Runderpes - Rinderpest

Ons het almal groot geword met die verhale van die Runderpes wat deel was van die groepsgeheue van die Afrikaner, maar tog weet ons bitter min daarvan.

Hierdie gebeure het ‘n geweldige rol gespeel in ons geskiedenis, veral as in gedagte gehou word dat dit die Anglo-Boereoorlog vooraf gegaan het. Tog word min melding daarvan gemaak, en word die impak daarvan nie ten volle verreken nie.

In die 1890's het 'n mutasie van die runderpesvirus Afrika getref, wat beskou word as "die mees verwoestende epidemie wat suidelike Afrika in die laat negentiende eeu getref het".

Dit het meer as 5,2 miljoen beeste suid van die Zambezi doodgemaak. Bees, skape, bokke, buffels, kameelperde en wildebeeste het as gevolg daarvan gevrek. Dit het gelei tot hongersnood wat gelei het tot die dood van 'n geskatte derde van die menslike bevolking van Ethiopië en twee derdes van die Masai van Tanzanië. 
Die hongersnood het Afrika suid van die Sahara grootliks ontvolk, wat weer doringbosse toegelaat het om die gebied in te dring. Dit het weer die ideale habitat gevorm vir tsetsevlieg, wat slaapsiekte veroorsaak het, en die gebied ongeskik gemaak het vir vee.

Die virus is vermoedelik in 1887 vanaf Eritrea ingebring deur Indiese beeste wat deur die Italianers gebruik was vir hul veldtog teen Somalië. Dit het deur die Horing van Afrika versprei, en het die Zambezi in Maart 1896 oorgesteek.

In Maart 1896 is dr Arnold Theiler, 'n Transvaalse veearts, deur president Paul Kruger gelas om na Bulawayo te gaan om die kommerwekkende berigte van wydverspreide beesvrektes rondom Bulawayo te ondersoek. Daar het hy CE Gray, 'n opgeleide veearts ontmoet en saam het hulle bevestig dat die siekte runderpes is .

Die epidemie het vinnig deur middel van transport-osse teen 'n tempo van twintig myl per week vanaf die suide van Matabeleland na Betsjoeanaland versprei. In die nasleep van die pandemie was daar tonele van verwoesting. Honderde ten volle gelaaide transportwaens was gestrand, omring deur duisende stinkende karkasse van osse wat langs die transportroetes dood gelê het. Baie osse nog in hul tuie en die stank op die roetes was byna onuithoubaar.

Slegs 10% van die osse het die pes oorleef. Die transportryers was verpletterde en het finansiele ondergang in die gesig gestaar, omdat hulle nie hul vragte kon aflewer nie. Hulle moes hul waens net so in die veld laat, waar aasdiere die karkasse verslint het en het te voet terug na Griekwaland-Wes aangesukkel.

Toe hulle egter by hul huise en plase kom het die siekte hulle reeds vooruit gegaan en het baie van die vee reeds op hul plase gevrek. Oornag is hulle nie net van hul inkomste uit vervoer ontneem nie, maar ook hul lewensmiddele soos vleis, vet, botter en suurmelk, en die wild vir die pot het in die slag gebly.

Die ekonomie was verlam. Honderde boere het oornag van welvarende grondeienaars tot grondlose armblankes gegly. Mafeking en Vryburg is verreweg die swaarste getref in die eerste golf van die epidemie. Sowat 97% van koloniale Betsjoeanaland se beeste het gevrek. Slegs 2 450 stuks grootvee het in Mafeking oorleef.

Die regering het die Runderpes Wet in Julie 1896 afgekondig en drastiese kwarantyn maatreëls inwerking gestel wat verdere swaarkry veroorsaak het, hoewel die sterftesyfer van die beeste wel gedaal het. In Barkly-Wes het 62% of 26 374 beeste gevrek, in Herbert- en Hay-distrikte 48%, of sowat 14 000 beeste, en Prieska 46% of 4 983 beeste.

Onder die Diere Siektewet was alle distrikte vanaf September tot Oktober 1896 in Griekwaland-Wes en Betsjoeanaland onder kwarantyn geplaas en was altesaam 70 distrikte of streke oor die hele Kaapkolonie in kwarantyn geplaas. Dit was eers in April of Mei van 1898 opgehef.

In Transvaal het Kruger in Maart 1896 'n proklamasie uitgereik wat die beweging van beeste verbied het, maar transportryers wat probeer het om hul huise te bereik, het runderpes in Zeerust ingedra.

In die Betsjoeanalandse Protektoraat het swartes die dood probeer vryspring deur ruspes, bas van bome, wortels en verrotte karkasse te eet.

