Kerke & Gelowe langs Grootrivier - Die NG Kerk Upington

Hierdie is ‘n uitsonderlike geval. Christiaan Schröder was van die Rhynse Sendinggenootskap en hy het die NG belydenis afgelê om ‘n sendeling onder die Koranas te kan word. ‘n Rhynse gelowige het dus die NG Kerk na Upington gebring en uit hierdie sendingkerk is ‘n moederkerk gebore.

Blanke kerkgangers te Olyvendrift het op die kleibanke van sendingkerk (regs van die preekstoel) gesit en blanke kinders het saam met die nie-blankes skool gegaan. Tot met die bou van ‘n blanke kerk is ‘n tagtig blanke kinders ook in die sendingkerk gedoop. 

In 1891 was hier al ‘n totaal van 735 blankes noord van die Oranjerivier en op 19 September 1893 is besluit om ‘n eie blanke gemeente te stig. Volgens ‘n verstandhouding met die sendinggemeente is die sendingkerk gebruik totdat ‘n eie kerkgebou voltooi is. 

Die woord afstig in sy gewone sin kan hier nie gebruik word nie. ‘n Ringkommissie het dan ook gepraat van “ene gemeente in verband met die NG Kerk te stichten”. Dis verder interessant dat slegs die suidelike grens van hierdie gemeente vasgestel is naamlik die Groote Rivier. 

Oos sou dit tot aan Griekwalandwes gaan en noord en wes was “die grenzen onbepaald gelaten”. Op Saterdag, 28 Oktober 1893 is die eerste kerkraadslede voorgestel, die Sondag was Nagmaal en daardie Maandag is die eerste kerkraadsvergadering gehou, alles in die sendingkerk onder voorsitterskap van ds Kriel van Kenhardt. 

Op hierdie vergadering is besluit om ‘n tuinerf en grond vir ‘n kerkgebou aan te skaf. Die tuinerf is in 1894 vir £25 gekoop en grond vir ‘n gebou is deur WJ Holmes geskenk. Waar die Louis Malan Tehuis vandag staan is ‘n “temporaire gebou” in 1895 gebou, bekend as die Noodkerk. 

Hierdie Noodkerk is ook as blanke skool gebruik en met die Anglo-Boereoorlog was dit as ‘n tronk gebruik. Besonderhede oor die bou van die Noodkerk is nie bekend nie, maar die eerste kerkbasaar is hier op Saterdag, 28 Maart 1896 gehou en by ‘n kerkraadsvergadering die volgende Maandag is besluit dat dienste ook in Engels gehou sou word. Dit het later die gewoonte geword om die aanddienste in Engels te hou.

Die geldsake van die nuwe gemeente was so swak dat kerkraadslede soms die gemeente met lyste moes fynkam om die predikant, ds Schroevers, se salaris bymekaar te kry. Op Upington was omstreeks 1900 ook ‘n debatsvereniging bekend as “De Christelyke Jongelings Verening” wat ook in hierdie kerk gehou is en by geleentheid het daar klagtes ingekom dat die kerkraad iets moes doen aan die wanordelike gedrag van die jongmense en “het luidruchtig geklap er handen”. 

Volgens hierdie notule kon die jongmense die gebou ook gebruik “voor koncerten zoolang voor het gebruik er van betaald werd”. Waarskynlik was die Noodkerk nie ‘n stewige gebou nie, want daar is dikwels aan gerepareer, later is die gewels met yster ankers in posisie gehou en die predikant (ds Schoevers) moes selfs by die plaaslike magistraat regsadvies inwin oor die aanspreeklikheid van die kerkraad ingeval die gebou op die gemeente sou intuimel. 

Met die oorlogsjare het dit finansieel sleg gegaan en politieke gevoelens het hoog geloop. Volgens die kerkraadsnotule was daar by die vergadering van 24 September 1900 slegs een ouderling en een diaken aanwesig omdat “byna al die leden des Kerkraads in die tronk gestop waren en een paar woonagtig in het distrik Mier durfden niet opkomen wegens den oorlog”.

By ‘n gemeente vergadering van 2 Julie 1904 is besluit om ‘n nuwe kerk te bou. Op aandrang van ds Hugo is die Nieuwe Kerk deur Hesse en Hesse beplan. Met inagneming van die somerhitte moes die kerk ‘n hoë plafon hê en die galery is ook so hoog moontlik geplaas. 

