Voortplanting van die Springbok, Gemsbok, Sebra, Eland, Hartebeest, Blesbok & Volstruis

Wikar was die eerste blanke persoon wat die teenswoordige Upington besoek het (sowat 200 jaar gelede in 1778 en hy beskryf leeus, olifante, seekoeie, buffels, renosters, kameelperde, gemsbokke, koedoes, volstruise en ander kleiner wildsoorte hier langs die rivier. Hierdie diere het voor die bek van die geweer verdwyn.

Wetenskaplikes het interessante navorsing gedoen oor die gedrag van wilde boksoorte en hier word nou net kortliks verwys na diere van Spitskop Natuurreservaat. 

Oor voortplanting is gevind dat lammers (kalwers) altyd gebore word net voor die reëntyd sodat die moeders op die groen veld kan wei en die kleintjies van genoeg melk kan voorsien. Dit beteken egter dat paring volgens die lengte van die dratyd moet geskied; waar die kleintjies in die lente gebore word en die dratyd ses maande is moet paring dus in die herfs geskied, en as die dratyd nege maande is moet paring drie maande vroeër geskied. Hoe die natuur hierdie aanpassing maak is nog onbekend. 

Springbokke en elande is besonder aanpasbaar en by hulle kan geboorte enige tyd van die jaar geskied, maar nogtans sal hulle hulself in ‘n nuwe omgewing aanpas volgens die reëntyd. By die springbok is die dratyd 168 dae en vroulike bokkies kan al op ouderdom 28 weke paar (maar die manlike bokkie moet eers ‘n jaar oud wees) maar nogtans kan die vrugbaarheid baie wisselvallig wees. 

In ‘n trop lam daar gewoonlik 80% van die ooie bo 27 maande, maar hierdie syfer kan daal tot 53% of styg tot 100% volgens die weidings-toestande. ‘n Springboklam kan vanaf ses weke ouderdom sonder melk klaarkom, maar nogtans suip hulle dikwels tot ses maande ouderdom en solank die lam suip word die ooi nie dragtig nie. 

Waar lammers weggeneem is het die ooie tweemaal per jaar gelam. Dis ook gevind dat die ooilammers op sewe maande ouderdom al 83% volgroeid is, terwyl ramlammers op sewe maande slegs 57% volgroeid is.

Die natuur maak dus voorsorg dat die vroulike springbok so gou moontlik kan voortplant indien die weiding gunstig is, maar as die weiding ongunstig is sal die lam langer suip en die ma sal nie dragtig word nie. 

Die pasgebore springboklam kan dadelik hardloop, maar sterf gou aan uitputting. So ook het by ‘n troppie wat rondgejaag is een derde van die lammers gevrek. Dit lyk of die natuur op hierdie wyse die sterkste bokkies behou vir voortplanting.

In teenstelling met die springbok en eland is diere soos die blesbok, rooibok en koedoe nie baie aanpasbaar nie en hulle paringstyd is baie kort. By die blesbok is selfs gevind dat hy in die lente en vroeg somer glad nie kan paar nie.

‘n Ander interessante bevinding is dat daar nie so iets as uitgeskopte ramme of bulle bestaan nie, soos wat vroeër geglo is nie. Net siek diere word soms uitgeskop. Die alleenlopers, so is nou bevind, is juis die teeldiere. 

By wilde diere is daar ‘n soort van sosiale organisasie. Elande en sebras bly in die trop, maar die sterk manne het hulle harems van sê twee tot vyf vroulike diere. Ander diere soos die wildebeeste, rooibokke, springbokke en ander groepdiere sorteer hulself uit in drie groepe: die koeitrop van vroulike diere en kleintjies, die bultrop met net manlike diere en dan die alleenlopers of territoriale bulle. 

Hierdie alleenlopers sal vir hulself ‘n area afpen en daar bly, soms vir ‘n rukkie by die bultrop aansluit, maar tog weer terugkeer en met paartyd sal so ‘n ram of bul net sy terrein verlaat om te gaan water drink, maar verder bly hy op sy territorium. 

Teen bronstyd besoek die koeitroppe dan hierdie territoriums een na die ander. Hierdie territorialisme word beskou as ‘n voorvereiste vir voortplanting en by sommige diersoorte is gevind dat die manlike dier seksueel heeltemal volgroeid is, maar hy sal nie paar tensy hy vir ‘n ruk alleen gewoon het nie.

Normaalweg is daar by wilde bokke geen siekteprobleme tensy hulle maer is nie. In wes-transvaal is gevind dat oor ‘n periode van 15 jaar slegs 0,4% van die diere aan siektes vrek is. Plante soos vermeerbos, dubbeltjie en bitterbos waarvan mak diere maklik siek word doen aan wilde diere geen skade nie. In parke lê die probleem bloot by kossoorte. 

Die eland wil byvoorbeeld ook bossieveld hê en as hy net van gras moet lewe ontwikkel daar probleme. By springbokke is lank geglo dat daar spesies bestaan, die groter en kleiner spesies, maar dis nou bevind dat dit bloot ‘n kwessie van weiding is. In parke waar weiding ‘n probleem skep word lekke aanbeveel om voedingstekorte aan te vul en so ‘n lek moet ook ontwurmingsmengsel bevat.

Beskikbare gegewens oor die diersoorte is as volg:

Springbokke – antidorcas marsupialis
Ram tot ooi verhouding: 1:7 (selfs 1:10)
Dratyd: 168 dae
Lewensduur: 10 jaar
Gewig: 70 – 80lbs (32 – 36kg)
Vreet blare en gras

Gemsbok – oryx gazella
Bul tot koei verhouding: 1:3 tot 1:5 (of dit die beste teelverhouding is, is onseker, maar sommige boere meen dat dit die besering van jong bulle deur oues tot ‘n minimum beperk)
Dratyd: 275 dae
Lewensduur: 20 jaar
Gewig: 400 – 465lbs (182 – 210kg)
Rekord horinglengte: 48 duim (122cm)
Kalwers word gebore met sagte horings ¾`` - 2 duim (2 – 5cm) lank

Dit word beweer dat die gemsbok heeltemal sonder water kan klaarkom indien daar bolplante is om te vreet. Die bok is ook voorsien van ‘n temperatuur beheermeganisme; dit word vertel van ‘n geval waar ‘n bok drie dae met sy horings deur ‘n leeu se liggaam in die warm Kalahari somerson gelê het en toe bevry is het hy ‘n rukkie gewaggel en daarna weggestap.

Sebras - twee soorte is bekend, die bergkwagga of Equus Zebra en die gewone of Burchells sebra, Equus burcelli.

Die bergkwagga het ‘n wit pens terwyl die gewone sebra ook gelerige skadustrepe het en sy strepe gaan om sy pens. Verder het die bergkwagga ook ‘n keelvel en die strepe om sy bene gaan tot by sy hoewe terwyl die gewone sebra geen keelvel het nie en die strepe is net aan die buitekant van die bene en word vaag onderkant die knieë. By sebras skei die manlike en vroulike diere nie en ‘n groot hings hou ‘n harem van twee tot vyf merries.
Dratyd: 360 dae
Lewensduur: 29 tot 35 jaar
Gewig: Gemiddeld 700 lbs (320 kg) word genoem en merries is gewoonlik swaarder as hingste. Sebras is al as trekdiere gebruik maar is lui. Hulle vreet verkieslik growwe gras en verkies die geselskap van blouwildebeeste en volstruise.

Elande – Taurotragus oryx
Die eland hou van bossieveld en floreer nie op gras alleen nie. ‘n Bul hou gewoonlik meer as een koei aan en dratye van 270 tot 279 dae word aangegee. Verse kan van 2 ½ tot 3 jaar ouderdom teel terwyl hulle eers normaalweg op 4 jaar kan teel. In die Kruger Wildtuin is gevind dat as ‘n vers eenmaal gekalf het dan kan sy daarna omtrent elke nege maande weer kalf. ‘n Lewensduur van 15 jaar word genoem. ‘n Eland kan besonder vet word en gewigte van 1200 tot 1600 lbs (545 tot 730 kg) word genoem. Dit word beweer dat ‘n Boesman verkieslik sy spyskaart geteken het en omdat elande meer as enige ander dieët geteken is dui daarop dat hy verkieslik elandsvleis geëet het.

Hartebees – Alcelaphus caama
Die bul tot koei verhouding is onbekend. ‘n Dratyd van 240 dae en ‘n lewensduur van 15 jaar word genoem. Die gewig word aangegee as 300 – 400 lbs (135 – 180 kg) en hoewel die dier lomp van voorkoms is, word dit beweer dat hy tot 40 mpu (65 kmph) kan hardloop. Die gate onderkant die oë is met ‘n wasagtige stof gevul wat na bewering groot mediese waarde het. Onder hartebeeste is dit die gewoonte dat ‘n ou koei oor die trop waghou.

Blesbok – Damaliscus albifrons
‘n Dratyd van 270 dae en ‘n lewensduur van 12 jaar word genoem. Dit word beweer dat beide die manlike en vroulike diere ‘n kort paringsperiode in die herfs en vroeë winter het en dat die paringsdrang van die manlike dier baie vinnig kan afneem, tot so ‘n mate selfs dat daar twyfel bestaan of die diere in die lente en vroeë somer in staat is om te paar. Dit word dan ook aanbeveel dat die diere in Maart en April glad nie gesteur moet word nie.

