Besproeiing & Kakamas verwante geskiedenis

Die vroegste verwysing dateer na omstreeks 1778 toe Wikar in die winter daar was. Die rivier het gestaan en daar was net kuile brak water en ‘n groot trop buffels het gewei omtrent waar Bassonsdrif nou is.

In 1805 het die Londense Sendinggenootskap ‘n sendingstasie begin, genoem Stille Hoop, omtrent by die mond van die Hartbeesrivier. In 1839 was hierdie plek bekend as Oorlamskraal; moontlik het die Oorlams daarheen gevlug nadat hulle by die teenswoordige plaas Eksteenskuil (ook bekend as Oorlamskraal) deur die priester Stephanus en die Afrikanerbende aangeval is.

Teen 1888 is pagplase uitgegee en ‘n blanke boer Bouers het by die teenwoordige Kakamas ‘n armoedige bestaan gevoer. Hy het met ‘n afgeleefde skuit oor die rivier geroei.

In 1869 het Norgarb die noordekant van die rivier besoek en uit die oogpunt van n sendingstasie noem hy dat die bevolking bestaan het uit Koranas, Griekwas, Boesmans, Basters en Damara slawe.


Op 9 Desember 1871 het eerw. Schröder vanaf Warmbad by Klaas Pofadder se kraal aangekom  het hy ook die rivier besoek en die goeie tuingrond opgemerk. Mnr. Koos van der Merwe van Bassonsdrik is van mening dat Pofadder se kraal op Nokkowaai was, die lae heuwelgrond net noord van Piet Fykan se koppie en die begraafplaas was in die droë loop net wes van die heuwels. 

Kaarte uit die Tweede Korana-oorlog wys Pofadder se kraal noord van die rivier en naby die transportpad aan die Kalahari en regoor Kakamasdrif.

Die idee van ‘n besproeiingskema dateer uit 1894 se Sinode toe Ds Marchand die armblanke vraagstuk bespreek het en verwys het na arbeidskolonies in Duitsland. Die grondliggende idee was dat verarmde families eers net weer op die been gebring moes word en dat erwe van sowat ses morg (5ha) die kerk se eiendom sou bly sodat ‘n volgende verarmde weer dieselfde erf sou kon huur teen ‘n jaarlikse fooi.

Die groot droogte van 1895 -1897 tesame met die runderpes het baie boere tot op die rand van hongersnood gedryf en in 1897 skenk die Regering dan ook die plase Kakamas en Soetap aan die NG Kerk onder sekere voorwaardes. 

Toe die skema trek sodat tot op 4 Julie 1898 met die kanaalgrawery begin is, daar reeds 25 families was en in Oktober was daar 60 families. Die idee was dat aansoekers gekeur moes word, maar die mense het net aangehou om te kom. Algaande het die Kerk meer plase bygekoop, maar nogtans was daar omtrent altyd bywoners, dit wil sê mense wat by andere op die erwe woon in afwagting om ook ‘n erf te kan bekom.

Aan eerw. Schröder, toe 62 jaar oud (bekend as Ou Meester), is die taak opgedra om die skemas van stapel te stuur. Bygestaan deur die later bekende Japie Lutz (Kleinbaas) is die suidvoor eerste aangepak. Toe hierdie werk goed onderweg was, het Schröder met die noordvoor begin veral met die oog daarop om vir die Bastergemeenskap ook besproeiingsgrond beskikbaar te stel.

Die grawery was alles by wyse van graaf en pik en handgereedskap en selfs waar grond verwyder of aangebring moes word, het werkers die skotskarre getrek. Volwasse mans het gewerk teen drie shilling per dag en Saterdae kon skoolseuns ook werk teen een pennie per dag. 
Soos die kanaal gevorder het, maar nog voordat die erwe uitgegee is, is die werkers al toegelaat om klein lappies grond te bewerk waar mielies, aartappels, pampoene, beet en uie geproduseer is. Teen April 1899 was die suidvoor al sewe myl lank (11km) en onder 60 mans met die langste diens is met loting erwe van ses morg (5ha) uitgegee. 

Die Kerk het ‘n voorskot van £12 (sê R24) per erfhouer gegee. Tot hier toe moes die gesinne op daardie karige daaglikse loon lewe, wat dan vleis, brood, rys en koffie beteken het. Die eerste gewasse was dan ook net dit wat kos kon lewer of in die woorde van eerw. Schröder, “manne, broers, plant kos!”. 

Gesinne het in riethuisies gewoon en met die uitgee van erwe was dit ‘n algemene gesig dat die vader en seuns bome uitkap, sandbulte afwerk en holtes opvul terwyl die moeder in ‘n kookskerm kos maak en die dogters stene maak.

Teen 1908 is verwys na die groot houtskoffel wat deur osse of donkies getrek is vir die gelykmaak van grond. Uit hierdie houtskoffel het die bekende Kakamasplank ontstaan; ‘n lang breë plank met ‘n ou waband of so iets onderaan en met sterte of handvatsels om dit mee te reguleer en deur ses donkies getrek. Die Kakamasplank was die stuk gereedskap wat later tot by Boegoeberg erwe sou gelykmaak.

Soos reeds gesê , was die koloniste hoofsaaklik verarmde veeboere wat van besproeiingsboerdery min geweet het. Van die bekamping van insekpeste is min geweet en toetse moes nog uitgevoer word oor wat die mees produserende gewasse sou wees. 

Totdat die treinspoor gekom het, was daar min afset vir hulle produkte, maar nogtans het die arbeidskolonie so gevorder dat toe die Direkteur van Besproeiing in 1904 vir WB Gordon stuur om oor Kakamas te rapporteer kon hy onder andere noem dat: “oordelende naar de nette en ruime huizen die reeds gebouwd zyn, zyn sommigen welvarend”.

Vervoer was seker een van die grootste struikelblokke op die pad van vooruitgang; die arbeidskolonie kon produseer, maar daar was geen afsetgebied nie. Vanaf 1916 is ‘n spoorverbinding met Kakamas bepleit en dit was ‘n groot dag vir die Kolonie toe ‘n treinspoor en brug oor die rivier voltooi is. 

Op 18 Augustus 1926 is die spoorweg amptelik geopen met die lokomotiewe in kleurvolle feesgewaad, drie treine uit Upington wat besoekers gratis vervoer en ‘n tamaai groot saamtrek van karre, waens en motors by Kakamas se stasie, ‘n saamtrek van sowat 3 000 mense. Hierdie spoorverbinding was seker die grootste enkele faktor wat die arbeidskolonie van ‘n hulpbehoewende na ‘n welvarende gemeenskap omskep het.

Op skoolgebied het Kakamas geskiedenis gemaak, deur die eerste instansie te wees om blanke skoolonderrig verpligtend te maak en hierdie was ook die eerste plattelandse skool wat self leerkragte opgelei het. Met die stigting van die arbeidskolonie het die Kerk dit as ‘n vereiste gestel dat die kinders moes skool gaan. 

Net 14 dae nadat met die kanaalgrawery begin is, het Schröder al ‘n riethuisie opgerig en is die eerste 30 kinders skool toe met van die moeders as onderwyseresse. Die winterkoue het deur die rietmure gesny en die eerste inspekteur, Mnr George Grant, het dan ook in sy verslag genoem dat net een goeie woord oor hierdie skoolgebou gesê kan word, naamlik dat die baie lugtig is. 

Eers in 1903 is ‘n gekwalifiseerde onderwyser bekom, mnr PE Beyers, en eers in 1904 het die skool staatsondersteuning gekry. In 1906 het mej HC Olivier, na Kakamas gekom en in haar 13 jaar van diens daar, 12 daarvan as skoolhoof, het sy die skooltoestande van die hele omgewing ter harte geneem. 

Sy het dan ook hierdie skool verander na ‘n tipe van normaalskool waar leerkragte opgelei kan word om die hele noordweste te bedien. So het sy ‘n totaal van 67 onderwysers(esse) opgelei. Die rietskool is in 1904 deur ‘n skoolkerk vervang. Soos die kolonie gegroei het, is takskole gestig en soms kon die ouers slegs by wyse van koring die nodige gelde betaal, maar die kinders is wel skool toe.