Om hierdie rede is weer ‘n skuins klankbord by die preekstoel aangebring sodat almal die predikant kan hoor. Teen omstreeks 1820 is oorsee al die opinie gelug dat ‘n kerkgebou van Gotiese boustyl moet wees om ‘n toegewyde atmosfeer te skep en hierdie gebou met sy steunmure, lansetboogvensters en veral ook die spits torinkies by die kloktoring dra die neo-gotiese karakter wat dit van buite so aantreklik maak. 

Hierdie gebou, sowel as die Rooms Katolieke kerk, bly steeds die twee mees indrukwekkende geboue op Upington.
NG Kerk Upington
Klankbord bokant die preekstoel
Die hoeksteen is gelê op 11 Julie 1911 en op 13 April 1912 is dit ingewy. Die inwyding was ‘n groot geleentheid. Om 9:30 vm het die broeders en vriende by die Noodkerk versamel terwyl die susters reeds by die nuwe kerk gewag het dat die deure moes oopgaan. 

Die prosessie het van die Noodkerk genader, die sleutels is aan ds Hugo oorhandig en tussen 1600 en 1700 kerkgangers het hulle plekke ingeneem. Ds Venter “trad op als redenaar van de wydings dienst”. 

Die gebou het £7000 gekos plus nog £2000 vir banke en ander toebehore. Boumateriaal is met transportwaens vanaf Prieska vervoer teen tien shillings per 100 pond (sê R1 per 50kg). Die kerkklok is direk uit Holland ingevoer. 

Die leraar het per ossewa of veerwa sy gemeente besoek, maar met die inwyding is die ossewa verkoop en hy het ‘n kar met twee perde persent gekry. Eerw. Schröder het in sy laaste jare ook hier as ouderling gedien.

Eers in 1897 is daar begin met die insameling van fondse om ‘n pastorie te bou. Ouderling WH le Roux het sy huis op die dorp gratis aangebied vir een jaar as woning vir die predikant. Daarna het hy verhuur, eers teen £3 en later teen £4 per maand. 

Teen 1898 was die pastorie al so ver dat die leraar kon intrek hoewel die huis eers op 25 September 1899 finaal afgelewer is. Vir die pastorie was water met emmers uit die kanaal aangedra totdat daar in 1906 eers ‘n pomp gekoop kon word. 

Reeds in Julie 1919 was die pastorie al in so ‘n swak toestand dat die kerkraad ‘n nuwe gebou wou oprig “doordat de pastorie slegt zamen gesteld zyn”. Op ‘n gemeentevergadering is hierdie besluit egter afgestem en daar is besluit om £700 aan herstelwerk te spandeer. Eers in 1934 is die ou gebou platgeslaan en die nuwe pastorie, deur Louw en Louw van Kaapstad ontwerp, was op 4 April 1936 klaar.

Deur: A.K. Cornelissen. Alwyn het hierdie geskiedenis in die 1970's aangeteken.
Hierdie is die mees digbevolkte besproeiingsgebied van ons land met die droë kalkvlaktes van Kenhardt en Boesmanland na die suide en die sandduine van die Kalahari na die noorde.

Vir my as geoloog is dit ‘n gebied van oorsaak en gevolg, van waarneem en interpreteer en dan na alles die gebied waar ‘n mens jou medemens kan dien om ten volle mens te wees. Kyk na die sweetkolle op die hemp van arbeider, kyk na die kameeldoringboom en wonder hoe oud hy is, kyk na die kalkvlaktes en wonder hoe het dit ontstaan en dan eers as jy weet dat jy min weet sal dinge waarde kry, en eers as jy raaksien sal jy sien hoe baie hier is om te sien.

Hier is die sewestêr en die suidekruis snags helder, want hier is die lug skoon. Hier was die pioniers natuurmens en ons bring hulde aan hulle wat ons voorgegaan het.
Verwysing: Wollie Burger
Saamgestel: Johan Swart. Beelde bygevoeg vir duidelikheid.
Naslaan Verwysings:
https://www.upington.co.za/kalahari-oranje-museum/