Dorpname - Draghoeder na Putsonderwater, Opwag en Grootdrink

Hierdie streek se interessante stories oor hoe die dorpname ontstaan het. Hierdie Pasella video verwys na Draghoender, Putsonderwater, Opwag en Grootdrink.

Kyk watter belangrike rol het Draghoender in die bou van die Boegoebergdam gespeel. Daar is ook n artikel oor die springbok migrasies wat in die Draghoender distrik plaasgevind het.


____________

Die naam Grootdrink - Deur Wollie Burger

Mense is geneig om die naam Grootdrink met die wynkelder op Grootdrink of met wyn of ander alkoholiese drankies te verbind. Dit is egter nie die geval nie, en terwille van moontlike misverstande wil ons sommer by voorbaat die inwoners van Grootdrink se bona fides duidelik verklaar. 

Ons het niks teen drank nie en meeste van ons sal van tyd tot tyd selfs ook ’n wyntjie geniet,  ...terwyl ek nou daaraan dink sal ek selfs moet erken dat sommige inwoners van Grootdrink meer doen as om net ’n glasie wyn te geniet.

As gevolg van die beperkte waterbronne was groot dele van die Kalahari nie werklik permanent bewoon nie en volgens ou inwoners van ons streek het hulle grond naby die Oranjerivier gepag en dan met hul skaap ’n dag diep die Kalahari ingetrek om met hul skape daar te wei. Nog ’n dag het hulle daar gewei en dan die derde dag teruggetrek sodat die skaap die derde dag, die aand kon water drink.

As dit in die streek gereën het was daar “staanwater” en kon hulle daar met hul skape of bees bly totdat die water opdroog.

Eers nadat die Regering die ou stampbore beskikbaar gestel het, het groot dele van die Kalahari meer toeganklik geword vir boere.

Voor 1950 was groot dele van die Kalahari bykans ongetem en het groot troppe wild daar voorgekom, met geen grensdrade wat hulle ingeperk het nie. As dit droog was het die wild na Oranjerivier getrek om daar te kom water drink.

Nie oral langs die rivier was egter geskikte drinkplek nie. Sommige plekke was die walle te steil en op ander plekke het die diere in die modder vasgesit. By Grootdrink was die terrein egter geskik en het groot troppe wild daar kom drink.

Ja,. .. jy het reg geraai, dit is waar die naam GROOTDRINK vandaan kom. Die plek waar die drink plek was, is eintlik aan die oorkant (Noorde Kant) van die rivier en die plaas se naam is ook Grootdrink.

___________

Deur: Wollie Burger

Saamgestel deur: Johan Swart