Kanoneiland se unieke storie & inligting vir besoekers

So is dit: Daar is geen eiland met die naam Kanoneiland nie. Kanoneiland is eers gevat en later gekoop. Vir die polisiesersant wat die bewoners moes gaan verwyder is ook ‘n erf afgepen.

Damme en kanale is deur die okkupeerders gebou sonder geld en wel nadat die Regering ‘n £80 000 mislukking daarvan gemaak het. Kanoneiland is ‘n besproeiingskema direk onder die Staat met hul eie reëls en regulasies wat deur ‘n spesiale Kanoneilandwet net so deur die Regering aanvaar en op die wetboek geplaas is.

Kanoneiland het vir sy eie brug betaal, maar die brug is nie syne nie. Dis Kanoneiland met sy eiesoortige, hardwerkende, vriendelike mense wat elke jaar op die Saterdag naaste aan 5 Maart hul eiland se verjaardag vier.

Die naam:
Oorspronklike was daar 55 eilande groot en klein, maar mettertyd is die sloepe opgevul en tot landerye verwerk en vandag word slegs sowat ‘n halfdosyn sloepe oopgehou om in geval van vloedtoestande die vloedwaters weg te lei. Hierdie sloepe dien ook as dreineringskanale om die vorming van brak te voorkom. 

Name soos Sand-, Simon-, Kameel-, Baklei-, Ronde-, Swartbas-, Smal-, Agter-, Bo- en Vlameiland verwys nog na die oorspronklike eilande. Die hele groep tussen die twee hoofstrome is Kanoneiland.

Met die Tweede Korana-oorlog was Klaas Lukas die kaptein van Boven-Koranaland en waarskynlik het hy destyds na die teenswoordige Kanoneiland verhuis en ‘n soort van hoofkwartier daar ingerig. Volgens die argiefverslae lyk dit of hy ook verspieders gehad het wat hom op hoogte gehou het van die bewegings van die koloniale magte. 

Die magte se waens het iewers in die omgewing van Keimoes so gebreek dat hulle sukkel-sukkel vir Currieskamp bereik het en daar ‘n hoofkwartier ingerig het. Hiervandaan het ‘n voorhoede onder MC Taggart die oggend van 10 April 1879 opgetrek en by Dyasonsklip slaags geraak met ‘n Koranamag waaronder Klaas Lukas self was. 

Die Koranas het na die digtbebosde eilande teruggeval, moontlik om vir MC Taggart in die bosse in te lok, maar hy het haastig ‘n boodskap na kapt Nelson gestuur om die kanonne te bring. Die verslag lui: “I placed the guns in position about two hundred yards apart on two prominent hills overlooking the island”. 

Die naam Kanoneiland word nie in die argiefverslae gebruik nie, wat daarop dui dat die naam na die oorlog ontstaan het, moontlik met verwysing na die hewige kanonvuur.

‘n Verbeeldingryke legende lui so: Die Koranakaptein het van ‘n uitgeholde boomstam sy eie kanon vervaardig en gelaai met kruit, spykers, hoefysters, potstukke en net wat hy kon kry en toe sy wapen op die koloniale magte gerig. Na die bevel “VUUR!” was daar net ‘n rookwolk, kruitdamp, bloed en gewondes. Om sy mense aan te moedig het hy gesê: “Toemaar manne, as dit hier so lyk dink net hoe dit moet lyk waar die koeël geval het!”

Soveel dan vir die naam Kanoneiland.

Hoe die grond gevat is:
Huurders by die Rooikopeilandsindikaat was verrinneweerd na die vloedskade van 1925. Liewer dan om weer van vooraf te begin boer op gehuurde grond, wou hulle hul eie stukkie grond hê. 

Op Kanoneiland het Van Rooyen en Nel, later opgevolg deur Etsebeth, deur middel van ‘n lisensie uitgereik deur die Landdros van Upington, mnr Whitehorn, weiregte verkry en morg besproei teen 10 shillings per morg per jaar. 

Op 28 Februarie 1928 stuur die Rooikoppers dan vyf verspieders om Kanoneiland te gaan besigtig en op Saterdag 3 Maart doen hulle verslag: daar lê sowat 3 000 morg grond waarvan sowat 2 000 morg besproeibaar is. 

Die sowat 30 erfboere besluit “Ons trek” en daardie Maandag, 5 Maart het die trek begin – vandaar die eiland se verjaardatum op die Saterdag naaste aan 5 Maart. ‘n Groep van 29 families het getrek. 

Die eerste aankomelinge het regoor Die Wit Olifant (sien hieronder) geslaap, ‘n vlot van wilgerhoutstompe gemaak en oorgegaan. Die skuit waarvoor elkeen 10 shillings bygedra het kon deur die laastes gebruik word – perde, bees en donkies is met rieme vasgehou agter die skuit en so oorgeroei. Daardie skuit staan nou by die skool. 

PJ Strydom is as leier gekies en daar is begin om ‘n kanaal te grawe – aan elke man is ‘n vak gegee om uit te grawe. Die voorman was D Byleveld en hy moes toesien dat elkeen sy vak per dag klaar maak. Die swakkeres wat bedags agter raak moes saans verder grawe om by te kom. 

Hierdie grondbesetpoging het bekend geword en die getalle het aangegroei tot 52, vandag nog bekend as die “ou 52”. Strydom het intussen wel aansoek gedoen om lisensies, maar hy kon finaal slegs 32 kry. 

Daarby bevind die Minister dat die Landdros slegs wei-lisensies uitgereik het, dus moet die laaste 20 die eiland verlaat, en tweedens, dat die besproeiingspoging onmiddellik gestaak moes word. Die lisensies het slegs weireg gegee. Niemand het gehoor gegee nie en dit lei daartoe dat Sersant A Coetzee van Louisvale gestuur word om toe te sien dat almal die eiland verlaat, nou omtrent al drie maande nadat die mense die eiland geokkupeer het. 

Sersant Coetzee het vir mnr MC Biggs saamgenooi, hul moes te perd ry en deur die strome swem, en mnr Biggs skryf dat die eerste persoon wat hul ontmoet het ‘n klein skraal rooi mannetjie was, by name Strydom.
Sers A Coetzee, uit die boek Kanoneiland van JJ Strydom
Coetzee: “Wat maak julle hier op die eiland?”

Strydom: “Wat wil jy maak as jy weet!” En toe kom staan ‘n paar frisgeboude kêrels agter Strydom – nee, dit sou beter wees om vriendelik te wees. Hul slaap die aand by die kamp en Strydom maak die voorstel: “Laat staan maar die idee van uitset en sluit liewer by ons aan en die twee van julle kry elk ‘n stukkie grond”.

Net daar het Biggs ‘n Kanoneilander geword en het help grawe aan slote en damme en is as Sekretaris verkies. Sersant Coetzee moes sy mislukte sending aan die Landdros rapporteer. (Hier moet egter genoem word dat PJ Strydom in noue voeling gebly het met mnr LV Conradie en Conradie het hul saak by die Minister bepleit).

‘n Week of wat later het die Landdros van Upington self gekom, vergesel van sersant Coetzee en toe kom die dramatiese wending wat so verloop het (volgens oorvertelling):

Strydom blaas sy fluitjie en die mense los hul werk en kom bymekaar. Die Landdros lees ‘n telegram voor en gelas almal om die eiland te verlaat. Hulle weier. Die landdros praat ernstig. Die mense weier.

Strydom sê dat as die Regering hul nie ‘n ander heenkome kan gee nie dan hou hul aan met werk totdat hul gevange geneem word. Die Landdros antwoord dis Donderdag, hou ten minste net op met werk tot Maandag sodat hy met die Minister kan onderhandel. Hulle weier.

Toe kom ‘n telegram aan Strydom van Conradie: Die Minister gee verlof om vir een jaar te bly onder sekere voorwaardes. Na die vertrek van die Landdros het Sersant Coetzee aangebly en self help werk. Die leier het “A Coetzee” op vier penne geskryf en ‘n erf afgesteek waarop die Sersant ‘n jaar later kom woon het.

Waar ons simpatiek staan teenoor die Kanoneilanders moet dit nogtans onthou word dat hier ‘n groep mense was wat eenvoudig vir hulle die grond gevat het. Hulle was arm, brandarm, en hulle kon net sowel tot ‘n las vir die Staat aangegroei het. 

In 1918 – 1921 is alreeds onder toesig van Ingenieur Hawks ‘n reeks damme oor die strome gebou teen £80 000, baie geld in daardie dae, en dit was ‘n totale mislukking – vandag nog is daardie Wit Olifant daar vir almal om te sien – en watter waarborg was daar dat hierdie klomp onopgeleide mense sonder geld ‘n sukses sou maak? 

Mnr. Conradie (hy sou later Minister word) het vertroue gehad in die klomp plakkers en het later uit sy eie sak vir hulle £200 geleen om ‘n pont te bou. Dit was ook op sy aandrang dat die eiland besoek is deur die Minister van Lande, lede van die Landraad, onder-Sekretaris van Lande en Inspekteur van Lande. 

Hierdie hoë staatsamptenare het met hulle eie oë gesien wat seker nooit weer in Suid-Afrika herhaal sal word nie: ‘n Klompie arm mense sonder huise bly onder bome en het nie elke dag genoeg kos om te eet nie, maar hulle werk. Daar word vertel dat sand vir die aanmaak van beton deur hierdie mense in sakke aangedra is en dat soos die sandsakke die skouers geskaaf het, het bloed deur hulle hemde gesypel en sere gevorm, maar die werk moes voortgaan. Van die oorspronklike kanale wat hulle met grawe uitgespit het is daar nog min om van te sien.

Die Minister het sy uitspraak gelewer:

Diegene wat daar was kon voortgaan en indien hulle bewyse van sukses kan lewer sou hulle die eiendom teen ‘n billike prys kon koop. Die Landsraad sou die gronde opmeet en later verdere persele toeken.

Die Bestuurskomitee van sewe lede is erken as die beherende liggaam. Maar, let wel, die mense moes hulself bewys en die Staat belowe geen geldelike bydrae nie. Na jare skryf JP Strydom ‘n terugblik wat kan beskou word as ‘n loflied oor die vrou en ‘n formule vir leierskap. 

Hy sê: “As ek terugkyk sien ek ‘n klomp arm mense sonder hulp, sonder inkomste, met ‘n drang en begeerte na ‘n stukkie eie grond ... ook sien ek die vrou en kinders op die erwe. Hulle help die bome uithaal en die grond gelyksleep ... dit is sy wat die man in alles bygestaan het met ‘n vuur van moed”. 

Oor homself sê hy dat Kanoneiland hom geleer het dat ‘n leier nie van bo-af kan lei nie. Hy moet een van sy mense word, hulle op dieselfde grond ontmoet en tussen hulle woon. Wel, die “Ou 52” is aan hulle lot oorgelaat en die depressiejare van 1929 – 1933 moes nog kom. 


‘n Landmeter is tog uitgestuur en die erwe soos dit afgetree was, is opgemeet en nog erwe is uitgemeet. Nuwe intrekkers sou voortaan ‘n pro-rata bedrag aan die bestuurskomitee betaal vir werk aan kanale en damme verrig en dan verder saam inval en werk, werk, werk.

Die bou van damme en kanale:
Geen besproeiingsprojek kan sonder deeglike opmeting en sonder geld aangepak word nie. Die Regering het die Wit Olifantdam gebou op die beste plek vir ‘n dam, maar vandaar kan die gronde nie benat word nie. Kanoneiland se intrekkers het met ‘n kern van Rooikopeiland-mense goeie ondervinding gehad, maar niemand kon die opmeting doen nie.

Die sogenaamde damme sien ons vandag net as keerwalle. Daar word na die reeks keerwalle verwys as die Wit Olifant, uit die boek Kanoneiland van JJ Strydom.
Die beroemde Japie Lutz het wel hulp verleen, maar volgens oorvertelling was die eilande so dig bebos dat selfs met die aftree van erwe daar oor en weer geroep moes word om rigting te kry.

Hulle het eenvoudig na die bopunt van die eiland gegaan en gereken dat dwarswalle daar die water hoog genoeg sou opstoot om laerliggende gebiede te kan besproei. Die water kon verder met ‘n natuurlike sloep gelei word en met sluisstelsels onderverdeel word. 


