Kerke & Gelowe langs Grootrivier - Stephanus se Tempel

Die verhaal begin in die jaar 1800 toe Stephanus uit die dodesel ontsnap het. Hy was ‘n pool van Griekse herkoms en het in die Kaap agtergebly nadat sy dienstyd by ‘n Duitse regiment verstreke was. Campbell beweer dat die skip gestrand het en dat Stephanus tog die land gehaal het; moontlik het hy self verskeie stories vertel.

Hy het egter in ‘n winkel gewerk en papiergeld vervals en hy moes dit baie knap kon gedoen het want destyds was daar drie handtekenings op die note. Wat hy nog gedoen het weet ons nie, maar Barrow vertel dat hy in die sel moes wag om gehang te word.

Volgens beskrywing was die dak van die kiaathoutplanke met ‘n pleister laag bo oor. In die sel se muur het hy ‘n spyker gevind en daarmee ‘n slootjie deur die planke gekrap, die houtrafels fyngekou en ingesluk en bedags die slootjie met brood toegestop sodat die wagte dit nooit opgemerk het nie. 

Een goeie nag het Stephanus deurgebreek en verdwyn. In die Roggeveld het hy as messelaar tussen die boere beweeg en daarvandaan koers gekry na die Sakrivierwaar hy by eerw. Kircherer uitgekom het. Dis bekend dat Kircherer aan die Sakrivier in Junie 1799 ‘n sendingstasie gestig het bekend as Happy Prospect Fountain of Blyde Verwachting Fontein.

Kircherer self het genoem dat daar twee fonteine was met ‘n stukkie grond geskik vir tuin maak. Hierdie stasie is in 1806 weer verlaat as gevolg van droogtes en plundering deur bendes. Ons weet nie hoe lank Stephanus by Kircherer vertoef het nie, moontlik ‘n redelike tyd, want hy het ‘n eie vertrek gehad waarin hy geslaap het. 

Ongelukkig het hy sy oog gehad op die sendeling se wa en ander karige besittings en dus het hy besluit om vir Kircherer te vermoor. Een nag het hy dan ook sy gasheer se kamer ingesluip en hom bespring. Die sendeling het so hard om hulp geroep dat Stephanus hom moes los en toe maar gekla het van ‘n vreeslike maagpyn. 

Die volgende oggend was hy egter weg en het net Kircherer se geweer gevat. Dit gebeur toe so dat hy hom vasloop in twee ander sendelinge, Kramer en Scholtz, en hulle moes hom geken het of miskien die geweer geken het, want hulle het hom teruggebring na die sendingstasie. Daar jaag Kircherer hom toe weg, maar gee hom tog vleis, tabak, ‘n tonteldoos en vuurslag, kruit en ‘n Bybel.

Waarskynlik het hy met die Sak- en Hartbeesriviere af beweeg tot by die Oranje, want ons hoor weer van hom by Kok se mense. Ons weet dat Adam Kok in 1710 nog in Piketberg en omgewing was en toe na die Kamiesberge verhuis het vanwaar hy jagtogte onderneem het selfs tot by die teenswoordige Griekwastad. 

Teen 1795 het hy sy kapteinskap oorgedra na sy seun Cornelis wat net so lief was vir jag en Cornelis het toe vir hom ‘n buitepos gestig net suid van die Oranje omtrent by die teenswoordige plaas Eksteenskuil (net suid van Kanoneiland). 

In reisbeskrywings is na hierdie buitepos verwys as Kokskraal of Orlamskraal. In 1813 noem Campbell dat die gemeenskap bestaan het uit 215 Orlams, 180 Koranas en 30 Boesmans. ‘n Totaal van 425 mense moes ‘n redelike groot nedersetting gevorm het en by hierdie mense het Stephanus tevore aangesluit en hier het hy die eerste kerk op die oewer van Grootrivier gebou.

Volgens Campbell en Moffat se verwysings na ‘n vlakte met heuwels rondom, rooi sandduine oorkant die rivier, die tempel ‘n paar honderd tree weg van die rivier by ‘n kol bome, en ‘n “mountain of considerable height” net agter die tempel, was die gebou aan die voet van Blousekop met Kok se buitepos ‘n entjie verder af na Eksteenskuil.

Aan Kok se mense het hy vertel dat hy ‘n profeet is, ‘n soort god, en dat hy duisende myle ver vandaan gekom het, alleen en sonder geweer of swaard of spies, en dat hy eintlik direk van die hemel uitgestuur is om hulle sondes te kom regmaak en daarom moes hulle gehoorsaam wees want anders sal daar vuur uit die hemel kom wat eenvoudig alles hier op die grond sou verteer. 

Almal , man, vrou en kind, moes ook inspring en die tempel help bou. Die tempel is beskryf as ‘n klipkerk sonder dak (of aldan met ‘n rietdak). Daar was ‘n rooi geverfde kruis en ‘n preekstoel en volgens Barrow was die godsdiens wat hy verkondig het ‘n mengsel van Hebreeuse en Griekse seremonies met homself altyd as ‘n goddelike wese wat rigting gee. 

Elke oggend het hy alleen die heuwel agter die kerk uitgeklim om sy bevele van die hemel te kry en met sy god te praat en van onder af kon sy volgelinge soms sien hoe hy op die heuwel in ‘n rookkolom verskyn (as hy bosse aan die brand steek) of in ‘n vuurkolom as hy van kruit gebruik maak. 

By tye het hy weer by die tempel vir ure op die grond gelê en in ‘n soort geestesverrukking en dan allerhande openbaringe ontvang, drome gedroom, gesigte gesien en stemme gehoor. As dit tyd was vir sy volgelinge om hulle offerhande te bring het hy hom vermom. 

Hulle moes net die beste en vetste diere bring en daarvan het hy dan ‘n stukkie op die altaar gebrand en die res vir homself gehou. In tye van swaar donderstorms of wanneer die rivier sy walle oorstroom was die profeet buitensporig met sy vereistes: hoewel hy drie vrouens gehad het moes daar dan jong meisies gebring word om hom te behaag. So het Stephanus die mense se liggelowigheid tot die uiterste uitgebuit en hulle met ‘n ysterhand regeer.

Hoe lank hy hier gebly het is onseker, moontlik in die orde van 1801 tot 1806. Die Kaapse regering het hom gesoek en die sendeling het van aktiwiteite gehoor en die wêreld het vir hom nou geword. 

Daar bestaan twee verhale oor sy ontvlugting. Barrow vertel dat die sendelinge gedreig het om hom aan die regering uit te lewer en dat hy betyds padgegee het. Volgens Lückhoff het Kircherer na hom gegaan en dit so bewerk dat sy volgelinge hom onder ‘n boom gepak het en hy moes openlik erken dat sy godsdiens bedrog was, en hy sou belowe het om die plek te verlaat en weswaarts see toe vertrek met die doel om met ‘n verbygaande skip die land te verlaat. 

Hy het dan ook in die rigting van Namakwaland padgegee en by ‘n trekboer, ‘n sekere Engelbrecht uitgekom. Dit lyk of Engelbrecht van hom geweet het, want hy is as ‘n gevangene aangehou om later aan die regering uitgelewer te word. 

Saans het hy by die boer in die wa geslaap, maar een nag het hy vir Engelbrecht met sy eie skeermes keelaf gesny. Met Engelbrecht se wa en besittings het hy vir’n ruk langs die rivier op en af beweeg en eindelik aangesluit by Jager Afrikaner se rowerbendes. 

Ons weet dat Afrikaner oor ‘n wye gebied geroof het, geplunder en gemoor en heeltemal ‘n skrikbewind gevoer het. Volgens Lovett sou Afrikaner sy gevangenes aan bome vasgemaak en hul tonge uitgesny het om so die nodige vrees te verwek. 
Jager Afrikaner
Volgens oorvertelling het Afrikaner ‘n nes by Skanskop gehad en waarskynlik was Stephanus toe een van sy trawante, want Barrow vertel dat Stephanus sy vorige gemeente kom besoek het en toe het hulle baie swaar deurgeloop met hom nou as leier van die aanvallers.

Ons kan aanneem dat hy homself heeltemal te buite gegaan het in sy nuwe werkkring, want hy is vermoor terwyl hy nog lid van die bende was.

Volgens beskrywings en veral volgens Moffat se kaart moes Stephanus se tempel aan die voet van Blousekop gestaan het. Daar is egter geen skriftelike bewys dat die klipmurasie wat vandag nog daar staan wel die tempel was nie. 

Volgens oorvertelling het mnr Jan van Niekerk, die eerste eienaar van die plaas, in hierdie klipgebou gewoon terwyl hy nog vir Blousekop en die omliggende gronde gepag het onder die ou pagstelsel. Eers nadat hy die grond gekoop het, het hy ‘n steenhuis gebou waarvan die fondamente nou nog bestaan. Die klipgebou bestaan uit twee dele waarvan die een deel duidelik teen die vorige bestaande deel aangebou is. 

Die mure is van opgestapelde klip met rivierslik tussenin omtrent soos wat die boere vroeër jare hulle beeskrale gebou het. Die eerste deel het slegs drie mure en is oop aan die een kant, moontlik Stephanus se kerk wat hy net herstel het sê as pakplek. Die tweede deel het ‘n deur en venster gehad en moontlik het Jan van Niekerk dit aangebou as woonvertrek. 

Deur: A.K. Cornelissen. Alwyn het hierdie geskiedenis in die 1970's aangeteken.
Hierdie is die mees digbevolkte besproeiingsgebied van ons land met die droë kalkvlaktes van Kenhardt en Boesmanland na die suide en die sandduine van die Kalahari na die noorde.

Vir my as geoloog is dit ‘n gebied van oorsaak en gevolg, van waarneem en interpreteer en dan na alles die gebied waar ‘n mens jou medemens kan dien om ten volle mens te wees. Kyk na die sweetkolle op die hemp van arbeider, kyk na die kameeldoringboom en wonder hoe oud hy is, kyk na die kalkvlaktes en wonder hoe het dit ontstaan en dan eers as jy weet dat jy min weet sal dinge waarde kry, en eers as jy raaksien sal jy sien hoe baie hier is om te sien.

Hier is die sewestêr en die suidekruis snags helder, want hier is die lug skoon. Hier was die pioniers natuurmens en ons bring hulde aan hulle wat ons voorgegaan het.
Verwysing: Wollie Burger
Saamgestel: Johan Swart. Beelde bygevoeg vir duidelikheid.
Naslaan Verwysings:
https://en.wikipedia.org/wiki/Jager_Afrikaner