Die ontstaan en stories van die Grootrivier & Augrabies Watervalle

Hoe die rivier ontstaan het:
Eintlik weet ons nie hoe Grootrivier ontstaan het nie, maar ons kan wel raai. Sowat tweehonderd miljoen jaar gelede het die Drakensberglawas uit die dieptes van die aarde uitgeborrel en hierdie hoë bergreeks wat so gevorm is kon die begin gewees het van stroompies wat later ‘n rivier moes vorm. 

Oor die jare heen het die aardkors opgebuig en gesak en dit moes bepaald die rigting van die destydsbestaande riviere verander het. Met wegverwering is nuwe landsoppervlaktes gevorm en deur hierdie oppervlaktes moes bestaande riviere hulle koers baan. 

Hier in die Noordweste dui bergtoppe gewoonlik op die oudste bekende oppervlak bekend as die Gondwana landsoppervlak. ‘n Jonger landskap, bekend as die Afrikaplato en waarvan die Boesmanlandse kalkbedekte vlaktes ‘n goeie voorbeeld is dateer al na die tyd van Grootrivier, want die rivier het in hierdie sy vallei gevorm soos wat ons dit sien vanaf die Augrabieswaterval tot omtrent by die Verwoerddam (Vandag die Gariepdam). 

Maar terwyl ‘n kronkelende river besig was om ‘n wye vallei uit te vreet, het die landsoppervlak oor ‘n lang tydperk gelig en gesak. Met die Mioseen (sê 25 miljoen jaar gelede) het ‘n nuwe opwelling van die land begin wat finaal die waterval kon veroorsaak het. 

In Suidelike Afrika, en veral langs ons weskus, het die aardkors begin opvou tot bulte en holtes. Die ou Afrikalandskap wat aan die begin waarskynlik nêrens hoër dan sê 300 meter bo seespieël was nie, word tot op plekke opgestoot to 2 000 meter en op ander plekke het dit tot onderkant seevlak gedaal. Langs die weskus het hierdie daling en heffing (dink aan ‘n wipplank in ‘n speelpark) tot ‘n 300 meter vertikale afstand gestrek.

Met elke heffing moes die Oranje geweldig vinnig ingekerf het om sy loop oop te hou en met elke daling het die see groot dele van die land bedek. Met ‘n laaste stadige afbeweging het ‘n deel van die weskus onder die see verdwyn en so ook het ‘n ingekerfde Oranjerivier onder die see verdwyn. Sy teenswoordige mond (die Oppenheimer-brug naby Alexanderbaai) lê 125 voet (sê 38 meter) onder die sand begrawe.

Ons wonder tog hoe die rivier kon byhou om sy loop oop te hou gedurende die periode van heffing en daling. Wel, wetenskaplikes het bewys dat ‘n rivier inkerf deur skuuraksies – sand en klippe doen die skuurwerk. Die hoeveelheid sand en klippe wat deur die stroom gedra word is in direkte verhouding tot die spoed wat die water vloei. 

In ‘n stilvloeiende stroom word feitlik geen sand vervoer nie, maar hoe vinniger dit vloei hoe meer sand word saam gedra, en hierdie drakrag is gelyk aan die sesde mag van die spoed van die stroom. Met ander woorde, gestel ‘n stroom se spek is so dat dit twee eenhede sand kan dra, dan, as die spoed sou verdubbel dra dit nie vier nie, maar wel 64 eenhede sand. Dis hierdie geweldige vermeerdering van drakrag wat die skuuraksie van ‘n vinnigvloeiende stroom verhoog.

Hoe die waterval ontstaan het:
Enige rivier probeer om sy loop gelykmatig uit te skuur en dus is die bestaan van ‘n waterval ‘n uitsondering. Vir die vorming van ‘n waterval is daar dan ook twee hoofvereistes: eerstens moet daar ‘n kerfpunt (engels – nick – point) ontstaan en tweedens moet daar ‘n maalgat wees. 
Die kerfpunt ontstaan as gevolg van tektoniese deformasie soos die heffing en daling wat hierbo beskryf is. Eintlik dink ons aan ‘n buiging in die rotsvloer van ‘n rivier. So ‘n buiging sou egter net tot ‘n stroomversnelling lei.

Nou kan dit gebeur dat ‘n sagter tipe rots of ‘n naat of skeur of so iets in die onderste rotslaag aanwesig is en in daardie sagter of makliker verweerbare laag begin ‘n maalgat vorm. As die maalgat eers daar is dan begin die vorming van die waterval. 