Volstruis – Struthio camelus
Die wetenskaplike naam verwys na die benaming kameelvoël soos dit deur die Arabiere genoem word. Die volstruis was welbekend in die ou testamentiese tyd en Moses het dan ook ‘n lys opgestel (Levitikus 11:13 – 19) van voëls wat nie geëet mag word nie, onder andere die volstuis. In die boek Job (39:16 – 21) word die domheid van die volstruis beskryf met die woorde “...want God het haar die wysheid ontsê en haar geen deel gegee aan die verstand nie.”

Volgens fossiel ontdekking het die volstruis vroeër oor die hele suidelike halfrond voorgekom, maar vandag is hierdie grootste van alle voëls tot Afrika beperk en teen die tempo wat dit uitgeroei word, word dit nog net in Suidelike Afrika in groot getalle gevind.

In Suid-Afrika was die volstruis veral bekend oor die jare 1880-1914 toe volstruisvere teen R400 per kg verkoop is en broeivoëls tot R2000 per paar verkoop is. Die volstruishuise van Oudtshoorn se omgewing dateer uit hierdie tydperk. Met die Eerste Wêreldoorlog het die veremark baie skielik tot ‘n val gekom.

Volstruise hou gewoonlik in pare en die die mannetjie skrop die holte waar die wyfie haar eiers moet lê. Soms hou die mannetjie ook ‘n tweede wyfie aan wat dan ook in dieselfde nes moet lê. In die wilde toestand is die voëls eers op vier tot vyfjarige ouderdom gereed om te paar. By mak voëls kan dit tot twee jaar vroeër plaasvind. 

Teen paartyd kan die mannetjie baie aggressief wees en selfs die wyfie hardhandig behandel. By paring vertoon die mannetjie homself deur te kantel, dit wil sê hy gaan sit voor die wyfie en lig sy vlerke en slaan met sy kop links en regs teen sy lyf. Die wyfie wat gereed is om te paar sprei haar vlerke uit en stap met die kop omlaag en maak haar bek oop en toe asof sy die lug kou.

Die paringstyd kan strek van Maart tot September volgens die kosvoorraad en veral volgens die beskikbaarheid van groen veld. As daar net droë kos is sal die diere glad nie paar nie. Verder soek die volstruis ook privaatheid om te paar en waar hulle rusteloos of versteurd is sal die mannetjie nie kantel nie. Die wyfie lê elke tweede dag ‘n eier en na sowat 15 tot 20 eiers begin sy broei. 

Die mannetjie help broei eers na ‘n paar dae in welke geval die mannetjie in die nag broei terwyl die wyfie in die dag broei. Die eiers neem 42 dae om uit te broei en die kuiken kan die eerste vyf dae klaarkom sonder om te vreet.

Die mannetjie maak die bekende brom geluid terwyl die wyfie slegs ‘n blaasgeluid kan maak. ‘n Lewensduur van 40 jaar word genoem. Die volstruis kan tot 60mpu (100kmpu) hardloop, maar kan ook in sy spore dood neerval as hy aanhoudend gejaag word.

Omdat volstruise graag blink klippies insluk om die kos te maal was daar verskillende berigte langs die diamantdraende weskus oor diamante wat in volstruismis gevind is. Een geval word genoem waar 53 diamante in die dier se pens gevind is.

Volstruise kom graag bymekaar om te dans. Hulle beweeg dan na ‘n oop kol in die veld om die sogenaamde walspassies uit te voer. Wanneer ‘n mannetjie die hof wil maak loop hy op sy tone met die vlerke oopgesprei wat dan ook ‘n tipe van dans is.

Deur: A.K. Cornelissen. Alwyn het hierdie geskiedenis in die 1970's aangeteken.
Hierdie is die mees digbevolkte besproeiingsgebied van ons land met die droë kalkvlaktes van Kenhardt en Boesmanland na die suide en die sandduine van die Kalahari na die noorde.

Vir my as geoloog is dit ‘n gebied van oorsaak en gevolg, van waarneem en interpreteer en dan na alles die gebied waar ‘n mens jou medemens kan dien om ten volle mens te wees. Kyk na die sweetkolle op die hemp van arbeider, kyk na die kameeldoringboom en wonder hoe oud hy is, kyk na die kalkvlaktes en wonder hoe het dit ontstaan en dan eers as jy weet dat jy min weet sal dinge waarde kry, en eers as jy raaksien sal jy sien hoe baie hier is om te sien.

Hier is die sewestêr en die suidekruis snags helder, want hier is die lug skoon. Hier was die pioniers natuurmens en ons bring hulde aan hulle wat ons voorgegaan het.
Verwysing: Wollie Burger
Saamgestel: Johan Swart. Beelde bygevoeg vir duidelikheid.
Naslaan Verwysing:
Springbok migrasies en die Le Riche familie