Spookdorp - Sydney on Vaal (Delportshoop)

Die spookdorpie Sydney on Vaal, ‘n ou, klein delwersdorpie wat op die oewers van die Vaalrivier naby Delportshoop en Barkly-Wes geleë is.

Die dorpie is in 1902 deur die Vaal River Diamond Exploration Co Ltd begin. Die besturende direkteur van hierdie maatskappy in 1902 was Sydney Mendelssohn en die dorp is na hom vernoem. Hy was die seun van Meyer Mendelssohn, die eerste Joodse rabbi wat in 1878 na Kimberley toe verhuis het.
In 1906 het hierdie delwersdorp oor ‘n mark, poskantoor, biblioteek, stadsaal, hospitaal en ‘n Vrymesselaarslosie beskik. Die bekende argiteksfirma Timlin en DW Greatbach het die kerk ontwerp. Beide Standard en Barclays Bank het destyds takke op Sydney on Vaal gehad.
Van die rykste diamantvondste is in 1902 hier ontgin. Meer as 66 730 karaat diamante is destyds binne ‘n tydperk van 18 maande hier uitgehaal.

Sydney Mendelssohn, die stigter van New Vaal River Diamond Company, het die geskiedkundige Mendelssohn-biblioteek vir die delwersgemeenskap hier op die been gebring. Dié biblioteek het in 1934 oor meer as 20 000 boeke beskik. Die Mendelssohn-biblioteek se susterbiblioteek wat ook deur Mendelssohn gestig is, is vandag nog in die Parlementsgebou in Kaapstad in gebruik.

Vandag is Sydney on Vaal die eiendom van die alombekende diamantdelwer Chris Potgieter en word hierdie spookdorpie met deernis in stand gehou. Dit is voorwaar die juweel van die Noord-Kaap se spookdorpe. Die pragtige ou delwersgeboue staan vandag nog pragmooi en pronk op die walle van die Vaalrivier.

Deur: Jan van der Merwe

Al hierdie verhale kan in Jan van der Merwe se Die Noord-Kaapse dorpe gelees word. Dit is ‘n pragtige koffietafelboek wat die ontstaan- en naamgeskiedenis van 220 Noord Kaapse dorpe en ander plekke bespreek. Die boek bevat ook pragfoto’s. Dit was R850, posgeld uitgesluit.

Ander Verwysings: