Boegoebergdam en kanale - ons onthou jul opofferings (SE Groblershoop 35km)

Boegoebergdam

Daar was al sedert die jare 1872 gedink om n dam tussen Prieska en Upington te bou, maar geld was skaars. Dit was weer aangeroer in 1895, en in 1904, en weer in 1907. Uiteindelik in Mei 1929 het die bou van die dam begin.

1929 was ook die begin van die wereldwye depressie. Boonop was Suid Afrika geteister deur n groot droogte, die uitbreek van bek-en-klouseer, die sluiting van baie De Beers myne. Dan het boere ook nog die nagevolge van die runderpes gehad. 

Die bou van die dam was met pikke, grawe, kruiwaens, donkies en muile gedoen. Die sluise was byvoorbeeld van Draghoender aangery met donkies wat die waens gesleep het. Draghoeder was die naaste spoorwegstasie sowat 65km ver.

Party van die werk het in dag en nagskofte plaasgevind. Betaling was min en daar was geen verskil tussen dag en naglone nie. Daar was selfs mense wat gewerk het net om kos op die tafel te kry. Kinders moes ook naskool werk aan byde die dam of kanaal, meestal sonder skoene in die koue en dan weer in die warm son.

Die dam was uiteindelik in 1933 klaar gebou en in 1934 het die eerste water in die kanaal gevloei.

Kanaal

In 1925 het boere in die Karos area reeds n uitkeerwal gebou wat in n kanaal geloop het wat hulle gebou het. Die Boegoeberg kanaal het in 1933 by die Karos kanaal aansluit. Die Boegoeberg kanaal se afloopwater was na die Karos kanaal gelei.

Oorspronklik was die kanaal n grondkanaal. Met die opening van die kanaal in 1934 het Bertie van Schalkwyk en Schalk van der Merwe saam met hoogwaardigheidsbekleers vooruit in die kanaal geloop, voor die water.

Dit was n groot geleentheid en almal moes een klip saamdra om by die kanaal eindpunt n klipstapel te maak. Die geleentheid het tussen Wegdraai en Groblershoop plaasgevind, onder haakdoringbome by n droe vlei. Hier sou n gedenkteken opgerig word.

In 1938 word n Eufees van die 1838 ossewa-trek hier op dieselfde plek gehou. Die alombekende ossewa, Johanna van der Merwe neem deel aan die Eufees. Die klippe wat in 1934 tot hier aangedra was word gebruik om n gedenkteken op te rig. Eerstens vir die opofferings wat gemaak was met die bou van die dam en kanaal, en tweedens n Eufees gedenkteken 1838 tot 1938.

Daar staan ook n gedenkteken by die Oranje Rivier Kelders.   

Dit was eers gedurende die 1950's dat die kanaal uitgesement was. Die Boegoeberg en Karos kanaal was verbeter en verleng om so 1 kanaal te vorm. Voor die bou van die groot opgaardamme (Gariep & Vanderkloofdam) moes die boere elke winter een werker afstaan om die kanaal skoon te maak. Slik was n groot probleem en was party plekke tot n meter diep.

In die jare 1965's was daar pype aangele na die oorkant (Noorde) van die Oranjerivier sodat besproeiing ook daar kon begin plaasvind. 

Die Gariep nedersetting het onder andere toe aan die Noorde kant van die rivier ontstaan. Perderesies was een van die sport instellings gewees in Groblershoop. In die tagtiger jare het dit verskuif na Gariep. Kobus van Heerden het my eendag die spesifieke plek gaan wys waar hierdie perderesies plaasgevind het. Dit is op Duin-in-die-Weg se wildsplaas gelee.

Kanaal sluise is later aangele om die besproeiing te vergemaklik. Oorspronklik was kanaal en sluis inspeksies gedoen met behulp van amptenare op fietse. Elke inspekteur was verantwoordelik vir so om en by 7 sluise, wat met slotte toegemaak was. Dit was die persoon se verantwoordelikheid om slotte oop te sluit soos die lybeurte dit bepaal het.

Vandag sien jy iemand op n 100cc motorfiets, wat verantwoordelik is en inspeksies doen vir om en by 50 kanaal sluise. Daar is nie meer slotte aan die sluise nie. Daar is n vertrouens verhouding met die boere. Maar stewige boetes word uitgegee sou iemand nie by die lybeurt skedule hou nie. Volgens n sekere oppervlakte besproeiingsgrond word jou waterreg geransioneer. Daar is wel stewige kostes vir die watergebruik.

Die kanaal was oorspronklik 172km lank en het uiteindelik by Sultana Oord in die rivier uitgemond. Met die 1966 droogte het self die kanaal drooggeloop. Water het eers weer gedurende November 1966 daardie jaar weer geloop, met die gevolg dat daar nie oeste was nie.

Die besproeiings oppervlaktes

Teen die rivier was daar bome, rotse, slik duine en diep slote. Met swoeg en sweet was die werk gedoen met die gelykmaak proses. Boere kon aansoek doen vir proefhuur as hulle n stuk grond ontbos en gelykgemaak het.

Voor daar nog water in die kanaal gevloei het was dit n stof wereld. Soms so erg dat onder die tafeldoek geeet moes word. Soms moes die boere met middag-ete lig opsteek soos die stof deur die lug getrek het. Water moes met moeite uit die rivier gaan haal word.

Met die gelykmaakproses het baie van die dooie grond op die oppervlakte gele. Baie van die boere was ook oorspronklik veeboere en het dus nie baie ondervinding van gewasse gehad nie.

Die rivier

In daardie jare was die benede Oranje rivier meer oranje as vandag. Die meerderheid slik bly deesdae agter in die Gariep, Vanderkloof en Boegoebergdam.

Daar is n paar aantekene van kere toe die Oranje rivier gestaan het. Een van die is aangeteken in die area gedurende 1937. Jy het 1 beker water gehad om jou mee te was. Dis water moes gekook word vir drinkwater.

In 1966 het die rivier ook gestaan. Daar kon mense met motors oor die rivier ry. Op ander tye moes jy per pond oor die rivier ry.

Wanneer die rivier weer begin afkom het was daar baie slik en modderwater. Afgesakte water moes uit emmers en baddens geskep word om van die meeste slik ontslaai te raak. Die bekendste onlangse vloede was in 1969, 1974 en in 1988. Landerye was deur hierdie vloede verwoes. Die staat het sederdien vloedwalle gemaak op strategiese plekke om toekomstige moontlike vloede te beheer. 

Persele & grond

Daar is uiteindelik 1016 persele onder die Boegoebergskema uitgele. Hier is n paar voorbeelde wat ek by die OWK Grootdrink opgespoor het.

Hier is een van die skemahuise as voorbeeld, by Vollgraffsig. Die stoep was nie oorspronklik daar nie.
Daar was streng voorwaardes sou jy in aanmerking kom vir proefhuur vir n 2 jaar periode. Jy moes ook dan voorgeskrewe gesaaides aanplant, en as jy daarvan afgewyk het, het jy doodeenvoudig jou proefhuur grond verloor. Daar was gereeld inspekteurs wat inspeksies kom doen het en was glad nie populer by die proefhuurders nie.

Die voorskrif was 1,7ha sultanas en 1,7ha lemoen en perskebome. Geen ander manlike persoon bo 18 mag op die hoewe bly nie. Self nie eens jou eie seun nie.

Na 2 jaar was die grond permanent aan jou toegeken, alhoewel jy dit nog steeds moes huur van die staat. Dit was nog steeds in staatsbesit. Jy kon toe eers plant wat jy wou.

Die oeste moes eers by die staat ingehandig word sodat die onderhoud, huur en ander skuld afgetrek kon word. Die donkies het byvoorbeeld ook aan die staat behoort. Die staat het boontjies en mielies aan die boere verskaf vir die donkies. In meeste gevalle het dit so moeilik gegaan dat die boere van die kos moes opkook en eet om aan die lewe te bly. Daar was selfs koffie van witgatbome se wortels gemaak.

Dit was eers in die 1940's dat die boere die grond kon koop. 

Daar is sowat 700 skemahuise teen die kanaal af gebou. Baie van hulle word vandag nog steeds bewoon. Die bouers het hulle in n paar dae se tyd opgerig. Die oorspronklike huise was ongepleister, sonder vloere en geen toilet of bad.

Later was van die vloere met beesmis gesmeer. Party het later sementvloere gekry. Baie van die oorspronklike huise is aan aangebou, party met stoepe.

Voortuitgang

Boere het baie min regte gehad. Boere was byvoorbeeld nie toegelaat om verenigings to he nie. Sou jy een wou begin, dan het jy jou grond verloor. Gelukkig het dinge verander.

In die 1970's het Oranje Rivier wynkelders 5 wynkelders begin bou. Daar was min aanmoediging van die ander wynstreke van ons land en het hulle blykbaar te kenne gegee dat hier net palmietsap uit sal kom. Binne 10 jaar het die OWK die 2de grootste wynkelder ter wereld geword en was selfs op n stadium aangewys as die kampioen witwynstreek.

Die saltana bedryf vir die buitelandse mark kom toe by. Uitvoerdrywe kom aan lyn. In 1976 word ESKOM krag beskikbaar in die distrik.

In die laat 1970's kom die Sishen - Saldana spoorlyn.  

Opofferings

Wollie Burger se opmerkings. Boegoeberg se dam se ontstaansgeskiedenis is nou verweef met die Groot Depressie en die 1933 droogte. As besoekers vandag nog die dam besoek en weet waar om te kyk is die tekens daar van die mense wat die dam en die besproeiingskema help ontwikkel het.

Op pad na die dam kan van die name van manne wat met graaf, pik, voor pen en hamer die klippe gebreek het om die kanaal te grawe.

Name en voorletters soos die manne dit self op die rotse aangebring het. MC Boshoff; H v Wyk ; C.J.S. ; J.H. Fourie; H.F. en die Roets Gang Started 2 Aug. 29.

Anderkant die dam is die begraafplaas van mense wat gedurende die bou van die dam daar gesterf het en die groot getal kindergraffies is ’n herinnering aan mense se beproewings en offers.

Die dam is eitlik ’n monument vir die mense wat dit alles tot stand gebring het.

Foto's van die Eufees geleentheid.
Hier is n voorbeeld van n Doop Register uit die 1938's

Huidige kanaal en pyplyn stelsels

Hoe die kanaal en pyplyn stelsels huidiglik al uitgebrei het in die laer Oranje rivier.

Oorsprong Deur: Wollie Burger

Saamgestel deur: Johan Swart. Dankie Wollie Burger vir al jou bykomende inligting & foto's wat gely het tot hierdie artikel. Dankie Kobus van Heerden vir ander waardevolle inligting. Orange Senqu River Commission. 

Jy kan ook na die artikel kyk toe die Boegoebergdam onlangs leeggemaak was vir onderhouds werk.

Ander inligting stukke:

"Boegoebergdam se mense" deur Lokkie van Zyl  het n hele stuk geskiedenis bymekaargemaak. Onder andere beskikbaar by Kalbas Padstal. Uitgegee deur Boegoeberg Waterverbruikersvereniging. Tel: 054 841-0002

"Van Plaas to Parlement" deur oorlede Japie van Wyk. Met ons intrek hier het Japie nog die boodskap in die boekie vir ons nagelaat. Oom Japie was onder andere die Minister van Waterwese en Omgewingsake. 

Hy was betrokke by baie water projekte in Suid Afrika, maar ook in die Noord Kaap distrik. Met jare se gesukkel het hy onder andere die aan n voorleggings komitee gese "Voorsitter, jy kan my meer oortuig van die geweldige kostes, maar van water sal jy my niks vertel nie"