Gevegte, Oorlog & Veldslae - Die 1914 - 1915 Rebellie

Na die Anglo-Boere oorlog en die boere se wrewel teen die Border Scouts, was die algemene gevoel sterk anti-Brits. Dat die mense pro-Duits was, is nie korrek nie – baie Afrikaners was self anti-Duits omdat President Kruger in Duitsland nie welkom was nie. 
Manie Maritz
Die samewerking tussen die rebelle en die Duitsers was hoofsaaklik terwille van wapens en selfs hier, om Scholtz se woorde te gebruik, was die verhouding nie van die intiemste nie. Genl Manie Maritz het wel deeglik met die Duitse goewerneur van Suidwes (Namibia) onderhandel (om wapens) en die Unie-regering het vir Maritz nie vertrou nie, terwyl die Duitsers hom ook nie vertrou het nie.

Die Eerste Wêreldoorlog het uitgebreek, Engeland teen Duitsland, en die Engelse het op see groot verliese gely as gevolg van radioboodskappe van senders op Swakopmund, Luderitz en Windhoek, en Louis Botha moes daardie radio-senders afvat. 
Jacobus Hercules de la Rey - Leeu van die Wes-Transvaal
Om hierdie rede moes die Unie-regering vir Suidwes inneem. Baie Afrikaners het dit as ‘n daad van verraad beskou; pleks van die Brits juk af te skud, help die regering dan vir Engeland. Hierdie gevoel is vererger met die dood van Genl de la Rey. 

Destyds was daar in Johannesburg die berugte Fosterbende wat geroof en skiet het op wie ookal in hul pad was. Die polisie het na so ‘n rooftog die paaie geblokkeer en ongelukkig was Genl de la Rey juis op ‘n geblokkeerde pad op weg na Potchefstroom. 

‘n Opslagkoeël van die polisie tref de la Rey se motor en word dodelik gewond. Hierdie daad is dadelik aan die Unie-regering se pro-Britse houding gekoppel en die ou Boere-generaals soos de Wet, Beyers, Kemp en Martiz was verbitterd. 

Kemp was toe in bevel van ‘n opleidingskamp te Potchefstoom en hy rebelleer. De Wet kom in opstand in die Vrystaat en Manie Maritz as hoof van die opleidingskampe in die Noordweste het net sy kans afgewag om ook in opstand te kom. 

Volgens Freddie Macdonald (Kalahari Mac) het hy as boodskapper gedien tussen Maritz en die Duitsers, en hy (Maritz) moes eers wag om te hoor wat in Transvaal gebeur. Verder het Maritz ook gewag vir die donkiewaens wat ammunisie vanaf Prieska sou vervoer.

Op hierdie stadium was Maritz op Upington met een kamp (by van Riebeech-koppie waar die pad oor die bult gaan na die industriële gebied) en ‘n tweede groot kamp op Soetap (Kakamas, omtrent waar die hotel nou staan). In hierdie kamp was sowat 1 100 jong manne uit alle dele van die Noordweste.

Coen Brits was alreeds op pad na Upington om vir Maritz te vervang en hy, Maritz, het die stadium bereik waar hy moes optree. Terwyl Maritz na die punt van optrede gedryf was, het sake langs die Suidwes-grens versleg. Boere na-aan die grens was beveel om een myl weg van die grens na die binneland te trek. 

Van hierdie boere het besluit om liewer oor die Oranje te trek, en het by Skuitdrif hul vee op vlotte gelaai om oor te trek. Hier het die eerste skietery tussen boere en Duitse polisie plaasgevind. 

Daarna volg struwelinge by Goodhouse en Ramansdrif, en ‘n aanval by Nakop waar twee polisiemanne Human en Visagie gewond is. Van Duitse kant besluit Kmdt von Heydebreck om die Uniemagte by Sandfontein aan te val, op 26 September 1914. Om nou nog Duitse wapens te kan bekom moet Maritz dus vinnig besluit.

Die rebellie word uitgeroep: Maritz se volgende stap word deur teenstrydige verhale beskryf. Kalahari Mac skryf dat Maritz sy Upington-kamp na Van Rooisvlei verskuif het met die doel om op 10 Oktober ‘n rebellie uit te roep. 

Daar word hy besoek deur ‘n sekere Mostert, onder die indruk dat andere dit ook weet, praat daarvan oor die Engelse masjiengeweerafdeling, Kapt Engelbrecht moes onmiddellik die Engelse offisiere in hegtenis neem en die masjiengeweer-poste deur rebelle laat vul. 

Maritz verduidelik toe sy rebellieplan en laat die burgers kies – hul volg hom of word geïnterneer en na Suidwes gestuur. Verder laat hy vir Upington weet van sy daad en trek op na Keimoes. Duitse kanonne sluit by hom aan, en toe die Unietroepe van Upington na Keimoes opruk verskuif Maritz na Kakamas. Van Kakamas af val hy dan vir Keimoes aan en word in hierdie geveg in die knie gewond en hy vlug na Skuitdrif.

Die ander verhaal is van mnr Piet Smit van Kakamas wat as Maritz se lyfwag opgetree het. Mnr Smit vertel dat slegs ‘n aantal van die verdedigingsmag se jong manne na Van Rooisvlei geneem is om die Duitse offisier Van Zastorw en lede van die Freikorps te ontmoet. (Die Freikorps was Afrikaanse vrywilligers in Suidwes). 

Hierdie ontmoeting, waar mnr Smit aanwesig was, was om die wapenkwessie en die uitroep van die rebellie te bespreek. Van Van Rooisvlei af het Maritz en Duitse offisiere na Keimoes getrek en hulle het in die sandlaagte onder die bome gekamp. Offisiere soos Stadler, Engelbrecht, Marais, en Hatting was aanwesig. 

Op die dak van ‘n platdak winkel van ene White het Duitse offisiere sowel as Rebelle-offisiere gestaan en die manskappe toegespreek, eers von Zastrow en daarna Maritz. Daar het Maritz die rebellie verduidelik en gesê dat diegene wat nie wou meedoen nie, eenkant moes staan om na Suidwes geneem te word. 

Daar het 36 man uitgestaan, en 11 rebelle waaronder mnr Smit moes hierdie 36 manne na Skuitdrif neem. Eindelik het hul net tot Namies getrek waar die 36 man aan Duitse wagte afgegee is. Die orige rebelle is van Keimoes na Kakamas en later na Skuitdrif waar hy, Smit, op Bysteek weer by Maritz aangesluit het.

Harm Oost se beskrywing gee die meeste besonderhede en klink dus korrek. Hy wys ook daarop dat ‘n geskil tussen Genl Smuts en Genl Maritz stelselmatig versleg het. Maritz wou bedank as hoof van die opleidingsmagte (en moontlik daarna in opstand kom) en Smuts wou die bedanking nie aanvaar nie, (maar het hom na Pretoria gelok, waarskynlik om hom dan in veilige bewaring te hou en so ‘n opstand te verhoed). 
Genl. Jan Smuts
Dit het so verloop: “Op 14 September 1914 beveel Smuts vir Maritz om die sterkste mag tot sy beskikking na Suidwes op te ruk om vir Genl Lukin te help, en hy stuur vir Maj Enslin om te dien as hoof van Maritz se staf. 

Maritz weer, ignoreer vir Enslin as ‘n spioen en laat hom op Upington in die hotel bly. ‘n Volgende bevel van Smuts was dat Maritz na Pretoria moes kom en die bevel aan Enslin moes oordra. Hierop antwoord Maritz dat hy te besig is en hy stuur vir Kapt Joubert om vir Smuts te ontmoet. 

Terwyl die twee generaals mekaar probeer uitoorlê, stuur Maritz sy vrou na Genl Hertzog om te gaan uitvind wat alles aangaan, en Smuts op sy beurt stuur in alle haas vir Coen Brits, Poen Bouwer en Kol Sylie met 1 000 troepe na Upington. 

Harm Oost sê dat Maritz op hierdie stadium na Van Rooisvlei verskuif het, want dit was nader aan die Duitse grens en niemand kon iets daarteen aanvoer nie. Wat hom egter beweeg het was eintlik die 1 000 troepe, onder andere die Durban Light Infantry en die Imperial Light Horse. 

Maritz self sê dat hy nie met Coen Brits wou bots terwyl daar nog onderhandelinge aan die gang was nie.

Agter die skerms was die bewerings egter verskillend. Enslin het van Upington vir Smuts op hoogte gehou van Maritz se bewegings, selfs dat Maritz die Vrydag van 2 Oktober 1914 om 6 nm van Upington weg is, maar dat hy geen tente vir sy mense saamgeneem het nie en dat hy op 4 Oktober op Van Rooisvlei aangekom het. Maritz self het sake fyn beplan.

Luit Hennie Otto was die hoof van die heliograafstasie van Upington, Van Rooysvlei en Cnydas, en het ‘n kantoor op Upington gehad – dus het Maritz geweet wat aangaan.

Die rede vir sy baie skielike optrede is nie bekend nie, maar volgens Harm Oost het Piet Joubert en Hennie Otto op 6 Oktober per motor op Van Rooisvlei aangekom, vir Maritz opgelaai en onder voorwendsel dat hulle gaan water soek, is hulle na die Duitse grens. 

Op Cnydas het Hansie Bergmann by hulle aangesluit. Op Nakop het hulle vir von Zastrow (namens von Heydebreck) ontmoet en ‘n ooreenkoms vir wapens is aangegaan. Maritz “koop” dan vier Krupp kanonne en twee pom-poms, en ‘n sekere Hauszding sou saamkom om die troepe (rebellie) te oefen. 

Die Duitsers het aangebied om 400 – 500 troepe saam te stuur, maar dit wou Maritz nie hê nie. Op 8 Oktober was Maritz terug op Van Rooisvlei waar maj Leipoldt al van die vorige aand af vir hom wag; weer ‘n boodskap. ‘n Telegram van Smuts lui dat Maritz na Upington moes kom om aan Brits te rapporteer, en ‘n brief van Brits lui dat hy (Maritz) nie later as Vrydag, 9 Oktober, 2 nm. moes rapporteer. 

Maritz se antwoord was dat hy aan niemand rapporteer nie, dat hy sy ontslag wou hê, en dat Brits die kommando daar op Van Rooisvlei kon kom oorneem en sommer die ontslag saambring. Aan Leipoldt het Maritz vertel van onderhandelinge met die Duitsers, en volgens Harm Oost het Leipoldt weer aan Brits gesê: “……….. ek weet dat u die ontslag van Maritz in u sak het en ek het hom beloof hy sal dit kry …………” 

‘n Ontslag sou vir Maritz vrystel van dissiplinêre aksie, maar Genl Smuts wou vir Maritz arresteer. Dit is ongelukkig dat daar besluit is om eers op Saterdag, die 10de vir Maritz sy ontslag te stuur, want Vrydag die 9de Oktober moes Maritz die rebellie uitroep. Van regeringskant is te lank gesloer.

Op Van Rooisvlei het Maritz se waentjie onder ‘n boom links van die nek aan die suidekant van die koppie gestaan. Die masjiengeweerafdeling was 300 tree verder noord omdat die gevoel tussen die Engels- en Afrikaanssprekendes nie goed was nie. 

Mostert (soos Freddie Mac Donald ook genoem het) het gepraat en ‘n sekere Moody wou die nuus na die Engelse kant oorbring, maar is deur Kapt Engelbrecht gevang. Maritz wat die waterput besoek het hoor die verhaal en laat roep vir Luit Frier na die boom en sê aan hom: “Ek het besluit om nie vir die Unie te veg nie en maak jou prisonier”. 

Hierdie was dus die eerste openlike rebelliewoorde. Daarna stuur hy vir Luit Moolman om vir Luit Botha (offisier net onder Frier) en die 60 manskappe van die meksimafdeling te gaan haal. Om 12.30 klim Gen Maritz op ‘n kas en praat as volg:

“Burgers en landsmanne, hier staan ek. Alleen voor God en u alleen, ja alleen. Ek wil niemand met my laat saamgaan nie. Ek vra niemand om vir my party te kies nie ……….” en vertel van sy onderhandelinge met die Duitsers en van die 26 000 wat in Engelse konsentrasiekampe gesterf het, ens., en dan eindelik dat diegene wat met hom wou saamgaan drie passe na vore moes gee, en die res sou as prisoniers na Suidwes gestuur word. 

So is die rebellie dan uitgeroep.

Die volgende dag het Poen Bouwer gekom met die ontslag waarop Maritz sê: Waarom bring jy my ontslag nou? Andries de Wet sal nou hier wees met die kanonne”.

Die rebellie se grofgeskut was 4 Krupps, 2 pom-poms en 4 meksims. Dit is nie heeltemal duidelik hoe Stadler met sy vrywilligers altyd by Maritz se aktiwiteite ingeskakel het nie. In elk geval, volgens Burger het ‘n mag onder Andries Louw en Poen Coetzee na Kenhardt beweeg, terwyl Kapt Piet Joubert en Koper Kamfer na Loeriesfontein afgetrek het. 

Dit is omstreeks middel Oktober, dus terwyl Maritz op Van Rooisvlei was. Die rebelle het Kenhardt stil binnegekom met ‘n vierkleur op een van die ammunisiewaens, maar verder het daar nie veel gebeur nie. Hierdie leiers, behalwe Koper Kamfer wat oor die Duitse grens ontsnap het, het hul stuksgewys aan die Uniemagte oorgegee. Volgens Mac Donald het baie van Maritz se rebelle ook gedros (hy het met slegs sowat 50 man op Jerusalem aangekom).

Maritz self met die hoof rebellemag het van Van Rooisvlei na Keimoes opgetrek. Soos hy self skryf wou hy nie vir Keimoes aanval nie, maar wou deurtrek in die Unie in. Die Unietroepe wou egter vir Maritz hê en “ek kon nie toelaat dat hulle my op my nes platdruk nie”. 

Op 21 Oktober vind dan die geveg op Keimoes plaas waar Maritz op sy perd Abel in die knie gewond word. Waarskynlik het Kmdt Stadler tydelik by Maritz die bevel oorgeneem en hy het aan die suidekant van die Oranje vertoef waar hy vir twee maande die Unietroepe baie hoofbrekens besorg het. 

Met ‘n totale mag van sowat 1 200 man het Maj Poen Bouwer langs die rivier afgetrek terwyl Kmdt Breedt van Nous se kant getrek het om vir Stadler in die berge, suid van Skuitdrif vas te keer. Stadler het egter helder oordag met 60 man deur Bouwer se linie gebreek en na Skuitdrif gegaan. Bouwer is terug na Upington waar Coen Brits intussen deur Jaap van Deventer vervang is.

Teen die einde van November kom Kemp op Jerusalem aan. Kemp (van Potchefstroom) het 500 myl in vier weke getrek. Met 10 000 man op Upington kon Bouwer nie vir Kemp keer nie, en selfs nadat Genl Louis Botha persoonlik op 21 November op Upington aangekom het, kon Kemp se Kalahari-mars nie gestuit word nie, maar sy volgelinge was gedaan, moeg, honger en dors. 

Sommige was te perd, andere te voet, en die meeste sonder wapens. Party bronne gee Kemp se rebelle as 600, andere as 700 man. Op die plase Jerusalem en Blydenverwagt het Kemp se mense vir sowat drie weke gerus.

Op 20 Desember trek 400 man gelei deur Maritz, Kemp en Bezuidenhout, deur Skuitdrif na Nous. Vroeg die oggend van 22 Desember word die niksvermoedende laer by Nous oorval. Die Unietroepe vlug in alle haas en laat 280 krygsgevangenis agter sowel as groot voorrade ammunisie, perde en waens en opgegaarde voedsel (vir Kersfees).

Volgens sommige geskrifte lyk dit of die rebelle-leiers al na die aanval op Nous daaraan gedink het om die rebellie te staak. Beide Kemp en Maritz noem dat hul bloedvergieting wou voorkom. Aan die kant van die Unie-magte is ook in hierdie lig opgetree. 

So vertel Mev du Plessis van Warmzand dat regeringstroepe op soek na rebelle met ongelaaide gewere op die plase aangekom het. Mnr JJ van Zyl van Upington was ‘n rebelle-vrywilliger (terwyl sy broer in die regeringsmagte gedien het) en hy vertel dat ‘n sekere Kapt Bester van die Uniemagte ‘n groep van hulle by Bloemsmond oorreed het om die wapens neer te lê. 

Hulle is daarop gewys dat dit ‘n oorlog van broer teen broer en vader teen seun was en dat onnodige bloedvergieting voorkom kon word. Diegene wat die wapens neergelê het is na Kimberley gestuur en weer terug na Upington, waar hulle vryelik in die kampe kon beweeg. Die dag voor die geveg op Upington was die rivier in vloed en die treinbrug was onder water en hul is per motorboot oor die rivier vervoer.

Omdat Smuts en Botha daarop ingestel was om die rebelle te verpletter (en vir hul doel om Suidwes in te val moes hulle hardhandig optree) is Upington deeglik versterk. Forte uit die Anglo-Boere oorlog is herstel en sandsakke is gepak. Die vernaamste eenhede hier was die Durban Light Infantry en die Natal Horse. 

Neil Orpen gee ‘n goeie beskrywing van die aankoms van die Cape Field Artillery. Hy sê dat hul met redelike gerief per trein tot by Draghoender gekom het. (Dit sal onthou word dat hierdie spoor in alle haas gelê is vir die aanval op Suidwes). Van Draghoender was die spoor van tydelike aard en hulle het baie stadig gevorder. 
Long Tom Kanon
Op plekke moes hulle met dwarslêers stellasies pak om perde en kanonne op en af te laai. Teen die einde van November 1914 het hulle Upington bereik waar hulle met Jacobs se pont oor die rivier gegaan het. Volgens mondelinge vertellings het een groot kanon, die Long Tom, van Louisvale stasie geskiet en dit word aanvaar dat hierdie kanon nie per pont vervoer kon word nie. 

Verder volgens Neil Orpen het hulle die eerste aand in Upington se hoofstraat geslaap regoor die kerk en langs die pastorie wat toe die oostelike rand van die dorp was. Pos is toe nog per poskoets van Prieska af vervoer, en ‘n beul het geblaas wanneer die koets by die rivier aankom. Besproeiing was deeglik onderweg en volstruisboerdery “was also going ahead”.
Siener van Rensburg
Aan die rebelle kant, so word mondeliks vertel, is die “profeet” Siener van Rensburg op jaste laat lê om te slaap sodat hy kon voorspel. Kemp het waarskynlik baie waarde geheg aan die profeet, maar Maritz het van sy voorspellings geen hoë dink gehad nie. Dit word vertel dat volgens een droom van Van Rensburg ‘n swart muil met oogklappe aangesien het wat dan die dood van Kmdt Stadler sou voorspel. In ‘n ander droom sou hy gesien het dat suiker aan die rebelle op Upington uitgedeel word, in welke geval dit ‘n soet betekenis kon hê of net sowel ‘n daaglikse gasie aan gevangenes kon beteken.

Op 10 Januarie 1915 was, volgens Kemp, alle rebellekommando’s en hul offisiere bymekaar op Ariamsvlei. Vandaar het Stadler se kommando die voortou geneem. Op 13 Januarie was Stadler op Langklip waar hy die deur die berugte spioen Jan van Wyk ontdek is. Van Wyk het ontglip en die volgende dag kom 45 Uniesoldate om vir Stadler te vang. 

Stadler vang 31 van die 45, of soos Kemp sê: “Party vat hy soos kinders in die donker by die hand”. Op 18 Januarie word Lutzputs aangeval. In ‘n geveg wat net ‘n halfuur geduur het, is een rebel gewond terwyl van die Uniemagte 17 gedood, 24 gewond en 165 gevange geneem is. Die buit was 207 perde, 50 osse, 40 muile, 3 waens (een vol gewere en ammunisie) en baie tente. 

Hier op Lutzputs verneem Kemp toe uit koerante en volgens die gevangenes dat die opstande in Transvaal en die Vrystaat feitlik verby was, en hy besef dat die rebellie geen verdere nut sou hê nie. Hierna is dan ook begin met ‘n reeks onderhandelinge met Jaap van Deventer, hopende dat die rebelle onder beter voorwaardes sou kon oorgee. Genl Smuts, soos ons later sal sien, wou van onderhandelinge egter nie hoor nie.

Volgens Neil Orpen lyk dit of van Deventer die rebelle by Van Rooisvlei ingewag het. As gevolg van ‘n skaarste aan gras en water het die rebelle egter in die rigting van die Moloporivier getrek oor Toeslaan, Smalvisch, Ghous, Koegoekoep. Grondneus, Blauwbosch en Steenkampsputs. 

Op 22 Januarie was al die kommando’s weer op Christiana bymekaar vanwaar die aanval op Upington beplan is. Op die hoë kop by Schröder se puts Toekomst het die offisiere bymekaar gekom om vir Upington te bespied. Beide Kemp en Maritz het besef dat hul moes aanval voordat versterkings van Keimoes en Kakamas ingeroep kon word, maar tog, so het Kemp gemeen, moes daar eers onderhandel word.

Orpen skryf Maritz “demanded the surrender of the town. Van Deventer was hardly the man to take any notice of this piece of impertinence”. Dis sekerlik nie die hele storie nie. Die more van 23 Januarie is Kapt Henry Williams, hoof van die verkenners, na Upington gestuur met ‘n brief waarin Kol Jaap van Deventer tot onderhandelinge uitgenooi is. 

D.J. Scholtz sê dat Maritz daarin gevra het onder watter voorwaardes die rebelle kon oorgee. Van Deventer het telegrafies met die Regering in verbinding getree (en solank moes Williams wag) en volgens Kemp het van Deventer aan Smuts gevra: “Onder geen omstandighede moet u onderhandel met Maritz en Kemp nie. Die enigste plek om hulle te ontmoet is op die slagveld. Wag om aan hulle ‘n antwoord van hierdie inhoud te gee tot môre as u dit wenslik ag”. Na hierdie antwoord en vertraging sou later verwys word, en dit het jare later nog sterk teen Genl Smuts getel.

Die aanval op Upington (25 Januarie 1915):

Kemp skryf: “Maritz en de Villiers het die posisies tot in die kleinste besonderhede geken en hulle het opgemerk dat Jaap van Deventer sy verdediging sorgvuldig en met groot kennis van plaaslike omstandighede ingerig het”.

Wel, Williams kom nie terug nie en van Deventer antwoord nie (soos hierbo geskryf) en die rebelle besluit om aan te val. Die aanvalsplan en volgens Kemp se beskrywing was as gevolg voor die offisiere gelê: 

Die rebelle sou in vyf kolomme beweeg:
(1) Stadler sou die linker vleuel neem, agter die duine om en dan met die rivier af; Kmdt Flemming met 60 man, van Wyk met 50 en Stadler met 27 man.

(2) Net regs van Stadler sou Genl Bezuidenhout met een kanon en een pom-pom opruk met Kmdte Kock, Mussman en De Villiers by hom.

(3) Nog verder regs sou Genl Kemp met die orige drie kanonne en een pom-pom aanval. 

(4) Regs van Kemp sou Kmdte van Vuuren en van der Merwe opruk.

(5) Op die heel westelike flank was Genl Maritz met die kommandantskappe van Schoeman en Kamfer. Hulle sou met die heuwels af beweeg van Spitskop dorp-toe en sou versterkings van Keimoes se kant afsny.

Die hele linie was sowat 10 km lank. Stadler was egter siek aan koors en kon die offisiersvergadering nie bywoon nie. Sy swaer Janse van Rensburg sowel as Maritz wou nie hê dat hy aan die geveg moes deelneem nie. 

Maar soos Kemp sê: “agterbly was ‘n woord wat Stadler nie ken nie” en Maritz het finaal self die plan aan Stadler verduidelik en hom herhaaldelik gewaarsku om agter die duine af te trek en dat ‘n kanonskoot die aanvalsteken sou wees. 

Ongelukkig vir die rebelle het Stadler hierdie bevele nie gehoorsaam nie. Volgens nog lewende rebelle was hy die tipe man wat reg op die gevaar wou afstorm, en dit is ook wat hy gedoen het. 

Volgens mnr Andries Engelbrecht wat onder Stadler aan die geveg deelgeneem het, het hul in die nag oor die duine getrek, met die rivier. (Dit was donker en mnr Engelbrecht is nie seker of hul wel met die rivierloop afgekom het nie, maar die volgende dag het hy wel met die loop langs uitgevlug). 

Die gevolg van hierdie beweging van Stadler was dat die oostelike flank onbeskermd gelaat is en aan die verdedigers die kans gebied het om om die duine te trek en die rebelle van die water af te sny sowel as hulle dan van agter af aan te val. 

Mnr Engelbrecht vertel verder dat hulle in groepe van vyf of ses onder ‘n korporaal tot op sekere punte met hulle perde gery het, en vandaar het hulle kruip-kruip vorentoe beweeg. Mnr Engelbrecht wat onder Luit Pearson se aanvoering was, se mikpunt was ‘n kraal by Keidebees, vandag ‘n woonhuis met die garage op die plek waar die kraal was. Mnr Engelbrecht en Janse van Rensburg het wel die kraal bereik.

Mnr Bertus Hanekom vertel dat sy mikpunt die ou skutkrale was. Daar was absoluut geen beskerming vir die aanvallers nie en in die woorde van mnr Frikkie van Niekerk is die rebelle soos springbokke op die kaal vlakte geskiet. Met die terugval weer, vertel mnr Engelbrecht het hulle sowat 25 tree gehardloop, plat geval, weer opgespring, en so aangegaan terwyl die koeëls om hulle gereën het.

Mnr Bertus Hanekom vertel dat hulle die nag nooit geslaap het nie. Toe dit lig word hoor Kmdt Piet (Mof) de Villiers links van hom skerp geweervuur, en toe weet hy dat Stadler nie vir die kanonskoot gewag het nie, maar wel reguit op die vyand afgestorm het. 

Bezuidenhout het toe dit lig genoeg word sy kanon op die verdedigers gerig om vir Stadler te help hoewel (volgens Kemp) Bezuidenhout en sy manne self op die kaal vlakte gestaan het. Die rebelle se kanonvuur is dadelik beantwoord deur kanonne van die verdedigers, waarskynlik die twee CFA kanonne wat regoor die hospitaal gestaan het. 

Kemp skryf: “Die burgers lê plat voor hul kanonne op die gelyke wêreld …………. ook ek en Maritz regs (regs van Bezuidenhout) staan ongedek onder die geweldige vuur van die vyand. Alleen Schoeman en Kamfer op die uiterste regter vleuel kry ‘n bietjie skuiling in die koppie en die rooi rantjie. 

Die geveg dreun nou langs die hele linie. Meksim en kanonvuur kletter. Die vyand het ‘n dubbele oormag van grofgeskut en amper vier keer soveel manskappe as ons en verder, Stadler lê swaar gewond naby sy dooie perd en kan dus nie bevele aan Kmdt van Wyk en Flemming gee nie – Van Wyk gryp die sambok en storm met vyftig van sy manne tussen die vyand in – alleen Janse van Rensburg het die dekking van die kraal. 

Kmdt Gert van Wyk word gewond en voel dat sy wonde dodelik is. Net met die opkom van die son kry hy die twee koeëls wat sy lewenslig sou doodmaak. Hy roep sy seun en naamgenoot wat ‘n burger was in sy kommando en onder die gefluit van vyandelike koeëls gee hy volgens die patriargale wyse van die vaders bevel aan sy huis. Sy gees is by sy vrou en kinders ver weg in die ou Transvaal, en Kleingert moes sy laaste wense aan hulle oorbring”. 

Aan die westelike flank het die rebelle hul posisie gehandhaaf en byna geen verliese gely nie. Eintlik, soos later gesien sal word, was die rebelle besig om die oorhand te kry. Van Wyk, dodelik gewond, wou sy mense nie verder laat doodskiet nie en gee toe oor. 

Kemp skryf: ‘n Rukkie na die vlag by komdt van Wyk opgesteek is volg ook die een in die kraal. Toe die aanval op die linkerflank misluk moes ons terugtrek, want die vyand sou van die kans gebruik maak om ‘n omtrekkende beweging te maak ……..”

Mnr Frikkie van Niekerk wat die geveg deur die kombuisvenster aanskou het, vertel dat Stadler op en af te perd agter sy manne beweeg het, en terwyl sy perd draai om weer oos-op te ry is hy van agter deur die kruis geskiet. Hy het nog ‘n entjie gery en toe afgeklim. Mnr Engelbrecht het gesien dat die ambulans iemand kom haal en dat een agtermuil daar in die tuig doodgeskiet word. 

Mnr Hanekom vertel dat Stadler op ‘n witblou perd met die naam Charlie gery het. Met die uitvlug het mnr Hanekom wes van die duine uitgejaag en by die ambulans verby gery. Dit was ‘n kar met ‘n lang bak deur vier diere getrek. Hanekom het later verneem dat Joubert en Byneveld vir Stadler gedra het na die plek waar die ambulans hom kom laai het.

Die terugtog is om elfuur gemaak en die rebelle het weer by Schröder se puts versamel terwyl die verdedigers die rebelle agtervolg. Van die vlugtende rebelle het wes om die hoë kop gegaan en by ‘n nek oor en so die agtervolgers in ‘n lokval gelei. 

Kemp skryf dat die rebelle in ‘n vegslinie van 6 000 tree opgestel is met Kmdt van Vuuren op die oostelike punt en Kmdt Schoeman op die westelike punt. Kemp sê: “Die vyand het ‘n paar maal rondgedraai soos ‘n klomp skape en toe die aand sak het die laaste een op Upington teruggetrek”. 

Hierdie laaste gevegsterrein is deur mnr Hanekom uitgewys as wes van Toekoms se woonhuis. Op die koppies suid van die put, so het hy verduidelik, het drie rebelle-kanonne gestaan waar skanse nou nog te sien is. Een kanon moes die duine net oos van die kop dek en verhoed dat die verdedigers agter die duine langs optrek. 

Die ander twee kanonne het na die oop ruimte tussen twee duine gemik. Mnr Engelbrecht onthou dat hulle beveel was om nie te skiet voordat die vyand op die tweede duin verskyn nie. Mnr Hanekom onthou dat die rebelle nou baie moeg en honger was (‘n nag en dag sonder rus) en ‘n klompie bokke wat daar tussen die duine gewei het is geslag en die vleis is met vel en al gebraai. Voordat die vleis gaar was het die geveg begin en sowat 40 Uniesoldate het hier gesneuwel.

Volgens mnr Frikkie van Niekerk is die gesneuwelde rebelle van Keidebees-omgewing in een groot gat begrawe. Op Januarie 1924 is hierdie gesamentlike graf deur ‘n spesiale kommissie weer oopgemaak en sommige kon nog aan hul klere of besittings herken word. Die gat was daar waar die geboue van die Kalahari-Inryteater nou staan.

Die verdediging van Upington:
Volgens Kemp het Jaap van Deventer op 10 Desember van Steinkopf op Upington aangekom. Hy het dadelik met reorganisasie begin en op 9 Januarie 1915 was daar 2 090 troepe op Upington, 675 op Keimoes en 1 474 troepe op Kakamas en af tot by Skuitdrif. 

Die treinbrug was nog nie gereed nie en van Deventer het voorsorg gemaak vir ‘n pont en ‘n skuitbrug asook ‘n pont na Kakamas. Verder het hy sy offisiere goed deurgeloop en enkeles huis toe gestuur (sy telegram aan Smuts lui: “Want dit spyt my dat ek tot nog toe grootliks teleurgestel is met ‘n groot deel van die offisiere van die permanente mag”) 

Kemp noem ook rye forte wat opgerig is. Mnr Henry Davies vertel dat hy as jong seun kanaalwater met perskepitte helder gemaak het en teen trippens per gallon verkoop het in ‘n kamp waar Campstraat vandag is. Mnr Frikkie van Niekerk en mev Theron, albei van Keidebees het vrugte verkoop in ‘n kamp omtrent regoor waar die hospitaal vandag is. Mnr Davies onthou ook dat waar Stags Manswinkel vandag is, ‘n losieshuis was wat as hoofkwartier vir offisiere gebruik is.

Behalwe vir oorvertellings kry ons vandag die enigste beskrywing uit Neil Orpen se geskiedenis van die CFA. So, volgens die sin “Using all four guns with Commando escort” was daar minstens vier kanonne. Hy noem dat op 21 Januarie om 2:30 vm die kanonniers beveel is om gereed te wees en vir drie dae moes hulle langs hulle kanonne slaap, dus vandat die rebelle op Christiana aangekom het; Kemp noem ook dat hulle op die 21ste vir Luit Jooste met 45 man gevang het – moontlik deur die eerste rebelle wat Christiana bereik het.

Die nag van die 24 ste was die rebelle se opmars – dus moet dit die oggend van die 25 ste Januarie wees waarvan Orpen sê: “About awoke to the sound of artillery, pom-pom and machine gun fire as Maritz attacked”. Verder sê hy “the CFA galloped out of town, left section to a koppie about three miles out to return the fire of the German-manned Krupp guns, with other guns more to the north”. 

Die getal en posisie van die kanonne is onseker, maar mnr Davies onthou van kanonne by Van Riebeeckkoppie en die koppie waar die klipbrekery vandag is. Volgens Orpen was dit 15-ponders en was berede soldate in ‘n hewige geveg noord van die kanonne betrokke en die kanonne is vinnig in posisie gebring. Die Cradock kommando moes die kanonne beskerm in geval van ‘n direkte aanval. ‘n Berede mag plus die Cradock kommando plus minstens twee kanonne moes dus die rebelle se westelike flank-aanval weerstaan.

“On the eastern side of the town C-squadron of the 20th Mounted Rifles with men of the 18th MR GR Commando and the Hanover and Colesberg Commando’s were fighting fiercely according to a contemporary account by an officer of the 20th Mounted”.

Vier kommando’s of ‘n gedeelte daarvan het dus die Keidebees-aanval getrotseer. “All this time guns of the CFA were booming ………..another mounted officer helped to direct the fire”. Mnr Davies onthou baie goed dat waar die Oranje-Noord Skool vandag is ‘n besondere groot kameelboom gestaan het, en soos vanuit hulle huis gesien het twee kanonne net links van die boom gestaan, omtrent waar die transformator vandag staan. Dis net onder die heuwel en iemand sou aan die kanonne moes rigting gee soos hierbo beskryf deur Orpen.

‘n Twyfelagtige gedeelte uit Orpen se beskrywing lui so: “White flags appeared among the bushes. Fearing treachery the 20th Mounted continued their counter-attack until the rebels began coming in with hand up to surrender”. Daar is feitlik geen bosse waartussen daar wit vlae kon verskyn nie, en slegs twee wit vlae is opgesteek – by Van Wyk en by die kraal en volgens die ondervraagde rebelle was die skietery so hewig dat niemand met die hande in die lug sou staan nie. Dit was moontlik ‘n oordrewe offisiersverslag.

Volgens Orpen klink dit asof die Unietroepe nie hulle voordeel besef het toe Van Wyk en Stadler gewond is nie, maar dat hulle gemeen het dat Maritz toe op die westelike flank gekonsentreer het Die verdedigers het dan ook met een van hulle kanonne en die Scotts Horse oor die vlakte begin optrek om hulp te gaan verleen, maar “they ran into severe crossfire and had to retire slightly. Here they were shelled for a long time by German guns outside the range of the CFA’s 15-pounders”. 

Hierdie 15-ponders was baie doeltreffend om byvoorbeeld van agter ‘n heuwel te skiet, maar hulle trefafstand was slegs 6 000 tot 6 300 tree. Die krupp kanonne met langer trefafstand het die Unietroepe op ‘n afstand gehou en ook laat terugval en daarop kon Kemp meld dat feitlik geen skade aan die westelike flank gedoen is nie. Moontlik het hierdie kanonne ook aan die rebelle die kans gebied om te ontvlug. Mnr Engelbrecht vertel dat kanonskote uit die rigting van die teenwoordige hospitaal so akkuraat was dat hulle vlugtend wyd moes sprei.

Mnr Hanekom onthou dat ‘n kar deur ses wit perde getrek (meer op die wesflank) hulle agtervolg het en dat nog ‘n kanon in aantog was. Dit moes een van hierdie kanonne gewees het wat deur Orpen genoem word: “by early afternoon the enemy had enough and as they withdraw, a gun of the CFA was detached to support the pursuit. Running into ambush about 10 miles out it narrowly escaped capture but got away safely with no more than a few markslets by pom-pom shells on the gun itself and the buttocks of one unfortunate runner”.

Oor verliese gely noem Orpen “losing 60 killed and 136 captured. Maritz was thoroughly shaken but the defenders also suffered casualties”.

Die einde: 
Die rebelle het na Christiana teruggetrek en is nog dieselfde nag verder omdat die water ingegee het. Mnr Engelbrecht sê hulle was so moeg en dors en honger dat hulle eintlik nie omgegee het wat verder van hulle word nie. Vir twee nagte en ‘n dag was daar geen rus nie. 
Kmdt Stadler het voor Christiana by n woonhuis agtergebly onder die sorg van ‘n Duitse Dokter, Dr Blumers, waar hy na sonop die volgende oggend gesterf het. Op Swartmodder het Maritz aan sy mense die keuse gestel om hom na Suidwes te volg of om op Kakamas te gaan oorgee. Hulle het gaan oorgee. Hulle het een man met ‘n wit vlag laat voorry.

Die offisiere het intussen probeer om die beste voorwaardes te verkry. Vanaf Christiana het Maritz die aand na die geveg vir Gadd gestuur (‘n offisier wat by Luzputs gevang is) met ‘n brief aan van Deventer waarin hy sy bereidwilligheid noem om oor te gee. 

Kapt Henry Williams wat nog op Upington in ‘n kamer opgesluit was het met Van Deventer se antwoord teruggekom: Onvoorwaardelike oorgawe. Weer het Maritz vir Williams teruggestuur met ‘n sterkbewoorde brief waarin hy noem dat die Unie-offisiere nie op sy versoek tot onderhandelinge gereageer het nie, dat hulle vir Williams gevange gehou het en onnodig bloed vergiet het en dat Van Deventer na Grondneus moes kom vir samesprekinge sonder enige kommandobewegings.

Hierop nooi Van Deventer weer vir Maritz om na Upington te kom . Na nog verdere briefwisseling is besluit op ‘n plek van samekoms halfpad tussen Upington en Christiana. Om elfuur die oggend van Saterdag, 30 Januarie 1915, ontmoet Maritz, Kemp, Bezuidenhuit en Piet (Mof) de Villiers vir Van Deventer en sy offisiere in ‘n groot vierkantige tent op die afgesproke plek in die veld. 

Die rebelle is gulhartig ontvang en van Regeringskant het Kirsten, Meyer en ‘n Engelse dokter ook die samesprekinge bygewoon. Van Deventer was baie toegeeflik, maar die finale besluite sou by die Regering berus. Die rebelle het besluit om die Duitse wapens aan hulle terug te gee, Kemp en sy mense sou oorgee, maar Maritz sou vlug. 

Maritz is dan ook deur Suidwes na Angola en het in 1924 eers weer teruggekeer. Hy is tot ‘n aantal jare tronkstraf gevonnis, maar is deur die Nasionale Regering vrygelaat. Kemp, met 526 van sy manne en 100 van Maritz se mense het aan Van Deventer oorgeplaas. Die burgers is na drie maande vrygelaat, maar die offisiere is verder na Johannesburg en Pretoria gestuur. Eers op 23 Julie 1915 is Kemp gevonnis tot ‘n boete van £1 000 en sewe jaar tronkstraf.

Die geveg by Kakamas:
Na die rebellie en voordat die Unietroepe met die inval in Suidwes begin het, het ‘n Duitse mag ‘n aanval op Kakamas geloods. Genl Jaap van Deventer het met 6 000 troepe in ses laers net suid van die dorp in die koppies gelê. 

Maj Ritter het die Duitse troepe deur die poort waar die treinspoor vandag loop gelei. Vier Duitse kanonne is opgestel. Met dagbreek op 4 Februarie 1915 het die kanon op die sandduin begin skiet as teken vir die res om te volg. Die twee oostelike kanonne was gemik op die skuitdrif (De Witt se drif) en die westelike kanonne moes die pontdrif dek en so aan die berede Duitse soldate dekking verleen. 

Heel aan die begin het die Oostelike kanonne die skuite by De Witt se drif stukkend geskiet en die Unietroepe sowel as die Duitse troepe het na Drifeiland gejaag waar die groot geveg na verwagting moes plaasvind. 

Volgens oorvertelling moes Genl van Deventer so iets verwag het en daarom het hy alreeds die vorige dag vir Jan de Wet gestuur om die sogenaamde Piet Fykan se koppie te beset (dis die koppie by Bassonsdrif waar die driehoeksbaken vandag staan). Die Duitse magte het hiervan nie geweet nie en het met die bote afgejaag na Drifeiland. 

De Wet se manne het die Duitsers een na die ander geskiet soos hulle verbygekom het en dit het eintlik die einde van die aanval bepaal. Nadat die eerste sewe geval het is onraad bemerk en die res het weggejaag. Van hierdie sewe is ses 1960 by die Duitse monument herbegrawe terwyl Luit Voigts deur sy familie in Windhoek herbegrawe is. Behalwe die sewe wat gesneuwel het is ook 16 soldate gevange geneem. 

Aan die Suid-Afrikaanse kant het Luit Neethling gesneuwel en is in die kerkhof op Kakamas begrawe. Teen die middag was alles verby. Die Duitse mag het weer deur die poort teruggetrek en verder aan met die pad na Biesiepoort.

Deur: A.K. Cornelissen. Alwyn het hierdie geskiedenis in die 1970's aangeteken.
Hierdie is die mees digbevolkte besproeiingsgebied van ons land met die droë kalkvlaktes van Kenhardt en Boesmanland na die suide en die sandduine van die Kalahari na die noorde.

Vir my as geoloog is dit ‘n gebied van oorsaak en gevolg, van waarneem en interpreteer en dan na alles die gebied waar ‘n mens jou medemens kan dien om ten volle mens te wees. Kyk na die sweetkolle op die hemp van arbeider, kyk na die kameeldoringboom en wonder hoe oud hy is, kyk na die kalkvlaktes en wonder hoe het dit ontstaan en dan eers as jy weet dat jy min weet sal dinge waarde kry, en eers as jy raaksien sal jy sien hoe baie hier is om te sien.

Hier is die sewestêr en die suidekruis snags helder, want hier is die lug skoon. Hier was die pioniers natuurmens en ons bring hulde aan hulle wat ons voorgegaan het.
Verwysing: Wollie Burger
Saamgestel: Johan Swart. Beelde bygevoeg vir duidelikheid.
Naslaan Verwysings:
Rebelspoor - Die ware bittereinde