Spookdorp - Deelfontein (SW De Aar 45km)

 
Die Noord-Kaap beskik vandag oor nagenoeg 10 spookdorpe. ’n Spookdorp is ‘n dorp wat vroeër ‘n lewendige gemeenskap gehuisves het, maar wat sedertdien ‘n stildood gesterf het, en al wat oorgebly het van hierdie eens pragtige dorpie is ‘n paar ou murasies en ‘n begraafplaas.

Burgerville, Deelfontein, Draghoender, Grootmist, Platbakkies, Sydney on Vaal, Putsonderwater, Koegas, Volop en Wallekraal is almal Noord-Kaapse spookdorpe.

Deelfontein:
Deelfontein lê soos ‘n bonkige litteken op die Karoo se voorkop. Vroeër jare was daar ‘n spoorweghalte en ‘n klein stasie. Hierdie stasie was geleë tussen Hutchinson en De Aar, maar in 1889 het ‘n Russiese Jood, Elias Adamstein, daar ‘n hotel opgerig.
Adamstein het in 1880 vanaf Litaue na Suid-Afrika geïmmigreer, brandarm, maar het danksy die uitvoer van volstruisvere, ‘n fortuin gemaak. In sy dae as volstruisveresmous het hy gereeld oorgebly by JD Logan se plaashotel op Matjiesfontein.

Adamstein het baie van die idee van ‘n plaashotel gehou en het in 1889 vir hom ‘n stuk grond op Deelfontein gekoop. Daardie jare het die grondpad wat De Aar, Victoria-Wes en Richmond verbind het, by Deelfontein verbygeloop. Dit was ‘n besige roete gewees vir beide kar en trein.

Adamstein se Deelfontein Hotel was uit die staanspoor ‘n reuse sukses gewees. Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog het die Engelse later daar langs die hotel ‘n groot hospitaal opgerig. Adamstein het uit simpatie met die Engelse soldate sy hotel se naam verander na The Hotel Yeomanry.

Sy hotel het lank na die Anglo-Boereoorlog bly voortbestaan. Later jare is daar ook ‘n poskantoor en winkel op Deelfontein gevestig. Met die bou van die N1-roete tussen Johannesburg en Kaapstad het die verkeer helaas nie meer by Deelfontein verby geloop nie en het eers die hotel, toe die winkel, en later ook die poskantoor hulle deure êrens in die laat 1980’s gesluit. 

Vandag is wat eens die pragtige Hotel Yeomanry was, bloot ‘n vervalle murasie en Deelfontein ‘n godverlate spookdorp.

Deur: Jan van der Merwe

Al hierdie verhale kan in Jan van der Merwe se Die Noord-Kaapse dorpe gelees word. Dit is ‘n pragtige koffietafelboek wat die ontstaan- en naamgeskiedenis van 220 Noord Kaapse dorpe en ander plekke bespreek. Die boek bevat ook pragfoto’s. Dit was R850, posgeld uitgesluit.

Ander Verwysings: