Die storie van die Boegoeberg Dam

In Desember 1938 het die herboude Voortrekkerwa, die Johanna van der Merwe, naby die teenswoordige Groblershoop oorgestaan op pad na die groot Geloftefees in Pretoria.

Saam met hulle Gelofteprogram het die omgewing se mense van 'n klomp klippe 'n monumentjie opgerig, wat vandag verlate langs die pad Upington toe staan.

Hierdie klippe is vier jaar vantevore daarheen gedra vir die amptelike opening van Boegoebergdam en sy kanaal waaruit 4 000 hektaar besproei word.

Die monumentjie gedenk die armblankes wat met pik en graaf kom dam bou het vir 'n karige loon en die kans om dalk een van die besproeiingserwe van sowat ses hektaar te kon koop.

Dis nie van luiheid, slegtigheid of gebrek aan prestasie wat die mense arm was nie. 'n Lang rits vernietigende terugslae het hulle ellende veroorsaak:

Die runderpes van 1896, die Engelse se vernietigingstog van die Tweede Vryheidsoorlog, die bek-en-klouseeruitbraak, die wêrelddepressie van 1929 en die groot droogte van die vroeë negentien-dertigs.

Armblankes het die kans aangegryp om by Boegoeberg met uitmergelende werk 'n hongerloon te verdien.

Geen vermetele "we demand" nie; geen neiging na misdaad nie; geen grype na die vrug op andere se arbeid nie; geen geweld, bandeloosheid of veragterliking nie.

In die grootste ellende het hulle hulle beskaafdheid, hulle waardigheid, hulle geloof en hulle strewe na selfverbetering en hoër waardes behou.

Die magtige Oranjerivier is met die hand getem. Fondasies is met die hand gegrawe. Dinamietlaaigate van tot twee meter diep is met die hand in die rots geboor. Koekepanne met sand en beton is met die hand gestoot.

Skaars, troebel, vuil water is ver met die hand aangedra. Wanneer die rivier droog was, is gorras in die bedding gegrawe.

Kinders so jonk as nege jaar het, na 'n dag se harde werk sonder hoed of skoene in die skroeiende son, saans by olielampies, gemaak van blikkies met pitte van 8stukkies lap, geleer. Uit die ellendige omstandighede het een van Boegoebergdam se dogters die nasionale Bybelkenniseksamen gewen.

Niks is verniet gekry nie. Hulle moes self skoolmeubels prakseer van blikke en afvalplanke.
Elke dingetjie wat die staat gegee het is noukeurig aangeteken en van die werkers se gasie afgetrek. Kinders het hase, tarentale en duiwe gejag en vis gevang sodat hulle gesinne kon oorleef.

Humor het die verarmde mense met hulle bloeiende hande help staande bly. Verhonger en met soms skaars genoeg water om te drink, het hulle die geestige ironieboodskap die wêreld ingestuur:

"Boegoeberg se dam is 'n doodlekker dam.
Dis daar waar die meisies hulle hare was en kam.
Glasies word geklink as ons vaaljapie drink.
Boegoeberg se dam is 'n doodlekker dam."

'n Volk met so 'n humorsin kán nie verloor nie. 'n Volk met soveel veerkrag, daadkrag, werkkrag en geloofskrag móét voortbestaan waar ander eerloos sal vergaan.

Boegoeberg bewys weer:
Die Boerevolk se welvaart, waarop andere vandag so gierig aanspraak maak, het nie uit die lug geval nie. Dit is verwerf met opoffering en harde werk.

Laat ons dankbaar wees om lede van 'n trotse, eerbare volk te wees wat homself uit die ellende kan werk en presteer . . . en laat ons die kan-nie-verloorgees van ons voorsate voortsit.
DEEL GERUS MET AL JOU CHRISTEN BOERE SUID-AFRIKANERS. Mooi loop . . .

(Van n Engelssprekende landgenoot ontvang)
Deur: Jan C Greyling
Facebook: Geskiedenis & verhale van die Boerevolk by https://www.facebook.com/groups/1983902131850765

Dankie Wollie Burger vir die verwysing.

Verwante stories oor Boegoeberg Dam.
https://www.namahariplaasmark.com/2021/10/boegoebergdam-leeg-gemaak-vir-onderhoud.html
https://www.namahariplaasmark.com/2021/10/boegoebergdam-en-kanale-ons-onthou-jul.html