Die Grootriver se storie

Hy’s oud. Twee honderd miljoen jaar gelede het vulkaniese uitbarstings ons land geskud en die uitgespoegde lawas het die magtige Drakensberge gevorm. Afloopwaters van hierdie berge was die begin van ‘n jong riviertjie wat weswaarts koers gevat het. Rondspringerig en baldadig was jy aan die begin, maar nors en dwarstrekkerig sou hy word. Grootrivier sou hom deur niks of niemand laat stuit nie.

Die prehistoriese mens het langs hom gewoon en sy waters gedrink en hulle klipwerktuie agtergelaat en hy het hom nie juis daaraan gesteur nie. Hy wat die Gariep is het gesien hoe die oermens tot Boesman ontwikkel het en hoe verskillende rasse hier aangekom het. 
Oranje Rivier suid van Rosh Pinah
Dit was eers met die koms van die blanke dat nuwe name en ontwikkelinge gekom het. Op ou Portugese landkaarte was hy gemerk as die rivier St. Anthonio. In 1487 bring Barthlomeus Dias Negerinne van die kus van Guinia om op verskillende plekke vry gelaat te word en om so nuwe kontrakte met die binneland op te bou. 

Slegte weer het vir Dias gedwing om vir vyf dae naby die mond van St. Anthonio te vertoef en so het Grootrivier sy eerste swart immigrante gekry. Eers in 1685 het hy weer van die blankes gehoor toe Simon van der Stel die koperberge van Namakwaland besoek het en met ‘n stippellyn op sy kaart verwys het na die Tyen, die groot rivier wat in die rigting van die ondergaande son loop. Van der Stel het gehoop dat hy met hierdie reis ook die legendariese Monomotapa sou sien en het so die Tyen verdoop na Vigiti Magna – een van die goue stede van Monomotapa. 
Op 26 Julie 1760 bereik die olifantjagter Jacobus Coetsè die rivier by Goodhouse en beskryf “die groot Rivier” as “drie avier hondert vueten breed en meestendeels ook seer deep”. Sowat ‘n jaar later teen die aand van 18 September 1761 sien die landmeter Carel Brink weer vir Grootrivier by Ramansdrif en skryf: “de bewoonders noemen het Ein: ook wel Chanie”. Ein of Tyen, 

Charie of Gariep was sy naam onder die bewoners maar na Jacobus Coetsè se groot Rivier het hy Grootrivier in die blanke mond geword. Robert Gordon het sy bootjie op die aand van 17 Augustus 1779 in die water naby die mond ingestoot en in die middel van die stroom die Hollandse vlag gehys, ‘n heildronk gedrink en hom verdoop na Oranje die Prins van Oranje. 

Voortaan sou jy dan op kaarte as die Oranje verskyn maar Grootrivier in die volksmond. Hy wat dwars, beduiweld en befoeterd van aard is, hy wat homself in sy norse beduiweldheid sommer by die grote waterval afsmyt, hy steur hom nie aan name nie.

Vandag loop Grootrivier sy lang pad eensaam en alleen, want sy vriende het hom verlaat. Waar Douglas vandag lê, het die vroeëre bewoners nog van die Hey Gariep gepraat. Die Hey of Ky of Vaal is nog daar, maar dis ook al wat oorbly van sy ou waters. Die Noe Gariep loop verder alleen. 

Wat eens ‘n magtige stroom vanaf die Okowangomoerasse was en waarop bote moontlik eentyd geroei is en waarby die legendariese verlore stad van die Kalahari ingeskakel kan word, is vandag ‘n dooie sandloop. Woestynwinde en sandstorms het die Molopo versmoor. 

Molapo het die Tswanas hom genoem, net ‘n waterloop en niks meer nie. Soms met groot reëns beur die Auob-, Nossob en Kurumanriviere nog om die sandduine weg te stoot, maar dit help nie, die Molopo is dood. 

Ver ondertoe by Henkries se dadelbome lê nog ‘n graf, die Koa, ‘n naam wat in die Nama se mond sandduine beteken. Die Koa was Boesmanland se rivier. Fossielafdrukke van palmblare, dinosaur beendere en verkalkte olifanttande dui op ‘n eens waterryke toestand maar vandag is sy bek verstop en lyf vol sand geprop. Galgputs, Bitterputs en Bosluis is die name van soutpanne wat vandag die ou loopplek van die Koa aandui.

Grootrivier het gehou en gekou en sy pad deur die lawaberge oopgevreet tot ‘n nou donga wat eers by Vioolsdrif effens oopgemaak het om meer asem te haal. Dit was ou Viool se woonplek, vandaar die naam. Hiervandaan gaan sy eensame pad tot deur Richtersveld waar Richter die Duitse sendeling van sy water kon leef. 
Visrivier
Hy maak ‘n wye draai om te gaan kyk waar die Visrivier se waters dan tog bly, maar die Vis kom meerendeels net in leë waterflesse aangesleep. Die befaamde Visrivierafgronde en die warm bronne van Ai-Ais vertel ook maar net groot stories van dinge uit die verre verlede. Te dikwels is die Vis se sandbedding droog met net hier en daar ‘n gat waar bobbejane drink. 

Tussen die riete by die Vis se monding het Cornell nog Grootrivier se laaste groepie seekoeie gesien. Die mens het hom kaal gemaak. Hy haat die mens. Hy moet maar omkyk-omkyk alleen loop en hoop vir goeie reëns op die Maluti’s.

Anderkant die see is daar groot riviere met groot stede op hulle oewers en hulle duld en beskerm die mens maar vir Grootrivier is die mens te saf. 
Halfmens
Al wat hy wel duld is die halfmens van Richtersveld, Pachypodium namaquanum noem hulle die ouman wat met sy breinlose kop altyd noordwaarts vooroor beur. Dit is die geharde doringbelaaide boom van die berge waar dit selde of ooit reent waar die ouman kan saampraat oor dinge wat gekom en gegaan het. Die halfmens en Grootrivier is maters.

Daar heel onder by Grootderm lê die berge agter hom, en met die see al in sig probeer die Namibwoestyn nog vir oulaas om hom voor te keer. Reisverhale vertel van sandbanke by die monding en ou inwoners vertel van wilde perde op die eiland daar. Hierdie diere kon die trillings van groot water aanvoel en as die merries dan runnik en hul vullens na die stroom lok om deur te swem het die oerbewoners geweet dat Grootrivier afkom en met ‘n dreungeluid sou die sandbank swig en breek voor die gewig van ‘n vloed.

The Atlantic is romantic. Twak, watse twak sing die stadskind tog. Dis mos die Namib wat hier begin. Die seekus van die dood. In kryt van Tersiëre tye het ons weskus stadig gelig en gedaal en met elke landsheffing moes Grootrivier hard en vinnig kerf om sy pad oop te hou, maar dan, met elke daling moes hy voel hoe sy arbeid onder die see verdwyn. By die mond vul ‘n veertig meter sand vandag sy ou bedding, sy pad waaraan hy so hard moes werk.

En nou op sy oudag kom die mense met hulle damme. Met krag en geweld wil die mens hom nou inbreek en sy waters opdam, hom verneder en van hom bloot ‘n leivoor maak. Toemaar sê Grootrivier, toemaar ons sal nog sien, so maklik laat ek my nie tem nie. 

Lusernlande en wynkelders, Ga! Dis die mens se dinge daardie, en Grootrivier haat die mens. Jy witman, jy met jou sultanas en katoen, jy met jou trekkers en lusernbale, Ga. 

Olifante, renosters en buffels soos Wikar nog langs sy oewers gesien het, seekoeie tussen sy riete, leeus wat kom drink by die monding van die Hartebees, Boesmans met gifpyle by Aukoerebis, dis meer in sy aard, Grootrivier wil wild wees.

Deur: A.K. Cornelissen. Alwyn het hierdie geskiedenis in die 1970's aangeteken.
Hierdie is die mees digbevolkte besproeiingsgebied van ons land met die droë kalkvlaktes van Kenhardt en Boesmanland na die suide en die sandduine van die Kalahari na die noorde.

Vir my as geoloog is dit ‘n gebied van oorsaak en gevolg, van waarneem en interpreteer en dan na alles die gebied waar ‘n mens jou medemens kan dien om ten volle mens te wees. Kyk na die sweetkolle op die hemp van arbeider, kyk na die kameeldoringboom en wonder hoe oud hy is, kyk na die kalkvlaktes en wonder hoe het dit ontstaan en dan eers as jy weet dat jy min weet sal dinge waarde kry, en eers as jy raaksien sal jy sien hoe baie hier is om te sien.

Hier is die sewestêr en die suidekruis snags helder, want hier is die lug skoon. Hier was die pioniers natuurmens en ons bring hulde aan hulle wat ons voorgegaan het.
Verwysing: Wollie Burger
Saamgestel: Johan Swart. Beelde bygevoeg vir duidelikheid.
Naslaan Verwysings:
Die ontstaan van die Kalahari & Die Verlore Stad storieSeevaarder Bartolomeu Dias was ook pionier van die transatlantiese slawebedryf