Tefty se Kafee, Le Roux straat, Upington 1964

Soms as ek tyd het, soos tans, wonder ek hoe werk die mens se brein. 

Ek is binne ʼn liggaam waaroor ek redelik beheer het en ʼn brein wat nie ek is nie maar wat opdragte wat ek gee aan liggaamsdele gee, sonder aarseling. Ons kyk deur oë en hoor met ore en stoor dit as herinneringe en emosies wat weer opgeroep kan word na baie lang tydperke. 

So sien ek vanoggend op ʼn F B blad die naam Tefty Cohen, en na 56 jaar kry ek steeds ʼn beklemming as ek die naam hoor. Dit was in 1964 dat ek eerste met Oom Tefty te doen gehad het. Hy was een van die lede van Upington se Joodse gemeenskap en hy het ʼn Kafee gehad, naamlik Tefty se Kafee in Le Roux straat. 
Ek onthou hom, nie omdat die oom iets aan my gedoen het nie, maar suiwer omdat dit die jaar is wat ek hoërskool toe moes gaan en ek in die Koshuis beland het. Miskien was die aanpassing vir die ander standerdsessies minder traumaties maar vir my was die aanpassing uiters moeilik. 

Die manne wat destyds seniors (Van 8-10) was, wat ek kan onthou was is Hans Minnaar, Eric Spanneberg, Benna (Weet nie wat sy van was nie) Maree, maar een naam wat veral vrees by ons ingeboesem het was Denton Smit. Ek kan onthou dat hy een aand vir Maritz Human, 'n kamermaat, geklap het dat hy ʼn aartjie in sy oog gebars het. Maar dit net ter agtergrond. 
Die senior manne het middae met stiltetyd na ons sotte se kamer gekom met die opdrag dat ons na Tefty toe moet gaan om slap chips te gaan koop. Ek weet nie of daar ‘n ooreenkoms met Oom Jan Visagie (Koshuisvader) was nie, maar alhoewel ons bang was om gevang te word, weet ek nie of daar een gevang was nie. 

By Tefty se kafee het ons die pakkies chips gekoop en dan weer koes-koes die pad terug gevat koshuis toe. Maar daardie reuk van die asyn en chips was vir ʼn koshuisbrak oorweldigend, en kon ek nie help om by elke pakkie ʼn paar chips te steel nie. Ek moet sê die onthou van Tefty Cohen se chips oortref my slegte herinnering van Denton Smit. 

Maar soos ek sê, die menslike brein het die vermoë om hierdie inligting vir so lank te kan stoor. Die emosie, die reuk van die Kafee, en die geur van asyn en chips. ...Fenomenaal!

Deur: Wollie Burger Facebook Post Link.