Kerke & Gelowe langs Grootrivier - Die Roomse Kerk Upington & Pella

 
Een van die indrukwekkendste geboue op Upington is bepaald die Rooms Katolieke kerk, ‘n neo-gotiese gebou waaraan eerw. Karl Simbrunner en broeder Hugo van 1942 tot 1949 gebou het met behulp van skoolkinders en onopgeleide arbeiders. 
Rooms Katolieke Kerk Upington
Die aankoms van Simbrunner se voorganger, vader Sollier in 1911, kan egter nie ten volle waardeer word sonder om terug te verwys na die Roomse poging by Pella nie.

Vroeëre sendingpogings deur die Londense en Rhynse sendelinge by Pella het misluk, maar laasgenoemde het wel daar geboue nagelaat. In 1873 het John Hayes van Aggeneys na Springbok gegaan om sy twee dogters deur vader Gaudeul te laat doop. 

Die kopermyn by Springbok was toe al byna uitgewerk en op aanbeveling van Hayes het Gaudeul die grond by Pella bekom en van die bestaande geboue ‘n kerkskool gemaak.

Dit was die begin van ‘n uitgebreide poging, maar dit het eers momentum gekry met die koms van vader Simon in 1882. In hierdie dae is pos nog net elke tweede week met kamele afgelewer. 

Hierdie 24-jarige baanbreker kon by sy aankoms net Frans praat, maar het tog vader van ‘n woestynland geword. Hy het die Katolieke strewe uitgebrei deur nog sendingstasies te stig: Matjieskloof (Springbok) in 1885, Calvinia in 1887, Heirachabis (Suidwes) in 1896 en in 1898 is hy terug na Troyes (Frankryk) om as biskop gewy te word.

Daarna het nog stasies gevolg: Nababeep, O’Kiep, Port Nolloth, Warmbad, Gabis, Keimoes, Upington, Pofadder en Onseepkans. Een van sy grootste pogings was die bou van ‘n nuwe kerk te Pella. 
Katedraal by Pella
Bakstene is by Grootrivier gemaak en 16 pakosse kon slegs 500 stene per dag by Pella lewer. Met die vloed van 1888 het 30 000 stene met die water verdwyn. Van bouery het hy geen kennis gehad nie. Maar uit die ensiklopedie wat vader Becoulet uit Frankryk gebring het, het hy wel die kerk gebou waaraan hulle sewe jaar gewerk het.

Vader Simon het oral hulp verleen en die verhaal is oral bekend hoe, met die Duitse-Hottentotoorlog hy gereël het om gewondes na Pella te bring. Twee rye soldate het deur die rivier van oewer tot oewer gestaan en gewondes is met draagbare aangegee. Vader Sollier wat later na Upington sou kom, het hier ‘n groot rol gespeel.

In 1909 het Simon ook die besproeiingsgebied hier besoek en onbewerkte grond op Keimoes gekoop. Op 16 Januarie 1911 het vader Fages na Keimoes en vader Sollier na Upington vanaf Pella vertrek. Biskop Simon en die hele sendingpersoneel het hulle ‘n ent vergesel en toe omgedraai. 

Na elf dae het hulle Keimoes bereik waar toe tien Katolieke gewoon het. Sollier het voortgegaan na Upington waar geen Katolieke was nie. In Mei 1912 is grond vir geboue aan hom toegeken onder die volgende voorwaardes:
  • Dat dit slegs vir kerk- en skoolgeboue gebruik mag word;
  • Dat die grond na die Staat sal terugval indien nie langer vir die bogenoemde doeleindes benodig word nie;
  • Dat dit skoon en netjies gehou sal word en met ‘n heining of muur afgekamp sal word; en
  • Dat die geboue duursaam en vierkantig moet wees.
In 1915 het vader Sollier die klein kerkie gebou wat ook as ‘n skool moes dien. Met die aansteeklike ywer van vader Simon het Sollier ook voortgegaan totdat hy in 1935 deur vader Simbrunner opgevolg is. 

Alles het gegroei, ‘n eenman skooltjie het ‘n skool van 800 leerlinge met ‘n personeel van 23 geword, ‘n klooster vir susters het gekom, ‘n staatsondersteunde weeshuis het gekom en dan natuurlik ook die nuwe kerk wat as ‘n argitektoniese pronkstuk vandag hier staan en nou as nasionale monument verklaar is. In 1973 is die skool gesluit en oorgeplaas na die Kleurlingwoonbuurt.

Vader Fages se Keimoes met tien Katolieke het tot ‘n bisdom gegroei. Vanuit hierdie vikariaat word geadministreer, maar Pella bly die moedersending waarheen geestelikes gaan om te rus en weer met nuwe moed te arbei. 

Vanuit Keimoes se veranderde hernude kerk (1925) is nuwe stasies gestig; Riemvasmaak, Blousekop, Friersdale, Augrabies en Kakamas. Op 30 Junie 1972 was die opgaaf vir die Keimoes bisdom 35 612 gelowiges met 44 kerke en kapelle.

Op 21 November 1932 is vader Simon oorlede na vyftig jaar en vyf maande van diens aan sy kerk en sy medemens. Hierdie nederige, maar doelgerigte man het langs Grootrivier diep spore getrap. 

Deur: A.K. Cornelissen. Alwyn het hierdie geskiedenis in die 1970's aangeteken.
Hierdie is die mees digbevolkte besproeiingsgebied van ons land met die droë kalkvlaktes van Kenhardt en Boesmanland na die suide en die sandduine van die Kalahari na die noorde.

Vir my as geoloog is dit ‘n gebied van oorsaak en gevolg, van waarneem en interpreteer en dan na alles die gebied waar ‘n mens jou medemens kan dien om ten volle mens te wees. Kyk na die sweetkolle op die hemp van arbeider, kyk na die kameeldoringboom en wonder hoe oud hy is, kyk na die kalkvlaktes en wonder hoe het dit ontstaan en dan eers as jy weet dat jy min weet sal dinge waarde kry, en eers as jy raaksien sal jy sien hoe baie hier is om te sien.

Hier is die sewestêr en die suidekruis snags helder, want hier is die lug skoon. Hier was die pioniers natuurmens en ons bring hulde aan hulle wat ons voorgegaan het.
Verwysing: Wollie Burger
Saamgestel: Johan Swart. Beelde bygevoeg vir duidelikheid.
Naslaan Verwysings: