Die Kakamas waterwiele

Op ‘n tyd was waterwiele ‘n algemene verskynsel vanaf Upington tot by Kakamas. Vandag is die beste voorbeelde by Kakamas te sien. Die waterwiel is dan ook ‘n Kakamas-uitvindsel. Sover vasgestel kan word is die verhaal van die waterwiel soos volg:
‘n Sekere Piet Burger het Schröder se meul op Upington gesien en aan ‘n plan gedink om ‘n wiel te bou wat deur kanaalwater aangedryf word en die water dan so te lig om hoër liggende gronde te kan besproei. Hy vra toe vir Craill om ‘n 10 voet (sê 3m) deursnit wiel te bou, maar Craill bou die wiel en registreer die patent. Hy gebruik egter nie die skeptroggies van blikplaat gemaak nie, maar gebruik dele van ‘n bakkiespomp wat om die wiel se as werk.

Ander koloniste bou toe ook wiele, maar moes aan Craill £3 10 sjielings betaal vir sy patentreg. Mnr Koos van der Merwe vertel dat hy self ‘n 12 voet wiel gebou het waarvan die as kameelhoutmikke gewerk het, maar die bakkiespomp se ketting het te maklik met die speke van die wiel deurmekaar geraak. 

Hierdie was enkele wiele van hout gemaak en omdat hulle baie arm was, is sommer enige optelhout gebruik wat dan beteken dat so ‘n wiel se leeftyd beperk was. Pogings om Craill se patentreg vernietig te kry het misluk. 

Piet van Rensburg (van perskefaam) vertel dat hy die eerste persoon was wat ‘n ysterwiel gemaak het, hoewel die ontwerp nie syne was nie. Hy vertel van die eerste blaasbalk wat hy gekoop het hoe hy van kameelhout kole gebrand het en hy het later ‘n klein smidswinkel gehad waar hy allerlei sweiswerke gedoen het. 

Toe op ‘n dag kom mnr JW Louw by hom en verduidelik hoe hy ‘n ysterwiel moes maak en die skepbakke op die wiel moes vas sweis. Dit was die begin van waterwiele soos ons dit vandag ken en hierna was die Craillwiele ook nie meer gebruik nie.

Dis interessant dat die waterwiel eintlik langs die Nylrivier ontwikkel het waar die Egiptenare erdekruike as skepbakke gebruik het. Moontlik het die idee wel oorspronklik van die Nyl gekom, maar dit kan ook betwyfel word. 

Die gebruik van die watermeul bestaan al vanaf voor Christus en was welbekend by die Romeine varwaar dit moontlik oor die westerse wêreld versprei het. Ook aan die Kaap in Van Riebeeck se tyd wel op 27 Augustus 1659 is die perdemeul deur ‘n watermeul vervang. 

Hierdie meule het hoë vertikale wiele gehad wat in ‘n watersloot gedraai het en ‘n meulwiel kon net skepbakke by kry om ‘n waterwiel te word. Nogtans is dit sover bekend nooit gedoen nie, miskien omdat die behoefte nooit ontstaan het nie. Skynbaar het die idee tog op Kakamas ontstaan en wel met die nodige eerbewyse aan Burger of Louw.

Deur: A.K. Cornelissen. Alwyn het hierdie geskiedenis in die 1970's aangeteken.
Hierdie is die mees digbevolkte besproeiingsgebied van ons land met die droë kalkvlaktes van Kenhardt en Boesmanland na die suide en die sandduine van die Kalahari na die noorde.

Vir my as geoloog is dit ‘n gebied van oorsaak en gevolg, van waarneem en interpreteer en dan na alles die gebied waar ‘n mens jou medemens kan dien om ten volle mens te wees. Kyk na die sweetkolle op die hemp van arbeider, kyk na die kameeldoringboom en wonder hoe oud hy is, kyk na die kalkvlaktes en wonder hoe het dit ontstaan en dan eers as jy weet dat jy min weet sal dinge waarde kry, en eers as jy raaksien sal jy sien hoe baie hier is om te sien.

Hier is die sewestêr en die suidekruis snags helder, want hier is die lug skoon. Hier was die pioniers natuurmens en ons bring hulde aan hulle wat ons voorgegaan het.
Verwysing: Wollie Burger
Saamgestel: Johan Swart. Beelde bygevoeg vir duidelikheid.