Spookdorp - Burgerville (E De Aar 38km)

 
Die Noord-Kaap beskik vandag oor nagenoeg 10 spookdorpe. ’n Spookdorp is ‘n dorp wat vroeër ‘n lewendige gemeenskap gehuisves het, maar wat sedertdien ‘n stildood gesterf het, en al wat oorgebly het van hierdie eens pragtige dorpie is ‘n paar ou murasies en ‘n begraafplaas.

Burgerville, Deelfontein, Draghoender, Grootmist, Platbakkies, Sydney on Vaal, Putsonderwater, Koegas, Volop en Wallekraal is almal Noord-Kaapse spookdorpe.

Burgerville:
Nog ‘n spookdorp in die Noord-Kaap is Burgerville. Dié vroeëre dorpie is op die N10-roete, sowat 30 km vanaf De Aar op die pad na Hanover. Die dorpie is op 25 Januarie 1879 uitgelê op die plaas Zevenfontein. Zevenfontein was onderverdeel. Nr 1-gedeelte het behoort aan Barend Burger en nr 2-gedeelte, waar Burgerville ontstaan het, aan J Viljoen. Die dorpie is na Barend Burger vernoem.
Daar is ‘n sindikaat deur Diederik Jooste van Bloemhof en sy seun Frikkie, daardie tyd prokureur te Philipstown, gevorm. Aandele van £100 elk is uitgereik en omliggende boere en dorpsbewoners het dit gekoop. Erwe is toe opgemeet en verkoop. Op water erwe was daar ‘n rekonie van £2 en op droë erwe £1.

Die mense was toe in rep en roer en huise is gebou en tuine aangelê. Ploegvore is langs die strate getrek en bome is geplant en binne ‘n paar jaar was dit groot bome, want die grond daar was baie vrugbaar. Vandag is daar niks meer van te sien nie.

Tesame met die opmeting van die dorp het gerugte versprei dat daar diamante op Burgerville gevind is en ook dat die moontlikheid bestaan dat daar fabrieke sou opgaan. Maar dit was alles wolhaarstories. Sowat 30 huisgesinne het hulle daar gevestig en daar is selfs met ‘n skool begin.

In 1933 was die waterposisie in De Aar sodanig dat die inwoners hoofsaaklik van windpompe afhanklik was. Die enigste opsie was om Burgerville se ryk watervoorrade vir De Aar op te koop. Wat hulle dan ook gedoen het. 

Die tragiese gevolg was dat Burgerville in die versengende Karoo hitte ‘n dors dood gesterf het.

Deur: Jan van der Merwe

Al hierdie verhale kan in Jan van der Merwe se Die Noord-Kaapse dorpe gelees word. Dit is ‘n pragtige koffietafelboek wat die ontstaan- en naamgeskiedenis van 220 Noord Kaapse dorpe en ander plekke bespreek. Die boek bevat ook pragfoto’s. Dit was R850, posgeld uitgesluit.

Ander Verwysings: