Besproeiing & Keimoes verwante geskiedenis

Keimoes
Ry uit na die top van Tierberg en geniet die onvergeetlike panorama. Keimoes, Moeboes, Grootoog, die oog wat ver sien. Daar ver in die weste lê Neusberg links en Swartbooisberg regs van die rivier. Hier voor jou, soos die teerpad na Neilersdrif loop lê die eilande. 
Eers Bokeiland (nou genoem Keimoeseiland) waar ‘n ou Baster, ‘n sekere Bock, baie grond besit het. Dan kom Rooikopeiland vanwaar die Kanoneilanders hulle historiese optog gemaak het, dan Skanskopeiland en Brakboseiland. 

Bo van Tierberg af kan jy die laaste twee nie so maklik herken nie, maar daar in die verte links is ‘n donker koppie, dis die eintlike Skanskop daardie waar op 29 en 30 Mei 1879 die Koranas onder Donker Malgas die Koloniale magte uitgedaag het om nader te kom en nie halfpad om te draai nie. 

Dis waarskynlik ook die omgewing waar Wikar in 1778/79 die Snyersvolk gekry het. Hulle was so genoem omdat hierdie groep ‘n opponent, in geval van ‘n geveg, deur die maag oopsny en sy derms uitpluk terwyl hy nog leef.

Na die ooste, rivier-op, is die talle strome en eilande waar dieselfde Wikar deur veertig strome moes gaan om by die Nouwange se kraal van veertig hutte te kom. Sowat 400 beeste en 400-500 skape het toe op die eilande gewei. 

Hierdie mense het toe vir die eerste keer ‘n witman en ‘n perd gesien en Wikar sê hulle was banger vir ‘n perd as vir ‘n renoster. Hy vertel ook dat die riviervolk kareeboompitte fynstamp en meng met blare van ‘n wilde lelie en melk en so ‘n suur-soet pap voorberei het. 

Sommige bessie-soorte is gedoop en gehou vir latere gebruik. Effens na links anderkant die pad wat na Tierberg lei, staan ‘n platdakhuis; die plek is bekend as Mill Site en hier het eerw. Schröder in 1889 ‘n watermeul gebou. Dit is later deur ‘n vloed verwoes.

Teen die voet van die heuwel staan die mooi kerkgebou. Hier is seker die enigste preekstoel in ons land wat van olienhout gemaak is. Mnr. Frikkie Loxton van Friersdale het die bome geskenk en ‘n twintigtal gemeentelede het die hout gaan saag. Die blokke is tot laaghout verwerk deur Plywoods in Parow. Laker Meubels van Paarl het die preekstoel gebou.

Van die kerk af skuins oor die straat voor die Hoërskool staan die kerkboom. Onder hierdie kameeldoringboom, is met die griep, kerk gehou om aansteeklikheid te beperk. In die hoofstraat skuins oor die waterwiel staan die witkerk. 

Eerw. Schröder het hierdie kerk in 1889 gebou, destyds sonder toring en met kleibanke. Sekere banke was afgestaan vir blankes. Die kerk was ook gebruik as skool vir Baster- en blanke kinders. Die onderwyser was ene Pieter Rossouw, ‘n drankverslaafde. Die eerste inspekteur ‘n mnr. Brice skryf: “Rossouw is ‘n degraded white man with a coloured wife - of course the teacher is useless but I shall be sorry for Mr. Schröder.”

Hierdie mooi dorpie is die vertroetelde kleinood van die Benede-Oranje. Lank was hy afgekamp deur berge in die suide en slegs op- en af reisigers het hier aangedoen.

Teen 1778 – 1779 het die Nouwange (of Smalwange) en die Snyersvolk op die Eilande hier gewoon. Teen 1793, volgens Theal, het die berugte Afrikanerbende ook hier iewers hulle rowernes gehad – moontlik op Skanskopeiland. 

‘n Blanke, die Pool bekend as Stephanus, het by Afrikaner aangesluit en hulle was gedurig in ‘n staat van oorlog teen enige-iemand wat besittings gehad het en weerstand gebied het. Theal sê: “who ever resisted, whether white man, halfbreed, Hottentot or slave paid for the attempt with his life”. 

Vir ‘n periode van sowat tagtig jaar, dit wil sê tot na die Tweede Korana-oorlog (1879) weet ons eintlik nie veel nie. Na die oorlog toe die Basters op Keimoes aangekom het, het die herlewing gekom. Dis hulle wat onder leiding van eerw. Schröder die eerste besproeiingskanaal gegrawe het en in 1883 is agt mud saadkoring hier gesaai. Keimoes was toe die sendinggemeenskap van Olyvenhoutsdrif se saaiplaas en buitestasie.

‘n Watermeul is by Mill Site opgesit, ‘n kerkskool is gebou en blankes het begin intrek. Teen 1894 het Schröder al van die preekstoel af gewaarsku dat die Basters nie hulle gronde aan blankes moes verkoop nie. Teen 1900 was daar egter al blanke families soos Frank, Grobbler, Niemöller, Klein, Compion, Van Heerden, Steenkamp, Malan ens. 

Uit die kerkgeskiedenis blyk dit dat die blankes ‘n armmansbestaan gevoer het en later met die stigting van die blanke gemeente was die predikant se salaris eenmaal vir drie maande agterstallig en hy moes te voet sy gemeentewerk doen of ‘n donkie of perdekar by gemeentelede leen. 

Skoolkinders het op mielieblaarmatrasse geslaap. Daar was geen brûe nie, maar skuite en ‘n sestigtal hangbrûe is gebruik. Mettertyd was al die grond in besit van blankes en hul liefde vir Keimoes word weergegee deur IW van Rensburg in die NG Gemeente se Jubeliumblad: “aan Keimoes en sy mense bly ek ‘n skuldenaar, maar ek verheug my daarin ... tussen die rotse deur, oor sandduine, deur strome en oor hangbrûe het ons saam met die leraars van Keimoes op huisbesoek deur die eilande gestap. Soms op snikhete somersdae, maar dan ook weer op onvergelykbare helder herfsdae”. 

Dis die mense van Grootoog, die oog wat ver kan sien. Keimoes is die kleinood van Grootrivier.

Deur:
A.K. Cornelissen. Alwyn het hierdie geskiedenis in die 1970's aangeteken.
Hierdie is die mees digbevolkte besproeiingsgebied van ons land met die droë kalkvlaktes van Kenhardt en Boesmanland na die suide en die sandduine van die Kalahari na die noorde.

Vir my as geoloog is dit ‘n gebied van oorsaak en gevolg, van waarneem en interpreteer en dan na alles die gebied waar ‘n mens jou medemens kan dien om ten volle mens te wees. Kyk na die sweetkolle op die hemp van arbeider, kyk na die kameeldoringboom en wonder hoe oud hy is, kyk na die kalkvlaktes en wonder hoe het dit ontstaan en dan eers as jy weet dat jy min weet sal dinge waarde kry, en eers as jy raaksien sal jy sien hoe baie hier is om te sien.

Hier is die sewestêr en die suidekruis snags helder, want hier is die lug skoon. Hier was die pioniers natuurmens en ons bring hulde aan hulle wat ons voorgegaan het.
Verwysing: Wollie Burger
Saamgestel: Johan Swart. Beelde bygevoeg vir duidelikheid.
Naslaan Verwysings: