Kheisdrif Anglo Boere Oorlog & GR Erasmus grafte (Groblershoop)

Kaapse Rebellie grafte - geskryf April 2018

Die Rebelspoor groep het onlangs die grafte van die Kaapse Rebelle wat gedurende die Anglo Boere Oorlog by Kheis op 28 Mei 1900 gesterf het besoek. Hulle het ook die graf van GR Erasmus wat op 28 November 1914 op Kemp se epiese tog daar in n geveg met Uniemagte gesterf het besoek.

Hierdie groepie mense was die tweede groep wat hierdie graf van GR Erasmus weer besoek het nadat dit verlede jaar opgespoor was.

Terwyl ons daar by hierdie jong man se graf staan wat meer as honderd jaar gelede hier te ruste gele was, het ek tevrede gevoel. Tevrede omdat ons hom nie vergeet het nie.

Dankie, Louis en almal van die group wat deel was daarvan.

________________________

CR Erasmus graf gevind - geskryf Oktober 2017

Gevind!!! 1914 Rebel Graf GR Erasmus.

Ja,... nou is ek tevrede, en ek doen dit omdat ek glo ons kan nie ’n jong man wat in die fleur van sy lewe, dit geoffer het vir ’n saak wat hy geglo het, groter is as hyself.

Ludick van Rensburg se aanduidings was baie akkuraat. "As jy die ou grondpad oor die ou brug na Griekwastad neem, tot by die Ou Gariep-pad se Tee aansluiting, stap dan skuins regs van die Tee in die rigting van ’’n “ruggie”, daar sal jy ’n klomp klippe kry. Dis die Graf!"
As jy op Google Maps kyk is die graf net langs die ou oorspronklike pad wat nog dofweg teenaan die duin gesien kan word.
Diè wat vir die rebellie gesterf het, het ’n roemlose offer gebring, aangesien die nageslag vergeet het waarvoor hierdie mense opgestaan het en ek het weer die inskrywing onthou wat Jansie Jooste in sy dagboek 103 jaar gelede ingeskryf het op Woensdag 18de 1914.

18 Woensdag: Ons trek nog altoos zonder afzaal, dit word 9 uur en ons het nog niks geëet en is vreeslik honger daar ons nou al trek van gister om 4 uur.

Dit is 2 uur en ons ry nog.

Om 5 uur kom ons op “Thys” (Kheis) by die Groot Rivier. Maar o wee, die Engelse is daar. Ons is nou al 25 uur zonder kos of water en ek kan nie sê hou voel ons, daar is nie woorde voor.

Ons gaan die grafte weer herstel sodat die nageslag ook hierdie manne sal onthou. Soos Freddie Stolper aan my gesê het; “Ons sal ons geskiedenis weer terugneem ”

Dankie, aan Ludick Van Rensburg vir sy aanwysings. Hannes de Witt wat toegelaat het dat ek op die eiendom kon rondloop en die hek wat hy Saterdagoggend oopgesluit het.

Ook dank aan Lede van die Upington rebellie en Geskiedenis WhatsApp groep wat reeds bydraes belowe het vir die projek.

Ons sal graag nog meer wil uitvind oor GR Erasmus. Waar hy groot geword het en sy familie. Ons sal ook graag meer wil uitvind oor die twee manne wat in die geveg gewond is, nl. veldkornet Colyn van Klerksdorp van die plaas Koloniesplaas wat in die bors gewond was en veldkornet C. Dreyer van Lichtenburg van die plaas Rietfontein wat in die oog gewond was.
_________________

Agtergrond

1914 Rebel Graf  2
Voordat ek by my telefoongesprek verlede Maandag met Ludick van Rensburg kom wil ek net, vir die wat nie op hoogte is oor hierdie stukkie geskiedenis nie, ’n bietjie agtergrond inligting gee.

Vir die wat werklik insig in hierdie stuk geskiedenis wil bekom is die boek van Louis Bothma “Rebelspoor” ’n moét.

Toe die prominente Boereleiers soos MT Steyn, De Wet, Delarey en Beyers nie daarin slaag om Louis Botha en Smits met verskeie protesaksie van hul plan te laat afsien om Duits-Suidwes-Afrika binne te val nie, besluit Kemp om self  na Maritz, wat reeds by Vanrooisvlei gerebelleer het, deur te breek. 

Sy krygsraad steun sy besluit en op 2 November 1914 begin sy epiese tog met 720 man vanaf Schweizer-Reneke na Duits-Suidwes-Afrika. ’n Afstand van oor die 700 km met baie swak toegeruste manskappe en Siener van Rensburg wat op hierdie tog ’n beduidende rol gespeel het om hulle te waarsku teen regeringsmagte wat van oraloor op hulle instroom in ’n poging om hulle te verhoed om by Maritz aan te sluit. 

Kemp het nie wapens en perde vir al sy manne nie. Selfs die paar perde wat hulle het, vrek vanweë die geweldige hitte en tekort aan water.

Op 12 November 1914 bereik hulle Witsand en word Kemp se kommando aangeval deur regeringsmagte onder kolonel J.A. van Zyl en kaptein J.P. Frylinck. Die aanval word afgeweer maar ten koste van ‘n hele paar Rebelle se lewens. 

Om 16h00 die middag van die 17 November vertrek hulle vanaf Witsand en bereik Kheis se Drif eers om 17h00 uur die middag van die 18 November. Geweldig uitgeput, meeste manskappe te voet en baie...baie dors.  

Toe hulle die laaste bult oorgaan merk hulle die Regeringstroepe daar lê en slaap. Die rebelle wil by die water uitkom en weereens volg ’n hewige skietgeveg waarin 2 rebelle gewond was en een dood. 

Ludick van Rensburg se pa Oom Daantjie was in 1906 gebore en sy oupa het vir legendariese grond- en geldmagnaat Charles Newberry geboer. Hulle huis het aan die Noorde kant van die rivier naby Kheis se Drif  gestaan en basies in die vuur van die vegtende groepe.

Oom Daantjie het vertel dat van die Unie troepe agter hul huis geskuil het en vir hulle gesê het om nie voor die vensters te staan nie. Na die geveg het die Engelse ’n “katel” by die van Rensburg’ s geleen om hul gewondes en dooies te dra.
 
Volgens oom Daantjie is die gewone troepe sommer daar begrawe en glad nie diep genoeg nie, want dit het so gestink dat die familie na Sanddraai getrek het en eers in 1916 teruggetrek het.

Die offisiere is by die begraafplaas by Charles Newberry se huis begrawe en die gewondes is in die nuutgeboude stalle vir sy stoetperde verpleeg en die wat agterna gesterf het, is by die offisiere begrawe.
 
Ludick van Rensburg het aan my baie mooi verduidelik waar die graf van GR Erasmus is en môre gaan ons dit soek. Sal laat weet as ons dit vind.
______________

Deur: Wollie Burger