Daar word gepraat van ‘n hoofkanaal, takvore, siphons (Engelse syphon) en afsitte. ‘n Afsit is waar die water na ‘n oop sloep gelei kan word om ‘n bestaande voor of kanaal te herstel.

Om kanale te grawe moes pik en graaf gebruik word en waar nodig skrapers deur diere getrek. Die grootste probleem het gelê by die bou van walle dwarsdeur die rivier en oor systrome – ‘n totale afstand van 870 treë en by plekke 15 voet (sê 5 meter hoog.) 

Een poging om die water te stuit was met ‘n dik staalkabel oor die rivier waaraan bome vasgemaak is en verder met riet en strooi die “muur” dig te maak sodat daar gebou kan word. En dit het gewerk, behalwe dat die ankerbome waaraan die kabeltou vasgemaak is stadigaan uit die grond geskeur is. 

‘n Finale stelsel was die gebruik van skrynwerkers-bokkies en lewende sandsakke en ‘n goeie voorraad grond. Die bokkies is van boomstamme gemaak en lang boomstamme verbind sulke stelle bokkies. Die bokkies is stuk-stuk in die water gelaat en daar vasgehou terwyl klippe tussenin gepak is om hulle in posisie te hou. 

Aan die begin vloei water vryelik deur, maar soos meer klippe gepak word begin die bokkies die rivier stuit. Deur algaande riete en strooi in die oop gate in te woel is ‘n soort van kofferwal gebou wat sterk genoeg was om aan die onderkant ‘n wal van grond en/of beton te bou. 

Vir grondwalle is groot grondhope eers gereed gemaak en ‘n ry van werkers gooi met grawe die grond vorentoe en onophoudelik totdat die water deeglik opgedam is. In die mees kritieke fases is van lewende sandsakke gebruik gemaak, dit wil sê, ‘n ry werkers hou styf aanmekaar vas en staan eenvoudig so in die water om ‘n lewende keerwal te vorm terwyl andere in alle haas aan die onderkant werk. 

Wat hierdie mense onderneem het klink eenvoudig ongelooflik, maar daar moet ook onthou word dat hulle die Oranjerivier geken het. So min het hulle die bruisende strome gevrees dat daar op ‘n later stadium wetsvoorsorg gemaak is waardeur die eilandbewoners verplig kon word om in geval van vloedtoestande die eiland te verlaat.

Watter soort mense was hierdie “Ou 52”? Dit was skrywer hiervan se voorreg om ‘n paar deeglik te ondervra en ‘n byeenkoms van die nog lewendes in Augustus 1973 by te woon. Hulle is normale goeie mense, maar onder hulle was ‘n samehorigheidsgevoel wat met buitestaanders nie gedeel kon word nie. 

En elkeen besit daardie andersheid – ‘n stil geduldige sterkte wat by die gepoleerde moderne mens net nie bestaan nie.

Wyle Mnr. Andries Engelbrecht het vertel dat hulle soos ‘n kitaar met net een snaar was, net een deuntjie kon gespeel word: Vorentoe, vorentoe, vorentoe. Willem Nolte vertel dat buitestaanders hulle beskuldig het met woorde soos: “Is julle die mense wat grond gesteel het!” 

Daarom het hulle stil gebly en bymekaar gestaan en vir niemand enige gunste gevra nie. Waar hul honger was het hulle mekaar kos gegee, maar nooit sou hulle by buitestaanders gunste vra nie. Mnr. Schalk Engelbrecht vertel dat dit ‘n Bybelse wonderwerk was: die eerste 22 mense het ingeswem, nie ingestap nie, en toe die Minister hulle beskuldig met die woorde: “Julle sal ‘n las word op die nek van die Staat”, het hulle stil omgedraai. 

Maar later toe Andries en Schalk Engelbrecht ‘n sketsplan voorlê vir die Regering hoe om Bo-Eiland se besproeiing te beplan en die regeringsingenieur van die plan afwyk, het hulle die Minister met dieselfde woorde geantwoord: “Nou sal die Regering ‘n las op ons nekke word!”

Sulke mense was daardie “Ou 52”. Wel, dis dan ook van dieselfde Andries Engelbrecht wat JJ Strydom later sou skryf: Wat hy kon gee deur wil en daad het hy gegee en daarby was sy nee, nee en sy ja, ja; hy was ‘n verpersoonliking van die woord “trou”.

Maar daar was die grapmakers ook! Bêrend Lubbe, Kat Coetzee en Willie Nolte. Dit het die moraal opgebou. Toe Houtkop Lubbe eendag ‘n groep werkers te veel laat lag en daar nie gewerk word nie, is hy eenvoudig gevang en op sy rug aan ‘n plank vasgemaak tot hy kla dat die son hom brand sê hulle: “Draai hom om dan lê hy mos in die plank se skaduwee!” ‘n Klomp fyn kalante en fyn planmakers sê Mnr. Du Plessis.

As toeskouers het ons met ‘n knop in die keel geluister toe die laaste groepie van die “Ou 52” onlangs bymekaar was. 

Daar was twee weduwees wat verwelkom is met net hierdie woorde: “Gods rykste seën vir die dae wat nog vir julle oorbly”. Eenvoudig. Treffend. 

Waarskynlik die beste weergawe van die tipe mense wat hier aangeland het vind ons in Mnr. Conradie se woorde wat volgens oorvertelling omtrent so moes gewees het: “Julle val onder geen wette nie, gaan trek julle eie wette op en lê dit aan die Regering voor sodat ons dit kan aanneem!” 

Dit was hierdie optrek van wette waarvan Andries Engelbrecht sê: “Dit was ‘n benoude tydjie”. Daardie wette waaraan ‘n klompie ongeleerde mense nagte aaneen gewerk het en sonder prokureurshulp opgestel het is vervat in die Plaaslike Reglemente van Wet nr. 15 van 1939, ook bekend as die die Kanoneiland nedersettingsbestuurswet van 1939.

Kanoneiland se bestuur:
Op die oog af lyk dit na ‘n gewone dorpsbestuur, maar dis eintlik ‘n selfontwikkelde stelsel wat deur wetgewing vasgelê is.

Die “Ou 52” het begin met ‘n komitee van Beheer, sewe lede onder die leierskap van PJ Strydom. Die lede is bloot gekies by meerderheid van stemme. Later het die wykstelsel gevolg en die ledetal is verminder na vyf; elk van die vyf wyke kies sy lid en uit die lede word ‘n Voorsitter gekies. Vandag bestaan die wykstelsel nie meer nie en die lede word by meerderheid van stemme gekies en daarna word ‘n sekere area aan ‘n lid toegesê om kleinere probleme op te los.

Lede word vir twee jaar gekies om die Raad te vorm en die Raad stel ‘n Sekretaris aan wat ‘n besoldigde amptenaar is. Uit die Raad word afgevaardigdes gekies om met die Minister van Waterwese te onderhandel. Die Raad is die beherende liggaam. 

By oortreding van reglemente kan die Raad ‘n boete oplê tot hoogstens R40,00 en die Raad het die reg tot oproeping. Oproeping bestaan daaruit dat vir gevalle van groot werke soos vloedskades, herstel van damwalle of kanale en so aan moet alle grondeienaars kom help of ‘n verteenwoordiger gee. Die stelsel is vandag effens gewysig en vergemaklik. ‘n Verteenwoordiger word vandag gekrediteer met R2,00 per dag met oproeping.

Dit beteken dat ‘n erfhouer wat mooi saamwerk aan die einde van die jaar ‘n sekere bedrag tot sy krediet het wat van sy jaarlikse belasting afgetrek word, terwyl die persoon wat nie saamwerk nie sy volle belasting moet betaal en so die geld voorsien waarmee die Raad arbeiders kan huur.

Vervoer oor die Rivier:
Alle ou rivierbewonens kon met die blok swem. In reisverhale word verwys na die riviervolk wat met ‘n wilgerboomhout geswem het. Blankes beskryf die blok as ‘n stuk hout met ‘n pen daarin. Die swemmer lê met sy bors op die blok, hou met een hand aan die pen, stuur met die ander hand en doen net die nodige skopwerk. Geoefende swemmers het op hierdie wyse troppe kleinvee oorgeswem deur die diere aan die horings of om die nek te vat.

