Besproeiing & Boegoeberg/Karos verwante geskiedenis

“Boegoeberg se dam is ‘n baie lekker dam. Dis daar waar die meisies hulle hare was en kam...”

Die Boegoeberg – Karos besproeiingsgebied dateer uit die jare 1926 tot 1932 toe pogings aangewend is om die werkloosheidsprobleem te verlig by wyse van die Staat se droogte-lenings onderstandswerke. By Boegoeberg is opmetings reeds in 1895 gedoen, maar werksaamhede het eers in 1906 begin en is weer in 1907 gestaak weens ‘n gebrek aan fondse. Eers in 1928 is weer aandag daaraan gegee.

By Karos het die Nil Desperandum-sindikaat tot daadwerklike besproeiing oorgegaan met die bou van ‘n keerwal sowat 400 treë bokant die Swarkop-Wilgenhoutsdrifgrenslyn en ‘n kanaal wat erwe by Karos, Rooikoppies en Witklip kan besproei. 

Die vloed van 1925 het die damwal en twee kilometers van die kanaal verwoes. ‘n Nuwe dam is op Staatsgrond beplan en met die Departement van Waterwese is onderhandel wat daartoe gelei het dat die Staat £5 000 bygedra het en die dam volgens Waterwese se spesifikasies gebou is. 

In Maart 1928 is die dam aan die Staat oorgedra en daarna is die Sindikaat ook uitgekoop. In 1928 is ook weer met die Boegoebergdam begin sodat die werkery by Karos en Boegoeberg onder een Superintendent geplaas is en by hierdie hele onderneming was 434 blanke arbeiders in diens. In 1931 is die Boegoebergdam voltooi en in Maart 1933 het die kanaal by die Karoskanaal aangesluit.

In die jare 1932 tot 1939 is 943 nedersetters langs hierdie kanale geplaas op hoewes van 5 ¾ tot 8 morge (sê 5 tot 7 hektaar). Sowat 700 skemahuisies is gebou teen £189 tot £255 elk. Proefhuurder is by okkupasie van uitrusting voorsien asook ‘n onderhoudstoelaag van £2 - £5 per maand plus 12/6 (Sjielings) per kind tot hoogstens £5.7.6 per maand. Hierdie toelae is deur die huurder uit sy oes terugbetaal.

Hierdie oeste is aan die Staat oorhandig vir bemarking en na aftrekkings het die huurder sowat 75% uitgekry. Eers in die laat veertiger jare kon die huurders by wyse van lenings die gronde van die Staat koop.

Mnr JH Compaan vertel dat hy as grofsmid Staatseiendom moes nasien met sy smidswinkel omtrent waar die Hoërskool van Groblershoop nou staan. Volgens hom het die blanke werkers in ‘n soort van plakkersdorp gewoon en soos die kanaalgrawery vorder het die dorpie verskuif en ‘n sinkskool geboutjie het saam geskuif. 
Hier is een van die skemahuise as voorbeeld, by Vollgraffsig. Die stoep was nie oorspronklik daar nie.
Die blanke gesinne het veral naby die skool gewoon in kaias van pale en dwarslatte met sak bedek. Vervoer was per donkiekar. Kanaalgrawery onder die Ingenieur A Slakson het geskied by wyse van vlae wat die posisie aandui en groepe werkers op kontrakbasis het stukke van 50 na 100 treë gekry volgens die tipe grond. 

So ‘n groep het uit 20 – 30 man bestaan en met grawe, pikke, hamers en bore is die grond uitgehaal en met bakkieskraper deur muile of donkies getrek, is los grond verwyder of aangebring. Erwe is ook op kontrak uitgegee om bome te verwyder of gelyk te sleep. Duine van sowat drie meter hoog en bestaande uit slik en sand was as die vaalduine bekend en moes geskraap en gespoel word om af te werk.

Verder volgens mnr Compaan is die erwe vir ‘n proeftydperk van drie jaar uitgegee en mnr Brink die Superintendent het maandeliks besoek afgelê. Volgens sy aanbevelings is die akkers afgetree en met ploeg en donkies is walle getrek; hy het ook aanbeveel wat geplant moes word. 

Eerstens natuurlik koring, mielies en boontjies vir kos. Melkbokke en koeie is soms deur die Staat te koop aangebied. Die skemahuisies was gewoonlik net buite afgepleister en binne moes die erfhouer self die vloer insit en pleister, maar die mense was dankbaar vir ‘n dak oor die kop. Verarmde veeboere het erfboere geword en die groen besproeiingsvallei van vandag getuig van die sweet van mense wat bitter arm was.

Deur: A.K. Cornelissen. Alwyn het hierdie geskiedenis in die 1970's aangeteken.
Hierdie is die mees digbevolkte besproeiingsgebied van ons land met die droë kalkvlaktes van Kenhardt en Boesmanland na die suide en die sandduine van die Kalahari na die noorde.

Vir my as geoloog is dit ‘n gebied van oorsaak en gevolg, van waarneem en interpreteer en dan na alles die gebied waar ‘n mens jou medemens kan dien om ten volle mens te wees. Kyk na die sweetkolle op die hemp van arbeider, kyk na die kameeldoringboom en wonder hoe oud hy is, kyk na die kalkvlaktes en wonder hoe het dit ontstaan en dan eers as jy weet dat jy min weet sal dinge waarde kry, en eers as jy raaksien sal jy sien hoe baie hier is om te sien.

Hier is die sewestêr en die suidekruis snags helder, want hier is die lug skoon. Hier was die pioniers natuurmens en ons bring hulde aan hulle wat ons voorgegaan het.
Verwysing: Wollie Burger
Saamgestel: Johan Swart. Beelde bygevoeg vir duidelikheid.
Naslaan Verwysings:
Boegoebergdam en kanale - ons onthou jul opofferingsBoegoebergdam leeg gemaak vir onderhoud - Junie 2021