Die dag toe my broer nie my lewe wou red nie


Die dag toe my broer nie my lewe wou red nie

Ek wonder hoeveel mense kan sê dat hulle al so dors was dat jy bang was jy gaan dood?
Dit was vroeg in die Desembervakansie van 1957. Hendrik Skeffers was die skaapwagter en het soos gewoonlik laat die middag met die trop skaap uit die veld by die kraal aangekom. Pa het by die hek gestaan en die skaap ingetel en die stof het in die windstilte oor die werf en in die skynsel van die laatmiddagson bly hang, en saam daarmee was daar die reuk van kraalmis en karoobossies.

"Hendrik," het ek Pa hoor sê, "jy moet kyk of jy nie weer vir ons grashout kan grawe as jy weer daar op die rantjies duskant die berg met die skaap gaan wei nie."

Ek het eers later in my lewe vasgestel dat grashout eintlik van die wortel van 'n wilde angelier afkomstig is. Die oumense het die wortel vir 'n wye reeks siektes gebruik, soos maag-ongesteldheid, of vir seerkeel en mangelontsteking. Die wortel is met die mes afgeskraap en dié is in lou water gegooi en dan vir 'n seerkeel gegorrel, of vir 'n onklaar maag gedrink. Ek kan onthou, wanneer die skraapsel met water meng, gee dit 'n skuim in die water met 'n sterk kruie-reuk en smaak.

Die verwysing na die "Berg" het onmiddellik my en my broer Kobus se aandag getrek. Grootdrink se berg is ongeveer vyf kilometer vanaf die plaasopstal, soos die kraai vlieg. Ek weet die Bolanders het soms neerhalend na ons berg as koppe verwys, maar vir ons uit hierdie wêreld is dit 'n "berg". Ons het met Hendrik afgespreek en die volgende more het ons net vinnig ons mieliepap afgesluk en toe ons by die agterdeur wou uitstorm, het my ma nog agterna geroep, "vat julle nie iets saam nie?" Ons het elkeen net 'n handvol hanepoot-rosyntjies in die sak gestop en die pad gevat kraal toe.

Hendrik was besig om die boklammers af te keer en 'n paar kruppel diere se pote met dip te behandel. Ons het probeer help en ek het gesien hoe die groot bokkapater hom verveeld teen die hoekpaal staan en skuur terwyl hy wag dat die kraalhek moet oopgaan. As sewejarige knapie was ek nogal lugtig vir hierdie moerske bok wat kop en skouers bo die res van die vee uitgetroon het, en sy hele houding het getoon dat hy die onbetwiste leier in die trop was.

Seker omdat Hendrik elke dag alleen met die trop in die veld was, het hy met die vee soos met mense gepraat en gesels terwyl hy daar in die kraal met hulle besig was. "Toe kom nou, Ounooi, staan stil dat ek die dip tussen jou kloue kan inkry," of vir die boklammers, "hou op skreeu, julle is dik gesuip, gaan lê daar onder die bosse in die koelte!" Ek het nooit geweet hoe oud Hendrik was nie - enigiets tussen agtien en veertig. Opgewek, vrolik en klein van postuur.

Toe die hek oopgaan het die trop dadelik rigting gekies veld toe. Pa het vir ons die vol roomkan by die plaashuis aangegee. Dit was Woendag, dié dag wat die spoorwegbus sy roete tussen Upington en Kleinbegin gedoen het. Eers is ons met die trop oor die kanaalbrug en toe oor die Upington-Groblershoop grondpad. Ons het die roomkan onder die witgatboom by Dwergies-Hoogte busstop gelos en die vee teen die rantjie uitgedruk en gekeer dat hulle nie te veel uitsprei nie. Die bokkapter wou kort-kort sy eie koers met die trop kies, maar Hendrik het met hom gepraat: "Berg toe, Oupa, ons gaan vandag berg toe!" Oupa het 'n paar keer oor sy skouer gekyk, so asof hy net wou seker maak dat hy Hendrik se gedagtes reg lees, en toe wei-wei rigting gekies berg toe en die trop het gevolg.

"Daai bok kyk nie net nie, hy sien!" het Hendrik opgemerk. Ons het rustig die trop gevolg en met die voëlrekke teiken geskiet. Hendrik het die plante en insekte aan ons uitgewys en op sy manier die voëls se roep nagemaak. Vandag nog kan ek Hendrik se assosiasies met verskillende voëls onthou, soos die lemoenduifie se roep, ‘Ek-wil-`n-stukkie-roosterkoek-hê! ... Ek-wil-`n-stukkie-roosterkoek-hê!

So het ons die veld op 'n nuwe manier ervaar en ontdek. Die oënskynlik lewelose veld was vol lewe as jy iemand soos Hendrik het wat die veld en die natuur vir jou kan lees. Ek en Kobus het kort-kort van die rosyntjies in ons broeksakke geëet, maar Hendrik het dié wat ons vir hom gegee het in sy sak gesteek en gesê hy sal dit later eet, want rosyntjies het die gewoonte om 'n man water toe te sleep. Ek het nie verstaan wat hy daarmee bedoel nie, maar voor die dag verby was het ek deeglik geleer wat hy bedoel.

Soos ons nader aan die berg kom kon ek sien die berg is nie net die berg nie, maar dat daar rantjies en klofies was waardeur ons moes gaan om by die berg uit te kom. So by elfuur het ons die trop in 'n klofie gedruk en ons kon hoor hoe die trop die welige groen gras met 'n ruk van die kop so girts ... girts met die tande afsny. Ons is die berg uit en het eers moeg en uitasem langs mekaar op die kruin van die berg gaan sit en afgekyk oor die wye vlaktes wat onder ons oopgevou lê. 
Die droë lopies het soos are die landskap deurkruis en die groen vallei van Oranjerivier en die besproeiingskema was net 'n dun strepie groen in die oneindige uitgestrekte van die Karoo. Die Desember-son het genadeloos daar op ons neergebrand en ek het die dors begin voel en gedink aan Hendrik se waarskuwing vroeër die oggend.

Kobus het 'n klip in sy rek gesit en hoog bo die horison gemik en ek het gedog dit sou maklik die voorste rantjies haal. Ons drie het die klip met ons oë op sy trajek gevolg. Eers het dit koers gekies daar na die rantjies voor ons, maar toe het dit momentum verloor en met 'n boog grond toe geval en in die kloof voor ons verdwyn. Ons het beurte gemaak om te kyk wie die verste kon skiet. Hoe lank ons daar bo besig was weet ek nie, maar dis Hendrik wat ons aan die trop vee herinner het. 

Ons het dwars teen die berg se hang begin afklim tot ons onder in die kloof kon sien waar ons die trop gelos het. Alles was egter leweloos en daar was geen teken van die trop nie, terwyl die son genadeloos op ons neerbrand en die dors 'n al groter werklikheid geword het.

Kobus en Hendrik het vooruit geklouter en ek het probeer byhou tot die spoeg in my mond opgedroog het en my tong dik aan my verhemelte vasgeklou het. As sewejarige het ek besef ek sou dit nie maak nie. Ek was te dors en die naaste water net te ver. Kobus het weer van voor af gekom, rooi in die gesig van die inspanning en stres. 

Hy en Hendrik het besluit om in die teenoorgestelde rigting na die trop te gaan soek. Hy het seker gesien sy jongste boetie is in die moeilikheid en gevra of ek "oraait" is. "Kan jy net in my mond spoeg?" het ek gevra. "Is jy simpel!" Ek kon die skok en afgryse op sy gesig lees. "Bly net hier, as ons die trop kry sal ons jou roep," en met dié is die twee teen die berg af.

Ek het daar gesit en met die oë gekorrel waar die plaasopstal is - net 'n wit vierkantige blokkie in die verte met die hittegolwe wat oor die vlaktes gallop – en geweet tot daar sou ek dit nie maak nie. Op die grondpad het ek die stof van die Diamond-T spoorwegbus gesien. Ek kon nie die bus se dreuning hoor nie, net die geklap van die bus en sleepwa se vere soos dit oor die sinkplaatpad sy weg probeer baan, en geweet hy gaan ons roomkan oplaai.

'n Beweging daar in die verte het my oog gevang. Ek het eers gedink dis net my verbeelding en dat die hittegolwe en lugspieëling met my verbeelding parte speel, maar daar in die verte was 'n beweging. Toe sien ek nog 'n wit kolletjie wat beweeg... en nog een... en nog een. Die trop was al twee kilometer ver oppad plaas toe met Oupa natuurlik vooraan.

Hendrik en Kobus het onder my uit 'n klofie op 'n ruggie uitgeklim en ek het so hard ek kon geroep. Uit die stilte het my eie stem my gekoggel soos die eggo’s teen die berg se hange en klowe vasslaan en terug weerkaats. Die twee het daar van onder opgekyk en ek het met die arm gewys waar die trop omtrent is. Vir 'n hele tyd kon ek sien hoe hulle met die oë na die trop in die verte soek en toe kon ek Hendrik se uitbundige gelag hoor. "Dis daai donnerse kapater! Oupa jou ou bliksem!" het hy geskreeu en weer uitbundig gelag. Hulle het vir my gewag en ons is saam die berg af.
Onder in die vlakte het Hendrik 'n ghaap opgespoor, 'n vinger van die plant afgesny, net die dorings afgeskil, dit in drie verdeel en vir my en Kobus gesê om dit te eet, dit sal help vir die dors.
Baie jare later is die ghaap (Hoodia gordonii) in ons droë streek byna uitgewis as gevolg van die mens se gierigheid. Dit is tot 'n poeier verwerk en in botteltjies verpak wat vandag nog ten duurste as eetlusdemper verkoop word.

Dit was ontsettend bitter, maar ek het daardie dag agtergekom as jy dors is, sal mens enigiets eet om vog in jou liggaam te kry. En ja, dit het gehelp en ek het dit tot op die plaas gemaak, waar ek by die windpomp gaan staan het en die blink water gedrink... en gedrink... en gedrink het.

Deur: Wollie Burger