Kerke & Gelowe langs Grootrivier - Die Heitsi-Eibib

Gegewens oor die prehistoriese myn noord van Keimoes dui op die ontginning van spekulariet – ‘n swart mineraal wat as dit fyn gemaal word ‘n rooi poeier gee. Onder die Bantoe is die blink – swart mineraal met vet gemeng en aan die kop en gesig gesmeer met ontgroening. Die Nama vroue het rooi poeier aan hul gesigte gesmeer en dit xobo genoem, ‘n mooimaak onderneming.
Nog vroeër egter was daar, as ‘n mens so kon noem, ‘n maangodsdiens; dooies is begrawe met hul gesigte in die rigting van die opkomende maan en die liggaam is met rooi poeier besprinkel.

‘n Mens kan slegs glo dat die rooi poeier weer bloed aan die liggaam moes verskaf wanneer die maan eendag die geeste van die voorvaders sou aanspreek en die liggaam van die dooie tot opstanding moes roep.

Behorende aan ‘n latere tydperk is die Heitsi-Eibib, ‘n begrip wat eintlik by die heel vroegste Hottentotte tuis behoort. Die Heitsi-Eibib moet gesien word as ‘n superwese. ‘n Graf, en ‘n tempel wanneer dit ‘n kleintjie is, lyk na ‘n hopie los klippe byna soos ‘n vervalle plaasbaken.

In Namakwaland is daar ook grotes van ‘n goeie twee meter in hoogte. Dikwels vind ‘n mens die hopie klippe by ‘n poort of nek waarlangs moontlik ‘n jagvoetpad kon gegaan het, want dit staan altyd in noue verband met jag of ‘n waterplek.

So ‘n hoop klippe is ‘n Heitsi-Eibib of dis die graf van die Heitsi-Eibib, of dis die tempel van die Heitsi-Eibib. Verwysings na die Heitsi-Eibib word veral gevind in geskrifte van die eerste sendelinge.

Dit was die Groot Wese, die Groot Gees, die Vader van Almal en sendelinge het baie moeite ondervind om die begrip van ‘n Groot Wese te vervang met die begrip van ‘n Godheid.

Daar is geglo dat bokant die aarde ‘n Wese sweef wat die sukses van die mens en veral die jagter bepaal.

Om geseënd te wees moet die verbyganger nog ‘n klip op die hopie neersit en as dit ‘n jagter is moes hy dan sê: “Ek gaan jag en as u my nie help nie hoe kan ek dan kos in die hande kry”. Sou ‘n persoon ewe parmantig by die Heitsi-Eibib verbystap en nie iets op die hopie neersit nie dan sou hy daardie nag hoor dat die Groot Gees met hom praat. 

Sou hy berou hê sal die Groot Gees hom vergewe, maar sou hy parmantig bly dan kan hy maar loop tot die bloed by sy voetsole uitkom maar hy sal nooit weer iets raak skiet of by ‘n waterplek uitkom nie. 

Joseph Tindall vertel hoe ‘n Damara gepraat het: “Jy moet gaan staan en sê u het my gemaak en gemaak om te werk en as u my verlaat hoe kan ek dan lewe, so, sien my”.

Volgens Buttner moes die man ook voor die kliphoop buig. Du Toit meen dat die wese van die Groot Gees by verskillende volke en stamme gewissel het tussen ‘n mitiese held en iets soos ‘n maangod, maar die onderliggende idee bly dat die Groot Gees ‘n persoon was wat op die aarde geleef het en gesterf het en kan opstaan en weer na die graf terugkeer, of dikwels gesterf het en op verskeie plekke begrawe is, maar eintlik tot vandag toe nog lewe. 

Daarom dan ook, as jy onder ‘n boom sit en jy hoor die wind in die blare weet dan dat dit nie die wind is nie, nee, dis die Hietsi-Eibib se werk. Hoekom reën dit – dis die Heitsi-Eibib se werk, waarom wil water nie opdraand loop nie – dis die Heitsi-Eibib se werk, waarom is blare groen – die Heitse-Eibib sal weet.

By Mapungubwe, so beweer sommige argeoloë, het ‘n uitgestorwe Hottentotras gewoon wat kennis gedra het oor die bewerking van goud en yster en die Heitsi-Eibib was toe al bekend. Dit plaas ons volgens Desmond Varaday in die omgewing van die jaar 1200 na Christus. 

Skynbaar is die Hottentot deur die Bantoe suidwaarts verdryf en hy het sy begrip van ‘n Groot Gees met hom saamgebring. Toe Wikar in 1775 van die Kaap weggedros het, het hy gehoor van die Tsoekoab, die grafte waar almal wat daar verbygaan ‘n groen takkie van ‘n bos moes afbreek en neersit anders sou ‘n vreeslike siekte die mens tref.

Hier langs Grootrivier is Heitsi-Eibib bekend oos van Upington en naby Keimoes, maar ons soek nog na ‘n voorbeeld naby die grootpad om dit aan toeriste te kan wys.

Deur: A.K. Cornelissen. 
Alwyn het hierdie geskiedenis in die 1970's aangeteken.
Hierdie is die mees digbevolkte besproeiingsgebied van ons land met die droë kalkvlaktes van Kenhardt en Boesmanland na die suide en die sandduine van die Kalahari na die noorde.

Vir my as geoloog is dit ‘n gebied van oorsaak en gevolg, van waarneem en interpreteer en dan na alles die gebied waar ‘n mens jou medemens kan dien om ten volle mens te wees. Kyk na die sweetkolle op die hemp van arbeider, kyk na die kameeldoringboom en wonder hoe oud hy is, kyk na die kalkvlaktes en wonder hoe het dit ontstaan en dan eers as jy weet dat jy min weet sal dinge waarde kry, en eers as jy raaksien sal jy sien hoe baie hier is om te sien.

Hier is die sewestêr en die suidekruis snags helder, want hier is die lug skoon. Hier was die pioniers natuurmens en ons bring hulde aan hulle wat ons voorgegaan het.
Verwysing: Wollie Burger
Saamgestel: Johan Swart. Beelde bygevoeg vir duidelikheid.
Naslaan verwysings: