Die Rebellie van 1914 - Fondse benodig (Groblershoop)

Verlede Saterdag op die 27 November 2021, het ons paar manne, nl. Johan Karsten, Willem Blaauw, Johan Swart en die uwe die Rebelle grafte naby Kheisdrif gaan besoek.

Die eerste grafte is die van die Kaapse Rebelle wat gedurende die Anglo Boere Oorlog onder aanvoering van die Russiese Rebel, komandant Chaim David Judelewitz in ‘n geveg by Kheisdrif gesneuwel het. Hul grafte is by die tweede Knyp afdraai soos jy die pad vat vanaf Groblershoop na die plaas Winstead oppad na Boegoebergdam. Chaim David Judelewitz is egter nie saam met sy manne begrawe nie en volgens navorsing is sy lyk na Prieska geneem en moontlik daar in ‘n massagraf begrawe. Tot op hede kon ons geen inligting kry oor hoeveel Kaapse rebelle by die geveg gesneuwel het nie en ook nie die name van die manskappe nie. As iemand oor meer inligting beskik, sal dit waardeer word.
Ligging van die grafte is in blou aangedui.
-28.849333279336957, 22.03419624002535
Die tweede en enkelgraf is die van C.R. Erasmus wat Kemp se Epiese Woestyntog van 700 km vanaf Lichtenburg deur die Kalahari na Duits-Suidwes meegemaak het. Kemp en sy manskappe het die middag van die 17 November 1914 vanaf Witsand vertrek met baie van sy manskappe op daardie staduim te voet, omdat hulle perde asgevolg van dors gevrek het.
Die graf is op privaat eiendom. -28.83649753593175, 22.02362177857666
Volgens die dagboek van Jansie Jooste het hulle deur die nag getrek en eers die volgende namiddag by Kheisdrif uitgekom, ontsettend honger en dors. Regeringstroepe van Louis Botha het hulle egter by Kheisdrif voorgelê en toe die rebelle daar opdaag, het ‘n vuurgeveg ontstaan en in die geveg het sewe Unietroepe gesneuwel. 

Die volgende gesneuweldes is later by Winstead se opstal begrawe; Corporal GV Daly, Private EV Wentworth, Private WJ Bands, Private JA Antel, Private W Speicht, Private ED Flynn, Private FC Lennox. Hierdie grafte word elke jaar deur Statebondskommissie vir Oorlogsgrafte besoek en instand gehou. 
(Die Winstead grafte is op privaat eiendom en op n werkende plaas. Jy moet Stephen Van Zyl skakel om n afspraak te maak by +27 84 206 2046.)
28°55'19.0"S 22°09'20.0"E / -28.921940, 22.155551
Volgens Lokkie van Zyl se manuskrip “Plek van groot Spore” het C.R. Erasmus op die aand van 18 November 1914 daar by Keisdrif gesneuwel toe hy noodlottig deur ‘n vyandelike koël getref is terwyl hy water by die rivier gaan drink het.

Soos uit Lokkie van Zyl se boek: In sy dagboek skryf Barend J. Van der Merwe: “Daar is klein Erasmus die aand doodgeskiet. Hulle het hom soos hy oor die klippe gelê het in die mond geskiet en agter by sy nek uit. Jaap Malan het hom op sy oskar gelaai en ons het hom die volgende dag eers begrawe. My bajonet het nog sy graffie gemaak.” Hulle begrawe die enigste gesneuwelde nl. G.R. Erasmus langs die pad. Die ernstig gewonde R.Colyn word in die motorkar vervoer. (Erkenning MCE van Schoor.)Volgens Royston se verslag was daar tussen 40 en 50 Rebelle gedood en het hul 9 man op een plek opgetel.

Die Unietroepe se gewondes was na die plaas Windstead vervoer, wat op daardie staduim aan Charls Newberry behoort het. Hulle is daar in die nuutgeboude perdestalle, wat toe as veldhospitaal ingerig was, verpleeg.

Met dit ingedagte het ons daar by die rebel grafte gestaan, en na 108 jaar is al wat sigbaar is van C.R. Erasmus se graf, net ‘n paar klippe wat opmekaar gestapel is en daar iewers in die Noord-Kaapse veld lê en die Kaapse rebelle se grafte het oor jare onder sand toegewaai en toegegroei en niemand het meer geweet waar hierdie grafte was nie.

Ek het hierdie grafte met Ludick van Rensburg en Koppe Jordaan se hulp weer in 2017 opgespoor en daarom het ek sedertdien ‘n groot wens, dat hierdie grafte met ‘n gedenksteen gemerk moet word en die geskiedenis van elke veldslag daarop aangebring sal word. Dit is die minste wat ons kan doen want hierdie manne alles gegee wat hul gehad het. Hul lewens!

Johan Karsten en Johan Swart het net daar onderneem om elk ‘n skenking te maak en nou is die plan om die projek in volgende jaar af te handel en om op die 11 November 2022 met Vredesdag of Wapenstilstandsdag, ‘n kranslegging by die grafte te hou.

As daar iemand is wat ‘n bydrae wil maak, kan hulle dit by Byna Bo Landbou Unie se rekening inbetaal en dit merk Rebelgrafte Fonds
Rekening Besonderhede: - Byna Bo Landbou Unie, Nedbank, Tak 198765, Rekening Nommer 1572032707, Tjek Rekening.
Deur: Wollie Burger
____________________
____________________