Na Vinke, Koringlande & Beswaardheid kom Snaps & Vreetsaamheid

Ons stap vanoggend vir ons Sondag oggend wandeling met ons hond Jagter, en ek hoor vêraf, aan die oorkant van die rivier hoe mense op blikke slaan en toeters blaas in 'n desperate poging om die duisende kwelas wat op koringlande toesak te probeer verwilder. Dit laat my terugdink aan ons geveg met hierdie geveerdes, sowat dertig jaar gelede.

Destyds was oral langs die Oranje koring gesaai. Vanaf Keimoes, Kanoneiland, Upington tot by Boegoeberg, en elke jaar het die vink-probleem net groter geword. Eers het almal vinkfuike gebou en gestel, in 'n poging om die plaag onder beheer te probeer kry en as die koring die hardedeegstadium bereik, is voëljaers gehuur om die vinke te verjaag. Veral soggens vroeg en laat middag was dit 'n verbete stryd om die swerms uit jou koring te hou.

Maar die oormaat voedsel in die vorm van koring het veroorsaak dat die vinke net elke jaar beter aangeteel het en getalle het net eenvoudig ontplof. Boere het deur hul landbouverenigings 'n beroep op die regering gedoen om te help en so is daar goedkeuring gegee dat die vinkswerms met kwelatoks in die nag met behulp van 'n vliegtuig bespuit sou word.

Hiérdie was natuurlik 'n operasie met groot risiko's en daar was van besproeiingsboere verwag om toe te sien dat al die brûe en kragdrade wat die rivier kruis met spreiligte belig word waar bestryding gedurende die nag sou plaasvind.

In ons boerevereniging gebied was daar twee sleutel punte wat beman moes word nl. die Eskom kraglyn net bokant Kalbas Padstal en die tweede die Sishen-Saldanha treinbrug. Ons het gereël dat daar by dié punte twee spanne sou wees wat mekaar sou aflos met die nodige toerusting soos spreiligte, kragopwekkers en genoeg brandstof vir die nag en daar was reikhalsend uitgesien om verlos te word van die verdomde kwelas.

Vroeg die aand het ek die punte nagery om seker te maak dat alles in plek was en almal op hul pos is. Die spanne sou mekaar om middernag weer aflos.

Soos dit maar in enige boeregemeenskap gebeur was daar twee boere wat die een of ander beswaardheid teenoor mekaar gehad het en het ons gesorg dat hierdie boere nou nie in dieselfde span sou wees nie.

Ek was deel van die opvolg span en toe ek by die huis uitstap net voor 12 uur die nag het ek op die ingewing van die oomblik 'n bottel Snaps vanaf die spensrak gegryp.

By die betrokke aanmeldpunt het die vuurtjie gesellig gebrand en vêr in die Noorde kon ons die spreiligte van die vliegtuig sien soos dit in die verte sy draaie maak. Die boere wou natuurlik eers die nuutste kanaalpadstories uitgeruil voordat die eerste span verkas en die twee kwaaivriende het mekaar natuurlik sover as moontlik probeer vermy. 

Ek het vir elkeen 'n Snaps geskink en daardie nag het ek in die praktyk gesien, "drank verdra nie onreg nie." Die manne het net daar besluit om nog braaivleis en verversings te gaan haal en eers is die skema en daarna die land se probleme totaal opgelos en daar was 'n gemoedlikheid en vreetsaamheid om daardie vuur wat selfs die grootste skeptikus sou verstom en selfs die twee vyande het daardie nag die strydbyle begrawe. 

Dit was sterk skemer die volgende oggend toe oorlede Gert Maass ons kom meedeel dat die vliegtuig nie daardie nag meer sou kom nie. Daar is egter voort gekuier totdat die son daardie oggend oor ons, daar op die kanaalwal, opgekom het. Vreetsaam sê ek jou. ... Vreetsaam!
Deur: Wollie Burger