Dit word vertel dat Kakamas se hidroëlektriese kragstasie die tweede van sy soort in Suid-Afrika was. 

Met die aanstelling van Attie de Waal as ondersuperintendent en opsigter oor alle landboubedrywighede in 1907 het hy ook na vore gekom met die idee om volstruise aan te skaf. Op ‘n stadium was daar al 523 volstruise wat veral op Paardeeiland en Drifeiland aangehou is. Met die val van die veremark is die volstruise op die Kakamasplase vrygelaat.

‘n Teer saak was die kwessie van grondbesit. Aan die een kant moes die Kerk waak teen inpalming van erwe deur welgesteldes en aan die ander kant sou erfhouers die gronde tot maksimumpotensiaal kon ontwikkel indien dit hulle eiendom sou wees. 

In 1919 is daar dan ook ‘n petisie aan die Regering gerig om die bestuur van die Arbeidskolonie uit die Kerk se hande te neem met die onderliggende idee om die eiendomsreg te kan bekom. Die Kerk het aan die verskillende klagtes aandag gegee en gevoelens het bedaar. 

In 1928 het die koloniste die saak weer aangevoer en direk met die superintendent bespreek in terme van die hunkering om ‘n eie stukkie grond te besit. Hierdie petisie is deur die Kerk baie simpatiek behandel, maar die groot probleem was die skuld van sowat £144 000 (R300 000) wat nog op die Arbeidskolonie gerus het. 

Die saak het egter nie hiermee doodgeloop nie, omdat die boereverenigings onder voorsitterskap van AD Collins gevoel het dat Kakamas lank nie meer ‘n kolonie was nie. Vorentoe het die kwessie van grondbesit nou ontwikkel tot ‘n stryd tussen die boereverenigings aan die een kant en die Kerk aand die ander kant. 

Eers in Oktober 1951 het die saak finaliteit bereik. Vir kaart en transport het dit verder beteken dat ‘n Landmeter sowat 6 000 bakens moes opmeet behalwe vir die menigte serwitute soos kanale, paaie, leivore en pyplyne. Eers in 1957 is die eerste transportaktes uitgereik en teen 1963 was 88 persent van die erfhouers al in besit van hulle oordragaktes. 

Op 1 September 1964 neem die Staat die beheer en bestuur van die besproeiingswerke oor en in dieselfde jaar word die Munisipaliteit van Kakamas gestig. Parlementêre formaliteite is eers in 1976 afgehandel by welke geleentheid die Senaat die NG Kerk geloof het vir sy baanbrekerswerk op besproeiingsgebied en ... “Kakamas strek die NG Kerk tot groot eer en die hele volk kan met groot dankbaarheid kennis neem van hierdie onvergelyklike reddingsdaad wat in ons land verrig is”. 

Deur: A.K. Cornelissen. Alwyn het hierdie geskiedenis in die 1970's aangeteken.
Hierdie is die mees digbevolkte besproeiingsgebied van ons land met die droë kalkvlaktes van Kenhardt en Boesmanland na die suide en die sandduine van die Kalahari na die noorde.

Vir my as geoloog is dit ‘n gebied van oorsaak en gevolg, van waarneem en interpreteer en dan na alles die gebied waar ‘n mens jou medemens kan dien om ten volle mens te wees. Kyk na die sweetkolle op die hemp van arbeider, kyk na die kameeldoringboom en wonder hoe oud hy is, kyk na die kalkvlaktes en wonder hoe het dit ontstaan en dan eers as jy weet dat jy min weet sal dinge waarde kry, en eers as jy raaksien sal jy sien hoe baie hier is om te sien.

Hier is die sewestêr en die suidekruis snags helder, want hier is die lug skoon. Hier was die pioniers natuurmens en ons bring hulde aan hulle wat ons voorgegaan het.
Verwysing: Wollie Burger
Saamgestel: Johan Swart. Beelde bygevoeg vir duidelikheid.
Naslaan Verwysings: