Spookdorp - Putsonderwater (E Kenhardt 75km)

 
Die Noord-Kaap beskik vandag oor nagenoeg 10 spookdorpe. ’n Spookdorp is ‘n dorp wat vroeër ‘n lewendige gemeenskap gehuisves het, maar wat sedertdien ‘n stildood gesterf het, en al wat oorgebly het van hierdie eens pragtige dorpe is ‘n paar ou murasies en ‘n begraafplaas.

Burgerville, Deelfontein, Draghoender, Grootmist, Platbakkies, Sydney on Vaal, Putsonderwater, Koegas, Volop en Wallekraal is almal Noord-Kaapse spookdorpe.

Putsonderwater:
n Ander spookdorp in die Noord-Kaap is Putsonderwater. ‘n Ou bruin man, Dawid Ockhuis, het kort na 1880 daar ‘n put gegrawe. Sy seuns, Hans en Gert, het hom gehelp en hulle het ‘n goeie voorraad vars water oopgegrawe. 

Die put was baie belangrik in ‘n streek waar trekboere ver ente van die een waterplek na die ander in die droogtetye moes aflê. Ockhuis het besef dat as hy met sy water spog, hy maklik van sy plaas afgedruk kan word, want grond was toe nog heeltemal vry en baie min het ‘n wettige grondbrief gehad.

Gevolglik het Ockhuis vir elke trekboer wat daarlangs kom, gesê: “Ja, meneer, ek het ‘n put, maar dit is ‘n put sonder water.” Op dié manier het Ockhuis die plaas nog ‘n hele paar jaar behou totdat dit in 1886 aan Peter Connan, ‘n Skotse winkelier van Draghoender, verpag is. 

Ockhuis moes trek en Connan en sy vennoot, Liebenberg, het die plaas van 20 000 morg ‘n paar jaar later vir £9 000 gekoop. Die put wat Ockhuis en sy seuns gegrawe het, was vir jare die perseel van ‘n pompstasie wat die dorp Putsonderwater en die spoorweg lokomotiewe van water voorsien het.
Putsonderwater was vroeër jare die spoorwegstasie vir Kenhardt, wat 80 km verder wes lê. 

Vandag is dit ‘n spookdorpie. Al die geboue staan verlate. Die Kaap-Windhoek-spoorlyn snel daar verby en die trein stop helaas nie meer op Putsonderwater vir water nie. Alles op Putsonderwater is vandag grafstil en die geboue staan verwese onder die Afrika-son en bak.

Deur: Jan van der Merwe

Al hierdie verhale kan in Jan van der Merwe se Die Noord-Kaapse dorpe gelees word. Dit is ‘n pragtige koffietafelboek wat die ontstaan- en naamgeskiedenis van 220 Noord Kaapse dorpe en ander plekke bespreek. Die boek bevat ook pragfoto’s. Dit was R850, posgeld uitgesluit.

Ander Verwysings: