Jagters van die duine - Die storie van die Kalaharileeu (Fritz Eloff)

Die bekende dierkundige Fritz Eloff se bemoeienis met die Kalaharileeu het reeds in 1958 begin toe hy een aand teen sononder die koninklike brul van 'n leeu tussen die rooi duine hoor opklink het. 

So beïndruk was hy met die selfversekerde geluid wat die aarde behoorlik laat bewe het, dat hy besluit het hy moet die leeu behoorlik leer ken. Maar daarvoor moes hy die Kalahari, die tuiste van dié statige diere ook verstaan: '... sy stof, sy hitte en sy koue, sy plante en al die diere wat deel van die leeu se voedselketting uitmaak, ook diere met wie hy kompeteer vir voedsel.

So skryf hy vroeg in hierdie boek, wat die resultaat is van 40 jaar se uitgebreide navorsing en talle opwindende ervarings. In toeganklike taal word die Kalaharileeu se fisieke eienskappe, sy habitat, sy plek in die ekosisteem en sy interaksie met die mens dan bespreek. 

Ten slotte kom ook 'n paar legendariese leeumannetjies en -wyfies aan die bod en besin die skrywer oor die oorlewingskanse van die Kalaharileeu in 'n veranderende wêreld.