Bokkloutjies plant

Bokkloutjies

Mei Maand is die tyd dat Dinteranthus pole-evansii, of in die volksmond bekend as bokkloutjies, blom. Hierdie klein skaars plantjie groei net tussen die wit kwarts klippies van die Karoo en ook naby Kalbas Padstal in die randjies daar naby.
Daar is ’n rede waarom dit juis in hierdie medium aard, want soos op bygaande foto’s gesien kan word straal die wit kwarts klippe die hitte uit en is die temperatuur onder die klippies laer en is dit koel genoeg sodat mos onder die klippies groei wat, so glo ons, die ideale groeimedium is waar hierdie saadjies kan ontkiem. 

Soos op die foto’s gesien kan word, is dit nie die geval by swart of donker klippe nie.
 
Ongelukkig is daar min dele waar hierdie plantjies nog voorkom en word hul voortbestaan bedreig. Gedurende Meimaand wanneer hulle blom is hulle natuurlik baie opsigtelik en sal diere (Skaap) hulle afvreet.

Natuurbewaring het ’n verbod op die vrye handel van hierdie inheemse plantspesie geplaas, maar ons glo indien hierdie verbod opgehef sal word sal dit net soos by die jag van wild ’n ekonomiese voordeel vir die publiek en boere inhou en sal kwekers dit teel en vermeerder en sal dit die uitwissing van die spesie voorkom.

Deur: Wollie Burger