Klip en sand maal in die rondte en vreet die gat al groter en uitkalwing ontstaan sodat ‘n oorhangende lip noodwendig gevorm moet word. Stuksgewys breek die lip later af en so versit die waterval stadig stroomop.

Lugfoto’s van die rivier en net onderkant die Augrabies is besonder interessant. Die rotslae is so gebuig dat dit ‘n mens aan jaarringe van ‘n boomstam herinner, en deur hierdie geplooide rotse vloei die stroom as ‘n hoekige kanaal – dan noord, dan wes, weer noord, weer wes. 

Dis definitief abnormaal vir ‘n rivier om sulke skerp draaie te vorm en so iets gebeur slegs wanneer sagter rotstipes deur reghoekige nate en krake gesny word. Die Oranje het hier eers in verbrokkelde nate beland wat in ‘n oos na wes rigting gaan. 

Uitkerwing het vinnig in ‘n oos-wes-rigting aangegaan, totdat ‘n sagter noord-suid rotslaag die rivier verlei het om liewer in hierdie rigting te swaai. Ons kan met veiligheid aanvaar dat wispelturige nate en sagte rotse die norse ou rivier gelei het tot aan die onderent van die skeur waar die harde rooierige graniet nie wou saamspeel nie.

Die waterval het hier ontstaan of liewer die maalgat het hier ontstaan en van hier het die maalgat oor duisende jare sy pad stroomop vir 4km oopgeboor. Hoe lank hy nog sal boor weet ons nie; die moderne mens het met sy dambouery begin en die eens magtige Oranjerivier sal getem en verneder word tot die status van ‘n leivoor.

Die eerste besoekers:
‘n Stukkie geskiedenis vir die leser wat belangstel: Ou kurubes het die Koranas dit genoem: die plek van groot geraas, en hulle was bang om naby te kom. Waarskynlik was die Boesmans nie juis beïndruk nie, want volgens Wikar het die Klaare Kraal Boesmans in ‘n kraal van sowat 20 hutte naby die waterval gewoon en hulle het geleef van rosyntjie boombessies en vis. Die vis is onderkant die val gevang met fuike wat van latte gemaak is.

Wikar het te woes gedobbel en moes stilletjies uit die diens van die HOIK padgee. Tussen 1778 en 1779 het Hendrik Jacob Wikar tussen die Hottentotte gewoon en op en af langs die Oranjerivier getrek, en as ‘n fyn waarnemer het hy vir ons van die waardevolste gegewens nagelaat oor die lewe langs die rivier sowat 200 jaar gelede. 

Hy het waarskynlik die waterval tweemaal besoek, en vertel dat die mis bo die val op ‘n helder dag een skof ver gesien kan word waar dit soos rook van ‘n vuur lyk. Die val lyk of “de heele rivier van een klipkrans afstorten 2 maal zo hoog als ‘t casteel” (die kasteel aan die Kaap). 

Bokant die val, so skryf hy, is die trek van die water so erg dat volgens wat die Riviervolk hom vertel, as ‘n seekoei daar beland word dit by die val afgeruk en dan later deur die volk onderkant die val uitgehaal. Daar was ook die geval van ‘n trop beeste wat deur die riviervolk bokant die val deurgedryf is en die helfte het stroomaf gedryf en by die val afgestort.

Die naam Augrabies (nou in vereenvoudige vorm) het ons te danke aan Robert Gordon, die man wat ook die rivier na Oranje verdoop het na die Huis van Oranje in Holland. Gordon het verskeie besoeke afgelê en net na Wikar se besoek het hy die waterval op ‘n kaart aangedui as “Aukoerebis of de groote waterval” en hy skryf van “...hietende zy (die Einiquas) dese plaats Awkoerebies”. 

Let op dat hy dit verskillend spel, maar tog “Awkoerebies” in die taal van die Eniquas. Nou, volgens Brink se dagverhaal van 1761 kry ons weer die naam Eynicquas as synde die naam van die bewoners van die Charie of Gariep of Eyn (verskeie name vir die rivier). 