Kanoneilanders kon almal met die blok swem, maar om hul waens en ander besittings oor te neem het die eerste 22 aankomelinge ‘n vlot van boomstamme gebou. Vir latere aankomelinge was ‘n skuit al beskikbaar. Goedere is op die skuit gelaai en diere is aan rieme vasgehou terwyl oorgeroei is.

Met £200 van mnr. Conradie geleen, is ‘n pont gebou wat vir baie jare in werking was en pontgeld was dan ook ‘n bron van inkomste. ‘n Pontman is gehuur en pontgeld was een shilling per persoon heen en terug. Vir voertuie was pontgeld volgens die tipe voertuig vasgestel deur die Raad.

Brugoorgange was slegs hangbrûe oor die sloepe en vir ‘n lang tyd was 10 hangbrûe die tusseneilandse verbindingspunte. ‘n Brug oor die hoofstroom aan die suidekant het dringend noodsaaklik geword, maar Staatsondersteuning was geweier behalwe vir die toestemming dat die Kenhardtse Afdelingsraad wel ‘n lening kon aangaan met die voorwaarde dat die eilandbewoners dan die bedrag weer aan die Afdelingsraad moes terugbetaal. 
Eendrag- en Manie Conradie brug
Die Afdelingsraad van Kenhardt het egter so ‘n brug nie nodig gehad nie. Op 12 Julie 1940 is ‘n offisiële kontrak onderteken tussen die Raad en die Afdelingsraad van Kenhardt vir die bedrag van £10 634.0.0 vir die bou van die brug, vandag bekend as die Eendragbrug. 

Vir vyf jaar het die eilandbewoners hulle jaarlikse betalings gemaak en toe eers het die Regering ‘n bydrae gemaak deur van hulle die uitstaande bedrag kwyt te skeld.

Inligting vir besoekers:
Kruis die treinspoor en die hoë bult regs van die pad is die plek wat algemeen aanvaar word as die heuwel vanwaar die kanonne gevuur het. Dit bied’n mooi uitsig.
Tipiese Armstrong Kanon wat gebruik sou word
Oor die noordelike hoofstroom gaan die Conradiebrug. Stroomop van die brug is die pragtigste stuk ingenieurswerk, die Wit Olifant. Dit is ‘n deel van die £80 000-onderneming deur die Regering 1918/21. Hierdie damwal is verkeerd beplan en dien absoluut geen doel nie, maar die betrokke Minister het geglo dat as Ingenieurs ‘n mislukking maak watter kans het ‘n klomp arm en ongeleerde boere dan! – hulle kon slegs ‘n las vir die Staat word.
Die keerwal te sien vanaf Conradie brug. n Wit Olifant.
Die kruispad lei na een van die kanale en walle wat deur die “Ou 52” gebou is. Omtrent 1 ½ km vanaf die kruispad staan ‘n bordjie AJ Engelbrecht – Vrede. Wyle oom Andries was nog een van die “Ou 52”, ‘n absolute kenner van Kanoneiland en met goedbewaarde meubels in sy huis.

Vanaf oom Andries se huis lei die pad na die damme. Let op die hoë terrasse wat hier trappe genoem word. Die pad loop dood by ‘n paar skadubome. Op die hoë wal en links is groot sluise wat later aangebring is. Die wal wat van die sluise na regs (suid) gaan is ‘n tipiese noodwal wat met vloedtoestande die water van die erwe af moet weghou.
Hierdie keerwal is 6,3km vanaf die teerpad. Neem die afdraai na Bo-Eiland. Jy kan ry tot hier. Die boere het hier n opening gemaak sodat jy maklik by die rivier kan uitkom.
Die bogenoemde keerwal is die dam/keerwal wat jy op die foto hieronder heelonder sien.
Vorentoe (oos) gaan ‘n hoë wal al langs die kanaal. Hierdie is nog die oorspronklike kanaal soos dit deur die “Ou 52” gegrawe is; hulle het in rye gestaan en grawe vol grond is van die een na die ander gegooi. Die kanaal mond uit by die damwal. Die slingerende wal was beplan deels om meer stukrag te verkry en deels volgens die bodemrots. 

Dit is hier waar die mens kaal en arm-aan-arm in die water gestaan het om ‘n lewende wal te vorm terwyl hulle maats in alle haas die stroom aan die onderkant met ‘n grondwal stuit. Die stuk uitstaande wal is veroorsaak deur die uitkalweraksie van die water. Op daardie stuk is die naam in beton geskryf: “AJ Engelbrecht ” Oom Andries was die werksvoorman en op daardie datum was die wal klaar.

Dieselfde pad gaan oor die hoofweg na die bourant. Eintlik word alle hoogliggende klipperige rante bourante genoem soos bv ook Rooirant en Fritzrant. Hierdie was die eerste bourant en vandaar die naam. Die gemeenskapsaal staan suid van die pad. 

Die hoeksteen van die saal (pad se kant) is ‘n betonblok en in daardie blok is ‘n bottel toegemessel. Geskiedkundige gegewens word in die bottel vir die nageslag bewaar. 
Die oorspronklike skuit wat die eerste vervoermiddel oor die rivier was.
Verderaan regs (noord) is die skool. Hierdie is ‘n Staatskool, die oorspronklike skool was van riete gemaak en met modder gepleister en die swartbord was ‘n vierkantige swart geverfde stuk muur. Voor die skool staan die oorspronklike skuit wat die eerste vervoermiddel was. 
Skeepskanon uit die hawe van Port Elizabeth
Die kanon is ‘n skeepskanon uit die hawe van Port Elizabeth, maar van die tipe wat die naam aan Kanoneiland gegee het. Verder met die straat links is die kantoor van die Bestuursraad. 
Die gebou van die Kanoneiland Bestuursraad
Volgens mnr Steyn, die Sekretaris, is die oorspronklike kantoortjie behou en net afgepleister om die teenswoordige Biblioteek te vorm. ‘n Spesiale klein kamertjie is die argief waar alle geskrifte in verband met Kanoneiland bewaar word.
Die biblioteek het sedertdien verskuif na die gemeenskapsaal net soos jy Kanoneiland binnekom aan linkerkant. Stop n bietjie daar en gesels met Maryna. Sy kan baie inligting en staaltjies met jou deel.
Daar is 2 goeie boeke oor die geskiedenis van Kanoneiland.
 
Verder aan links is die poskantoor en regoor (noord-wes) is die huis van mnr Japie Kotze. Onder ‘n kameeldoring naby die huis is ‘n ysterpen ingeslaan om die hoogte van die 1934 vloedwater aan te toon. Mnr. Kotze vertel dat die vloed van 1897 baie hoër was en volgens sy vader was daar toe net ‘n paar treë droë grond, sê 15 x 25 treë waarop bokke vasgekeer was, (by die stoor langsaan die poskantoor).
Poskantoor gebou
Die pontdrif was ‘n entjie hoër op van Eendragbrug en dis ook die plek waar die “Ou 52” oor die rivier gegaan het. 
Kanoneiland uitleg. Die posisie van die pont word aangedui op die kaarte.
Uit die boek Kanoneiland van AAJ van Niekerk
Pont oorgang net bokant Eendragbrug - Foto uit Kanoneiland van JJ Strydom.
Deur: A.K. Cornelissen. Alwyn het hierdie geskiedenis in die 1970's aangeteken.
Hierdie is die mees digbevolkte besproeiingsgebied van ons land met die droë kalkvlaktes van Kenhardt en Boesmanland na die suide en die sandduine van die Kalahari na die noorde.

Vir my as geoloog is dit ‘n gebied van oorsaak en gevolg, van waarneem en interpreteer en dan na alles die gebied waar ‘n mens jou medemens kan dien om ten volle mens te wees. Kyk na die sweetkolle op die hemp van arbeider, kyk na die kameeldoringboom en wonder hoe oud hy is, kyk na die kalkvlaktes en wonder hoe het dit ontstaan en dan eers as jy weet dat jy min weet sal dinge waarde kry, en eers as jy raaksien sal jy sien hoe baie hier is om te sien.

Hier is die sewestêr en die suidekruis snags helder, want hier is die lug skoon. Hier was die pioniers natuurmens en ons bring hulde aan hulle wat ons voorgegaan het.
Verwysing: Wollie Burger
Saamgestel: Johan Swart. Beelde bygevoeg vir duidelikheid.
Naslaan Verwysings: