Die Spitskop Natuurreservaat - GESLUIT

Op 30 Oktober 1967 is 1113 ha onder beheer van die Munisipaliteit van Upington as ‘n natuurreservaat geproklameer. Die koppie het veral bekendheid verwerf met die rebellie toe die westelike flank van die rebelle van Spitskop af na die dorp beweeg het. 
Spitskop net noord van Upington
Kommandant Stadler is met hierdie aanval dodelik gewond en is na die plaashuis op Christiana vervoer waar hy oorlede is. Volgens oorvertellings is hy in die omgewing van Spitskop begrawe, en later op Kakamas herbegrawe.

Die koppie:
Warm graniet magma het uit die dieptes van die aarde opgestoot. Op verskeie plekke langs die toeristepad is nog graniet-massa wat weg verweer het en nou hoofsaaklik deur sand bedek is. Die alleen-koppie, ‘n inselberg of eilandberg, is ‘n tipiese vorm van verwering onder droë toestande. 
Met elke bietjie reën loop die water teen die koppie af en hou so die grond aan die voet van die koppie langer klam sodat rots verrotting aan die voet langer voortduur.

Die opeengestapelde voorkoms is die gevolg van verwering langs nate en krake. Sulke nate ontstaan deur interne drukverligting; diep in die aarde is ‘n rots onder hoë druk van alle kante af, maar soos die bolaag dunner word met verwering so verminder die druk en op ‘n dag kraak dit net oop. 

In myntonnels ontstaan so ‘n kraak soms met ‘n klapgeluid. As die nate eers daar is dan versamel dit reënwater en met chemiese verwering word die nate net groter en groter. Kortliks kom dit dan daarop neer dat Spitskop die produk is van verskillende vorms van verwering. 

Aan die voet van die koppie word by plekke besonder gladde oppervlaktes aangetref wat die gevolg is van windverwering en nie, soos soms beweer word, die skuurplek van diere nie. Sterk winde lig sandkorrels wat slaan en skuur tot ‘n besonder gladde oppervlakte. Diere skuur net op ‘n sekere hoogte en nie na aan die grond nie.

Gemsbokke, springbokke, elande, rooihartebeeste, sebras, kamele, blesbokke en volstruise word hier aangehou.

Deur: A.K. Cornelissen. Alwyn het hierdie geskiedenis in die 1970's aangeteken.
Hierdie is die mees digbevolkte besproeiingsgebied van ons land met die droë kalkvlaktes van Kenhardt en Boesmanland na die suide en die sandduine van die Kalahari na die noorde.

Vir my as geoloog is dit ‘n gebied van oorsaak en gevolg, van waarneem en interpreteer en dan na alles die gebied waar ‘n mens jou medemens kan dien om ten volle mens te wees. Kyk na die sweetkolle op die hemp van arbeider, kyk na die kameeldoringboom en wonder hoe oud hy is, kyk na die kalkvlaktes en wonder hoe het dit ontstaan en dan eers as jy weet dat jy min weet sal dinge waarde kry, en eers as jy raaksien sal jy sien hoe baie hier is om te sien.

Hier is die sewestêr en die suidekruis snags helder, want hier is die lug skoon. Hier was die pioniers natuurmens en ons bring hulde aan hulle wat ons voorgegaan het.
Verwysing: Wollie Burger
Saamgestel: Johan Swart. Beelde bygevoeg vir duidelikheid.
Naslaan Verwysings:
Gevegte, Oorlog & Veldslae - Die 1914 - 1915 Rebellie