Die runderpes het voort gewoed en dit moes ‘n groot invloed op die uitslag Boereoorlog gehad het. Twee derdes van die beeste, of 1 002 297 en ‘n onbekende getal wild het in die Transvaal gevrek. Nie 'n os het in die Soutpansberg oorleef nie. 

In die Waterberge het mense van alle rasse die droogte probeer oorleef, maar groot swerms sprinkane het dit wat van die weiding oor was, kaal gevreet. Die sterftes as gevolg hongersnood was geweldig hoog.

In Transvaal het die transport bedryf in 1896 vir baie maande tot stilstand gekom. Transvaalse distrikte wat swaar getref was, sluit in Lydenburg, Piet Retief, Rustenburg, Pretoria en Wolmaransstad.

Omdat die Transvaalseboere hoofsaaklik tabak verbou het en groente uiters skaars was het die skielike verlies aan slagbeeste, wild en suiwelprodukte en dierevet, ‘n voedseltekort veroorsaak en het dit ramp afmetings vir die plattelandsebevolking te weeg gebring. Swart en wit het mekaar die skuld gegee vir die verspreiding van die siekte. 

Haastig opgerigte heinings het die beweging van beeste en vleis gestop en het dit tydelik die Oranje-Vrystaat en Natal beskerm totdat die siekte in 1897 deurgebreek het en ook daar verdere verwoesting veroorsaak het.

Omdat boere magteloos was en moes toekyk hoe hul voortbestaan voor hul oë vernietig word, het hulle uit desperaatheid baie onwetenskaplike rate uitprobeer om hul diere te probeer red. Al hierdie rate wat boere beweer het sou help, is deur navorsers beproef maar met geen sukses nie en in sommige gevalle het dit net gehelp om die pes nog vinniger te versprei.

Een van die rate was om Beeste roulynolie te voer, die bekke uit te was met paraffienolie en sout. Teer is rondom besmette beeste se neuse gesmeer. Nog een van die rate warvoor daar groot hoop was is die Oosthuizen metodes wat soos volg uitgevoer moes word;

Die volgende stowwe moes van ‘n bees verkry word wat reeds vir drie dae swaar aan runderpes gelei het.
4.3 Eetlepels slym van die melkderm
4.3 Eetlepels water uit die melkpens
16 Eetlepels bloed uit die hart van die siek dier.

Die stof moes op ‘n koelplek bewaar word en moes binne drie dae gebruik word. Die enting is gedoen deur skaapwolpluisies in die serum te week en dan in snitte aan die stert en in die keelvel te plaas.

Op 30 Oktober het landdros Schutte, dr Theichman, ‘n veearts en Oosthuizen na Wallmanstal vertrek waar die efektiewiteit van die metode getoets sou word. 152 uit 200 beeste is volgens die Oosthuizen metodes behandel en op 12 November 1896 berig landdros Schutte dat die besmette bees wat geënt was, almal gevrek het.

Pres. Paul Kruger het verskeie biddae verklaar om die boere van die pes te verlos. Alle maatreëls was tevergeefs weens ’n gebrek aan heinings, onverskilligheid en die moedswillige verskuiwing van vee in die nag.

Die Kaapse regering het aan die begin van Oktober 1896 die Duitse Bakterioloog Dr. Robert Koch na die Kaap genooi om navorsing te kom doen met die oog op ‘n teenmiddel teen runderpes. ‘n Terrein net buite Kimberley is geïdentifiseer waar hy navorsing kon doen. 

Op 10 Februarie 1897 kom hy aan die Kaapse regering rapporteer dat hy ‘n metode onwikkel het om beeste teen runderpes te immuniseer. Sy metode was om beeste met ten minste 10cc gal in te ent wat uit ‘n siek dier onttrek is.

Dr. Koch se metode was steeds baie riskant en in ‘n verslag word genoem dat van die 800 beeste wat streng volgens Dr. Koch se voorskrifte geënt was het 150 kort daarna gevrek en 200 het ernstig siek geword.

Die was uiteindelik die dokters, Arnold Theiler, Franse Bakterioloë Jean Danysz, Jules Bordet wat op 17 Maart 1897 die eerste navorsing resultate bekend gemaak het van ‘n nuwe serum wat ontwikkel was uit die bloed van diere wat runderpes oorleef het.

Dit het ‘n einde gebring aan die runderpes-epidemie wat die wêreld eeue lank geteister het, maar dit was nie die einde van die armoede wat dit duisende mense ingedompel het nie.
Inligting op Google gekry, maar veral uit die tesis deur Joachim Paulus Kotzè in 1974 “Die runderpes in die Transvaal en die onmiddellike gevolge.”

Deur: Wollie Burger