Die ontstaan van die Kalahari & Die Verlore Stad storie

Vandag beteken die woord Kalahari vir ons ‘n see van sandduine, die grootste in die hele wêreld en wel ‘n oppervlakte van sowat 1,2 miljoen vierkante kilometers. Vir ons hier langs die Grootrivier dek dit die plase noord van Upington tot aan die Moloporivier, maar uit ‘n wetenskaplike oogpunt word Botswana, ‘n gedeelte van Suidwes (Namibia), ‘n raps van Zimbabwe en ook die suide van Angola ingesluit.
Desert (Rooi) - Basin(Oranje)
Burchell het die woord Karrikarri gebruik terwyl Gordon van Macarigari gepraat het. Die sendeling Robert Moffat het meer spesifiek verwys na die Kgalagadistam wat in die Kalagare gewoon het en volgens hom was die Kalagare ‘n droë waterlose woestyn. 

Moontlik het die naam Kalahare dan ook van Kalagare ontstaan. Bulpin gebruik die naam Kglagadi, wat wildernis beteken, veral vir die Noordelike Kalahari waar die Okawangorivier tot diep in die sandmassa instoot en moerasse vorm. 

Daar bestaan dan ook die teorie dat die Okawango verby die Ngami-meer gevloei het tot in Wes-Transvaal (vandag Noord-Wes). Legendes lui dat met groot reëns in Angola, waters verby die Ngami-meer gestoot het en seekoeie voetpaaie deur die riete getrap het en so die ou rivier oop gehou het. 

Maar die seekoeie is uitgeroei en riete het die loop toegegroei, en dit het weer die winde kans gegee om die ou rivierloop met waaisand te versmoor en die Okawango moes dus vir hom ‘n nuwe pad in ‘n westelike rigting soek.

Geologies gesien is die Kalahari ‘n strukturele kom of sê ‘n topografiese duik in die aardkors. So in die orde van ‘n 200 miljoen jaar gelede was Suidelike Afrika eintlik plat aarde wat onder ‘n vlak see verdwyn het. 

Ysmassas en gletsers het stadig uit die noorde suidwaarts beweeg, rotse opgemaal en die sogenaamde Dwyka skalie en leiklip gevorm uit die modder wat ontstaan het. Hierdie skalie strek vandag uit die Karoo oor die Oranjerivier tot onder die sande van die Kalahari en vorm so te sê die vloer van die Kalahari. 

Suid-Afrika was destyds vormloos, stil en koud. Toe kom die groot roerings. Geweldige vulkaniese uitbarstinge en die opeenhoping van lawas, het die Drakensberge gevorm en aan die kusstrook het die land, kan mens sê, uit die see verrys. 

Met verbuigings, krommings en verplooiing is bergreekse gevorm wat in die Tersiêre tyd die sogenaamde Groot Eskarp laat ontstaan het. Hierdie Eskarp is die hoë bergreeks wat langes ons kuslyn strek vanaf Suidwes, by die Kaap om en weg van die Natalse kus. 

Dis of die Eskarp vir Suid-Afrika eintlik afhok van die see af. Maar met die geweldige uitstoting en opfrommeling moes die kors noodwendig iewers meegee en dit is die Kalahari; die aardkors het, om dit so uit te druk, ingeduik en die groot kom gevorm. 

Oor die jare heen is die kom stadigaan opgevul deur verwering van die hoër omliggende rotssoorte. Monsters uit boorgate dui daarop dat daar vir ‘n lang tyd wisselende natter en droë toestande geheers het, maar oor die algemeen was die reënval genoeg om verweerde materiaal in die kom te spoel en so konglomerate, sandstene en kalkryke formasies te vorm. 

Die prehistoriese mens het ook sy intrek geneem want dikwels word van sy klipwerktuie nog onder die waaisand gevind.

Of dit stadigaan droër en droër geword het en of die droogte skielik gekom het ,weet ons nie. Droogte en winde het egter gekom en die reuse holte is met waaisand gevul. Waar die sand vandaan gewaai is weet ons ook nie maar die tipiese rooi Kalaharisand is ingewaai en saam daarmee is alle tekens van lewe verwoes, behalwe natuurlik die klipgereedskap wat deur die oermens agtergelaat is. 

Heel waarskynlik was dit bloot ‘n vormlose sandmassa wat die kom verder gevul het en eers later nadat daar weer lewe gekom het, het winde uit ‘n bepaalde rigting begin om die sand tot paralelle duine op te hoop. Vandag strek die duine in ‘n noordwestelike rigting.

Oor die verlore stad van die Kalahari bestaan daar heelwat bespiegelinge maar geen bewyse nie. Die verhaal kom kortliks hierop neem dat die Amerikaner G.A Farini (sy werklike naam was William Leonard Hunt) in 1885 ‘n verlore stad ontdek het toe hy vanaf Rietfontein ‘n jagtog meegemaak het na die omgewing wat vandag beter bekend staan as die Gemsbokpark (vandag die Kgalagadi Oorgrenspark). 
Volgens sy beskrywing het hulle van Ky-Ky in ‘n oostelike rigting getrek, maar in die afwesigheid van duidelike landmerke is die roete wat hulle gevolg het baie onduidelik. Volgens die plekname moes hulle ‘n draai deur die teenswoordige Botswana gemaak en op hulle terugtog was daar hoë duine (hy noem dit berge) wat hom laat dink het dat hy weer naby Ky-Ky was. 

Aan die voet van ‘n “berg” ontdek Farini toe ‘n muur wat gedeeltelik met sand bedek was. Hierdie muur was in die vorm van ‘n boog. Die Basters wou jag en het dit onnodig geag om nou ‘n ou muur oop te grawe. 

Hy skryf: “on digging down nearly in die middle of the arc, we came upon a pavement about twenty feet wide, made of large stones. The outer stones were long ones, and lay at right angles to the inner ones. This pavement was intersected by another one at right angles, forming a Maltese cross, in the centre of which at one time must have stood an altar, or some sort of monument, for the base was quite distinct, composed of loose pieces of fluted masonry”

Hulle het foto’s geneem en sketse gemaak en vertrek om eers drie dae later weer by Ky-Ky uit te kom. Volgens soekgeselskappe wat nog Farini se gids, Jan, kon ondervra, blyk dit dat hulle nie die Nossob by Ky-Ky verlaat het nie, maar wel by Kameelsleep en waarskynlik volgens Dr Haldeman, het Farini ook nie weer by Ky-Ky uitgekom nie maar wel by Rooikop. 

Het Farini verdwaal en nie geweet waar hy is nie? Of het hy miskien ‘n delorietgang as ‘n muur gesien? Of is die hele verhaal uit sy duim gesuig? Die Kalahari is ‘n see van duine en ‘n honderd jaar gelede sou slegs die werklike veldmens nie verdwaal nie. 

Vandag skuif die duine nie meer nie en met die verwydering van plantegroei kon die duine nog skuif en voorwerpe kan oor- en toegewaai word.

Na alle waarskynlikheid het Farini wel op iets besonders afgekom, maar of dit ‘n rotsformasie of ‘n muur was is die vraag. Oos van die Nossob het ‘n sekere Nikolaas Coetzee ook ‘n muur gesien, maar het nie ondersoek ingestel of dit ‘n natuurlike rotsmuur of geboude muur was nie. 

Twee polisiemanne Laubser en Hauser het met ‘n kameelpatrollie tussen die Auob- en Nossobrivier in ‘n sandstorm beland waar hulle vir drie dae en nagte agter die kamele moes skuil. In hierdie tyd het die wind kraalagtige mure oopgewaai en weer toegewaai. 

AJ Clement gee in sy “The Kalahari and its lost City” ‘n goeie opsomming van moontlike mure en bouvalle wat al ontdek is en daar bestaan ‘n goeie rede om te glo dat analoog aan die Zimbabwe bouvalle ‘n vroeëre beskawing wel geboue in die Kalahari kon opgerig het. Baie van die sogenaamde bouvalle mag egter verweerde natuurlike rotsformasies wees. Dit sou dus onregverdig wees om te dink dat Farini se verhaal van alle waarheid ontbloot is.

Daar is die ou gesegde dat as jy eenmaal rooi Kalaharisand in jou skoene gekry het dan kom hy weer. En dit is so. Iets geheimsinnig in die Kalahari roep jou; jy stap op die hoogste duin uit om te sien – wat te sien? 

‘n Dame met haar skoene in die hand het oor die rooi duine gestap en vertel dat dit vir haar lekker is om die sand onder haar voete te voel. En dit is lekker as jy ‘n gevoelsmens is, as sand vir jou ‘n betekenis het, as die kameelboom se sterkte jou tref, maar veral as jy kan stilstaan en na die windgewaaide patrone op die duinsand kan kyk, as jy saans na die Kalaharistilte kan luister, as die sewester en die suiderkruis nog vir jou ‘n boodskap het. Die Kalahari is mooi en gevoelvol.

Deur: A.K. Cornelissen. Alwyn het hierdie geskiedenis in die 1970's aangeteken.
Hierdie is die mees digbevolkte besproeiingsgebied van ons land met die droë kalkvlaktes van Kenhardt en Boesmanland na die suide en die sandduine van die Kalahari na die noorde.

Vir my as geoloog is dit ‘n gebied van oorsaak en gevolg, van waarneem en interpreteer en dan na alles die gebied waar ‘n mens jou medemens kan dien om ten volle mens te wees. Kyk na die sweetkolle op die hemp van arbeider, kyk na die kameeldoringboom en wonder hoe oud hy is, kyk na die kalkvlaktes en wonder hoe het dit ontstaan en dan eers as jy weet dat jy min weet sal dinge waarde kry, en eers as jy raaksien sal jy sien hoe baie hier is om te sien.

Hier is die sewestêr en die suidekruis snags helder, want hier is die lug skoon. Hier was die pioniers natuurmens en ons bring hulde aan hulle wat ons voorgegaan het.
Verwysing: Wollie Burger
Karoo-stilte