Met ander woorde, die rivierbewoners het die Aukoerabis genoem, of aldan in oorspronklike Koranataal met die nodige klik !oukurubes wat beteken die plek wat die geraas maak. Van Gordon kry ons ook ‘n beskrywing van die dierelewe waar hy, net onderkant die waterval sê: “Hier had ek die skoonste en mees buitengewone gesig op al my reise, want met een oogopslag het ek in ‘n halwe sirkel gesien 12 kameelperde, 50 olifante, 5 renosters, ‘n trop van 50 volstruise, ‘n trop van 13 koedoes, ‘n trop sebras en terselfdertyd seekoeie in die rivier daaronder wat besig was om te swem en saam te speel”.

In 1813 was Eerw. John Campbell hei ren die Koranas het hom vertel van ‘n waterval waarvandaan die mis opstyg, maar die geraas was so skrikwekkend dat hulle te bang was om nader te gaan. In 1818 het Eerw. Robert Moffat naby die waterval verby getrek. 

Hy het die geraas gehoor en in daardie rigting begin stap. Omdat hy baie moeg was het hy onder ‘n boom in die skaduwee gaan sit en net daar aan die slaap geraak. Sy helpers het hom wakker gemaak en hulle het vinnig padgegee onder die gebrul van leeus.

In 1824 het George Thompson met die Sak- en Hartbeesriviere afgetrek en agt myl te voet afgelê om die val te besoek. Dit was baie droog en baie warm in Augustus daardie jaar. Langs die Hartbeesrivier het die Koranas feitlik net van gom geleef. 

Hy vertel van ‘n ou vrou en ‘n kreupel jong vrou met haar baba wat heeltemal naak onder ‘n boom gesit het met nog net ‘n paar lepelsvol modderwater in ‘n pot – daar, deur hulle mense agtergelaat om van honger te sterf. Volgens hom het die Koranas van die Hartbeesrivier wel vroeër beeste besit, maar hulle is deur mense van ‘n ander kraal geplunder en verdryf en moes toe leef van jag, wortels, gom, miere en blare van ‘n sekere soort bos. 

Hulle het soos die Boesmans met gifpyle gejag en vanggate gemaak. Skerp stokke is binne die vanggate geplant en Thompson-hulle moes baie versigtig ry om nie met hulle perde in vanggate te val nie. Interessant verder, dat Thompson gewaarsku is om nie in die loop van die Hartbeesrivier te oornag nie, want dit is dan in die voetpad van die leeus. 

Thompson het heel interessante name aan plekke gee. Die monding van die Hartbees was Junction Station, die berge parallel aan die Gariep wat “Gariepine Walls” Neusberg in die verte is genoem “Duke of York’s Mountains” en die Augrabies Waterval is genoem “King George’s Cataract”. 

Die walle van die Oranje was toe so dig begroeid dat die water slegs langs koedoevoetpaaie bereik kon word, maar ongelukkig het leeus ook dieselfde paaie gebruik.

Tot eer van Thomson moet genoem word dat hy ook aan besproeiingmoontlikhede gedink het, maar die beste wat hy kon voorstel was die Egiptiese wiel, genoem die sakia of sakieb waar ‘n groot wiel met erdepotte daaraan en deur ‘n os getrek, water uit die rivier kon lig. 

Ons wonder of Craill, wat die waterwiel op Kakamas ontwerp het, van die Egiptiese wiel geweet het. Tog noem Thompson dat aan hom vertel is dat die Griekwas water uit ‘n kanaal lei. Oor die leefwyse langs die Oranje sê Thompson dat die Koranas vanaf Augrabies langs die rivier op gewoon het in groepe of krale met ‘n kaptein vir elke kraal en hulle het bokke, skape en beeste besit. 

Die huise van pale en matjies was so dat dit maklik afgebreek en op pakosse gelaai kon word. Van 15 tot 17 Augustus het Thompson naby die waterval gerus. Sy indruk van die waterval word kleurvol beskryf: “It seemed as if we were now entering the untrodden vestibule of one of nature’s most sublime temples ... I was led to a projecting rock where a scene burst upon me far surpassing my most sanguine expectations.

The whole water of the river (except that which escapes by the subsidiary channel we had crossed and by a similar one on the north side), being previously confined to a bed of scarcely one hundred feet in breadth, descends at once in a magnificent cascade of fully four hundred feet in height. 

I stood upon a cliff nearly level with the drop of the fall and directly in front of it. The beams of the evening sun fell full upon the cascade and occasioned a most splendid rainbow. While the vapoury mists arising from the broken waters, the bright green woods which hung from the surrounding cliffs, the astounding roar of the waterfall, and the tumultuous boiling and whirling of the stream below, striving to escape along its deep, dark and narrow path, formed altogether a combination fo beauty and grandeur, such as I never before witnessed”.

GA Farini wat beter bekend is vir sy verlore stad van die Kalahari, het in 1885 ‘n kaart van die verskillende valle gemaak. By die lees van hierdie grootprater se verhaal wonder ‘n mens soms of hy werklik die hoofval bereik het, want hy praat meer van sy eie heldedade as van die val self. 

In geselskap van die Duitser Fritz (wat ‘n groot deel van sy Kalaharitog meegemaak het) het hulle van Mier af by die rivier aangekom waar hulle eers ‘n Engelsman Harper ontmoet het en daarna by ‘n sekere Coe Smith se huis aangeland het. 

Hier het hulle met rieme en pale ‘n vlot gemaak om benodigdhede oor die strome te kry en toe in die rigting van die val se gedruis beweeg. Nadat Fritz in die water geval het, het hy vir Farini gesê: “You must take your clothes out and make swim” en so het hulle lopend en swemmend gevorder. 

Op een plek het hulle ‘n trop bobbejane gevolg en Farini het op sy rug teen ‘n skuins klip afgeseil – “Feet first and my head raised far enough to see in front of me, I arrived in three or fout seconds at the bottom, minus part of my unmentionables, but otherwise in comfort”.

Dat hy tog by die waterval was, sien ons uit sy beskrywing van ‘n stroom wat soos ‘n “huge jet of water” uit die wat gebars het. Hy sê: “I pushed my body as far as possible forward and craning my neck over the edge of the precipice saw some thirty feet below, a huge jet of water, about the size of a main street sewer, and quite as round, rushing out of the face a of the solid rock on which we stood, tumbling through the air some three hundred feet sheer, and breaking itself into myriad of snowy white particles before it lost itself in the dark surging waters beneath. It was evidently a subterranean outlet to the waters of some of the rapids we had crossed...” 

Hierdie spuitende water is ook in 1911 deur AD Lewis op sy sketskaart aangedui as na aan die onderent van die skeur voordat die eerste draai bereik word. Wanneer die rivier ‘n sekere hoogte het, ontwikkel hier ‘n kleiner waterval wat in ‘n skeur verdwyn en weer onder uitskiet soos deur Farini beskryf is. 

Volgens Farini is hulle deur vloedwaters by die waterval vasgekeer en deur systrome van hulle kosvoorrade afgesny. Op die oggend van die vyfde dag het ‘n vloedgolf ‘n boomstam op hulle gegooi en net daarna, toe hulle nog probeer om die kole bymekaar te krap toe skiet Fritz die bobbejaan wat voortaan as kos moes dien.

Op die kole het die bobbejaanvleis ‘n sterk geur afgegee, maar dis was tog goeie ontbytkos. Hierdie dag is net daar deurgebring en teen die agtermiddag het die water begin sak, maar hulle moes nog ‘n nag daar deurbring en van die bobbejaanvleis eet. 

Toe die sesde dag aanbreek het hulle die plek verlaat en met lewensgevaar weer by die plek uitgekom waar hulle voedsel en ander benodigdhede ‘n paar dae tevore gelaat was. Hulle slaap dus die sesde aand “under two rock sas soundly as if we were in the Grand Hotel”. 

Op die sewende dag is hulle terug kamp toe: “Three hours of alternate creeping, crawling, climbing, falling, swimming, sliding, sticking, slipping, stumbling, tumbling, wading, walking, brought us in sight of home”. Dit dan is Farini se verhaal.

Lawrence Green verwys na Edward C Rasleigh wat in ‘n boek oor watervalle van die wêreld die Augrabies byna heelbo in sy lys het, slegs twee ander valle hanteer groter volumes water met vloedtoestande en vir hom is die Augrabies “terrible and intensely impressive”.

Die diamant-legende:
In sy boek Kloof and Karroo noem HA Bryden dat die verhaal van Mowbray’s Hole of aldan “A secret of the Orange River” wat ook in die Chanbers Journal verskyn het. Baie jare gelede, volgens wyle mnr Petrus Engelbrecht van Augrabies, is op Upington ‘n sindikaat gestig om die diamant te soek, en mnr Engelbrecht se verhaal het basies nie veel verskil van wat deur Bryden oorvertel word nie.

Dit was waarskynlik vroeg in 1889 dat Bryden om die kampvuur in die Bosveld die verhaal gehoor het. Die tweede persoon, ‘n transportryer Felton, het die Engelsman (Mowbray) langs die Choberivier ontmoet, ver heen met malaria en baie dors. Op weg van Shoshong na Griekwaland is Mowbray dan ook oorlede. 

Die verhaal van Mowbray aan Felton lui so:
In 1871 het hy in Griekwaland diamante gegrawe en later op jagtogte uitgegaan, bygestaan deur ‘n Boesman Klaas wie se familie langs die Oranjerivier gewoon het. Klaas het ook by die delwerye gewerk en het diamante geken en het hom vertel van die diamantplek onderkant die Augrabies waterval. 

Met Klaas as gids het die optog begin, deur die Kalahari met die Langeberg links van hulle en eindelik by die Grootrivier “some way below the great falls” en op die enigste plek waar die rivier langs ‘n stadige helling bereik kon word. 

Hier het hulle vier dae gerus en weer weggetrek met ‘n omweg agter die berge, oor ‘n sandvlakte tot aan die voet van ‘n hoë berg. Oor hierdie berg en deur ‘n vallei het hulle koers gehou na ‘n tafelkop. Bo-op die plat kop was ‘n boomkol waar die plantegroei ‘n watergat omsoom het. Die gat was 200 voet wyd op die nouste plek met walle sowat 30 voet hoog en dit was ontoeganklik behalwe vir ‘n soort van voetpad aan een kant wat skuins afgeloop het. Van die watergat het hulle na ontbyt begin stap (teen 07:00) met ‘n kloof af, oor ‘n berg en in ‘n verlate vallei wat byna heel deur rante omring is.

‘n Kanaalagtige kloof (deur die vallei) het meteens wyer geword en skielik was die pêrelklip sigbaar. Die pêrelklip was ‘n eiervormige stuk wit kwarts wat teen die son soos opaal geskitter het. Op ‘n klip het Mowbray sy pyp gerook en water gedrink en toe lei Klaas hom na die geheime opening.

In die kol van kaktus (die melkbos Euphorbia candelabrum) was ‘n klein opening, amper soos ‘n klein kraaltjie, daar het Ariseep gewoon. Ariseep was ‘n stokou Boesman, minder as vier voet lank, Klaas se oupa, sowat 90 jaar oud. 

Dit was die bek van die geheime tonnel. Handeviervoet, en later op hulle mae het hulle gekruip en uitgekom in ‘n sirkelvormige opening vanwaar hulle die pêrelklip weer kon sien. Van hier was die pêrelklip ‘n wat band wat horisontaal vir twee-derdes van die omringende muur strek. 

Die vloer van die opening het uit riviergruis bestaan – agate, jaspic en bandoms soos in die Vaalrivier se delwerye. Binne ‘n uur en ‘n half het hulle 23 diamante opgetel wat in grootte gewissel het van een-derde van ‘n pinkienael tot ‘n klein duifeier. Mowbray het gemeen dat óf die Oranje het in die vroegste tye die gruis daar ingespoel óf dit moet ‘n vulkaniese pyp wees.

Teen 4:30 die agtermiddag het hulle weer begin terugkruip. Met hierdie terugkruip het ‘n pofadder vir Klaas aan die skouer gebyt. In Ariseep se kraal het die Ou Boesman die wond met ‘n tipe poeier behandel, maar die teëgif was te laat aangewend om vir Klaas te red. 

In ‘n sandspruit het hulle hom die nag, toe die maan opkom begrawe. Mowbray het die nag in Ariseep se kraal geslaap en vroeg die volgende oggend na sy kamp gegaan en weer teruggegaan en vir Klaas opgegrawe sodat sy ander helpers ook die oorsaak van Klaas se dood kon sien. Die diamante het hy in Engeland vir £22 000 verkoop en weer na Suid-Afrika teruggekeer.

Die laaste gedeelte van hierdie verhaal is effens verskillend deur mnr. Petrus Engelbrecht oorvertel. Volgens hom sou Klaas ‘n ou vriend, Debruin, saamgeneem het op die laaste skof van die waterplek na die diamantplek. 

Hulle het die oggend na ontbyt vertrek en van ‘n sekere punt kon hulle in die weste die Oranjerivier sien, in die suide (oorkant die rivier) swart koppies en iewers teen ‘n berg wit rotse (vgl die pêrelklip). Die diamantplek sou teenaan die loop van die rivier wees en groen plante sou in die bek van ‘n gat groei so asof dit ‘n diamantpyp moes wees wat gedeeltelik toegespoel is. 

Verder, met die terugtog, het Mowbray dan vir Debruin vooruit gestuur om die osse te gaan bymekaar maak terwyl hy en Klaas stadig aankom. Langs die pad het Mowbray vir Klaas doodgeskiet en die Debruin gaan roep en vertel dat ‘n slang vir Klaas gebyt het en hulle twee moes hom begrawe. 

By Klaas aangekom het Debruin opgemerk dat die gat voor Klaas se kop nie ‘n slangbyt kan wees nie en hy het dadelik weggehardloop. Die sindikaat wat op Upington gestig was het ook nog vir Debruin opgespoor en die laaste gedeelte soos hierbo beskryf by hom gehoor. 

Debruin was toe ‘n baie ou man wat nie meer kon loop nie en hulle het ‘n draagbaar gemaak om hom na die plek te neem. Hy het egter geweier om saam te gaan of om meer te vertel, want so sou hy gesê het: “Julle witmense het vir Klaas doodgeskiet oor die blink klippies en nou wil julle vir my ook doodskiet”.

Verder sou hy gesê het dat hy die enigste lewende persoon was wat die plek geken het en hy wou met die geheim sterf, soos dit ook gebeur het.

‘n Ander verhaal van Wabrand so word vertel, was in die Duitse tyd, ‘n rowernes. 

‘n Aantal Duitsers het die rowers agtervolg en by waens uitgekom en waens en hutte aan die brand gesteek en vandaar die naam. Van Wabrand met die rivier af is daar tekens van ‘n pad wat later suid wegswaai. Die pad eindig in ‘n nek vanwaar tekens van ‘n tuin maklik bereik kan word. 

Enige jare gelede was die terasse van die tuin nog duidelik sigbaar. Water vir die tuin kom van ‘n watergat aan die voet van ‘n kleiner waterval en bo-op die waterval is nog oorblyfsels van Oranjeriviergruise. 

Die rivier het in die vroegste jare ongetwyfeld daarlangs geloop en diamantdraende gruise agtergelaat. Na baie duisende jare het hier ‘n klein waterval en maalgate gevorm en die hoogliggende gruise kon afspoel en die maalgate kon dien om diamante te konsentreer. 

Met ‘n later vloed het rivierslik voor die waterval opgehoop. Iemand het die gruisgate ontdek en ‘n tuin aangelê om onder dekking van tuinmaak diamante uit te haal. Met die skrywer se besoek was die slik met bome, bosse en biesies begroeid en stormwaters het sloepe deur die slik gespoel en een sloep was veral besonder diep en met oorhangende plante bedek. 

Met so ‘n sloep kon Klaas en Mowbray wel handeviervoet gekruip het tot by ‘n maalgat in die rotsvloer. Mowbray was waarskynlik ‘n delwer langs die Vaalrivier en moes diamantdraende gruise geken het. Oumense verwys na hierdie plek as die Droë Val.

Deur: A.K. Cornelissen. Alwyn het hierdie geskiedenis in die 1970's aangeteken.
Hierdie is die mees digbevolkte besproeiingsgebied van ons land met die droë kalkvlaktes van Kenhardt en Boesmanland na die suide en die sandduine van die Kalahari na die noorde.

Vir my as geoloog is dit ‘n gebied van oorsaak en gevolg, van waarneem en interpreteer en dan na alles die gebied waar ‘n mens jou medemens kan dien om ten volle mens te wees. Kyk na die sweetkolle op die hemp van arbeider, kyk na die kameeldoringboom en wonder hoe oud hy is, kyk na die kalkvlaktes en wonder hoe het dit ontstaan en dan eers as jy weet dat jy min weet sal dinge waarde kry, en eers as jy raaksien sal jy sien hoe baie hier is om te sien.

Hier is die sewestêr en die suidekruis snags helder, want hier is die lug skoon. Hier was die pioniers natuurmens en ons bring hulde aan hulle wat ons voorgegaan het.
Verwysing: Wollie Burger
Saamgestel: Johan Swart. Beelde bygevoeg vir duidelikheid.
Naslaan Verwysings: