Die Leeuvanger van Nossob - Elias le Riche (Koos Marais)

"By Nossob was daar n enkele tentjie waarin Elias gebly het. Uit hierdie hoof-kwartiere het hulle hul werk verrig. Elias het ondermeer die Nossob infrastruktuur, die noordelike paaie, boorgate ensovoorts gebou en onderhou. Behalwe dit moes hulle ook met stropers deel."
April 2021.
Skielik raak dit moeilik om die gepaste woorde te vind. Vir maande, wat soms soos dekades gevoel het, het ek woorde aanmekaar getimmer om die lewe van Die Leeuvanger van Nossob, Elias le Riche, te verewig. 

Vanmiddag het ek in Upington aangekom om die resultaat van hierdie taak aan die legendariese natuurbewaarder te oorhandig. Ek het reeds vroeër die week die eerste besending van die boeke ontvang, maar ek het die aankondiging teruggehou tot nou toe. 

Die Nasionale Kalahari-Gemsbokpark is in 1931 gestig met Johannes le Riche as eerste parkhoof. Na sy dood in 1934 het sy broer Joep hom opgevolg. Vir 36 jaar het hy die Park gedien. In 1970 volg sy seun Stoffel hom op en na Stoffel se dood in 1980 word Joep se ander seun, Elias, die Leeuvanger van Nossob die parkhoof. 

Elias het reeds in 1963 as natuurbewaarder in die Park begin werk, onder die leiding van sy pa en ouer broer. Hy het die kamp Nossob van niks af begin. Hy het ook baanbrekerswerk op vele gebiede gedoen, onder andere die verdowing van leeus en ander diere. Vandaar die titel van die boek.

Dit was 'n voorreg om vir 'n jaar lank as't ware 'n ere-Le Riche te wees, om met oom Elias, sy kinders, tannie Doempie, 'n legende in haar eie reg, en sy vriende saam te werk om hierdie boek te skryf. 

Ek het 'n kykie gekry in die lewe van 'n merkwaardige familie mense wat 'n onuitwisbare merk op natuurbewaring in Suid-Afrika gelaat het. Dit staan as 'n onteenseglike feit dat die Kgalagadi Oorgrenspark nie in sy teenswoordige formaat sou bestaan het as dit nie vir die Le Riche familie was nie. 

Dit is makliker om net die storie te vertel as om hulle nalatenskap ordentlik te vereer. Daarvoor is woorde miskien nie genoeg nie, maar ek het probeer. Ek gaan nou vir twee weke in die Park ontspan en 'n paar boeke versprei. As besoekers my raakloop is hulle welkom om te gesels oor Die Leeuvanger van Nossob, Elias le Riche.
Deur: Koos Marais
Ander verwysings na Koos Marais:
Boek kan bestel word van kosiemarais@gmail.com
Sien Koos Marais kategorie heelonder vir verwante items

Boek: History of the Kgalagadi National Park