoppie gedruk wat die 500 miljoen projek in beweging laat kom het.

Scröder het begin met ‘n tuintjie (net bokant die ou wabrug) wat met emmer natgedra is. In 1873 skryf hy dat hy besig is om ‘n “zelf werkende machine” te ontwerp wat deur water aangedryf moes word en op 15 Desember 1877 doen hy navraag na ‘n hydraulic ram, waarskynlik die later goed bekende ram pompies wat hier gebruik is. 

Skaars twee maande later, 7 Februarie 1878, soek hy nog na ‘n geskikte pomp, maar noem ook sy plan “om het water op ons tuin en landgoed met een watervoor te bringen”. Aan hierdie idee is eers na die Korana-oorlog en na sy terugkoms van Witzieshoek uitvoering gegee.

In 1881 is die Village Management Board Act No 29 gepubliseer waardeur die maak van watervore by dorpe aangemoedig is. Dis net moontlik dat mnr Scott as spesiale magistraat die wet onder Schröder se aandag gebring het en hy hom aanbeveel het om ‘n “Water works company” te stig. 

In sy briewe noem Schröder slegs dat die werk op ‘n aandelebasis onderneem is: “36 deelhebbers met 37 aandelen van ‘n kwart tot vier aandelen of landerven”. Onder die datum 17 Augustus 1883 sê hy dat die werk eergister begin is met 9 mans, gister 10 en vandag is daar 17 mans besig, maar volgende week sal die werkmense tot 30 styg. 

Die onderneming sal seker L3 000 – L4 000 kos. Hy en twee ouderlinge is as ‘n Watervoorkommissie verkies. In hierdie brief noem hy ook dat die werk aan die kanaal by Keimoes reeds aan die gang is. Op 26 September skryf hy dat die kanaal by Keimoes al klaar is en dat die mense daar al fluks besig is om grond gelyk te maak, water lei, ploeg en plant. Hierdie kleine kanaal by Keimoes is dus voor die groot kanaal by Upington gegrawe.

Die beplanning moes baie tyd in beslag geneem het, want hy praat van “na veel heen en weer gaan en ryden onderzoeken en afpeilen”. Die afpeil was by wyse van ‘n reihout met ‘n waterpas daarop vasgemaak en heen en weer gaan was te voet, te perd, per oskar of ossewa en verder was hy Ingenieur, Bestuurder, Opsigter en Boekhouer en dan “wy hebben allerlei werkvolk en zy hebben slechts voor my ontzag. Ben ik niet zelven by het werk, word er niets gewercht of te weining uitgerigt”. 

Op 2 Mei 1885 was die kanaal klaar 14 myl (22,5 km) lank of 16 myl (25,7 km) met kronkels en draaie en ‘n groot dankfees is gehou. Die vroeë oggendgodsdiens is gevolg deur ‘n optog met karre en perderuiters al langs die kanaal, op die middag is koek en koffie bedien. As verrassingsgeskenk was daar vir Schröder “een fraai rypaard met zabel en toom” en vir mev Schröder ‘n pomp om water uit die kanaal na die huis te pomp.

Die kanaal was bo 9 voet en onder 6 voet wyd. Soos met die kanaal gevorder is, is ook erwe uitgegee, maar die riviergrond was “zeer hobbelrig”. Tog is daar geploeg en gesaai en in 1885 is reeds 491 mud koring gewin.

Oorspronklik was dit die bedoeling om die kanaal net tot aan die onderent van die stasie te bring, maar dit is stuk-stuk verleng en teen 1895 was dit al met “drie en ‘n half uuren te paard” verleng om meer besproeiingsgrond beskikbaar te maak en om sodoende die Basters hier te hou. Reeds in 1887 skryf Schröder al “myn vrees is dat zy hun tydelike eigendommen aan blanken zullen verkopen gelyk enigen gedaan hebben en weder noordwaarts trekken naar een vryer leven”.

g) Die Watermeul
Op 9 Junie 1885 skryf Schröder dat daar besluit is om ‘n meul op te rig en dat Blankes sowel as gemeentelede vir bydraes geteken het in die vorm van kontant, vee of arbeid. Op 18 Februarie 1886 skryf hy “wy beginnen nu met het bouwen van een onderslag watermolen. Het zal een kerkmolen zyn” en noem verder dat mnr Scott baie behulpsaam is met die oprig van die meul. 

In Maart 1887 sê hy “de Molen malt zedert December doch is noch niet geheel klaar” en later sê hy die meul maal 12 mud in 24 uur en vereis baie aandag. Op 14 Junie 1888 sê hy dat hy ander rat moes maak en ‘n ander paar meulstene moes kry en “mnr Scott was de experiment maker met onze molen”. Skynbaar is daar dus altyd veranderinge aangebring om die meel meer doeltreffend te kry. 

In 1903 skryf eerw Blake dat daar weens slytasie baie aan die meul gedoen moet word en dat hier nou ‘n stoommeul opgerig is.

Deur: A.K. Cornelissen. Alwyn het hierdie geskiedenis in die 1970's aangeteken.
Hierdie is die mees digbevolkte besproeiingsgebied van ons land met die droë kalkvlaktes van Kenhardt en Boesmanland na die suide en die sandduine van die Kalahari na die noorde.

Vir my as geoloog is dit ‘n gebied van oorsaak en gevolg, van waarneem en interpreteer en dan na alles die gebied waar ‘n mens jou medemens kan dien om ten volle mens te wees. Kyk na die sweetkolle op die hemp van arbeider, kyk na die kameeldoringboom en wonder hoe oud hy is, kyk na die kalkvlaktes en wonder hoe het dit ontstaan en dan eers as jy weet dat jy min weet sal dinge waarde kry, en eers as jy raaksien sal jy sien hoe baie hier is om te sien.

Hier is die sewestêr en die suidekruis snags helder, want hier is die lug skoon. Hier was die pioniers natuurmens en ons bring hulde aan hulle wat ons voorgegaan het.
Verwysing: Wollie Burger
Saamgestel: Johan Swart. Beelde bygevoeg vir duidelikheid.
Naslaan Verwysings:
Besproeiing & Upington verwante geskiedenis
Die eerste huise in Upington area
Kerke & Gelowe langs Grootrivier - Die NG Kerk Upington
Kalahari-Oranje Museum (Upington)