Gevegte, Oorlog & Veldslae - Die Afrikanerbende

Die mens is maar ‘n strydlustige dier en ook hier langs Grootrivier het gevegte en oorloë sy tol geëis. Volgens Wikar (1778/1979) het die rivierbewoners (later beter bekend as Koranas) gereeld hulle onderlinge oorloggies gehad, hoofsaaklik weens veediefstal, en dit het daartoe gelei dat baie mans die lewe gelaat het en sorglose vrouens en kinders het agtergebly. 

Kaptein Kandelaar het dan ook sy wette so verander dat ‘n man verplig was om die vrou van ‘n gestorwe familie-lid te vat of die oudste seun was verplig om met sy vader se jongste vrou te trou en die wet het verder gelei dat die vrouens nie jaloers mag wees nie, maar volgens Wikar het hulle mekaar tog lekker uitgeskel.

Die Afrikanerbende
Die grootste plunderaar van sy tyd hier langs Grootrivier was seker Jager Afrikaner. 
Jager Afrikaner
Teen omstreeks 1800 was sy vesting op ‘n eiland naby Keimoes en hiervandaan het hy en sy bende tot sowat 400 km ver geplunder, geroof en gemoor. Volgens Theal het hy jag gemaak op enige persoon met besittings, hetsy Boer of Baster of Hottentot. 

Wie ookal weerstand bied moes met sy lewe boet. “He became a terror to the country far en wide (and) drifted into a state of war with all his neighbours who had property that could be plundered” sê Theal. 

In 1801 skryf die sendeling Kircherer van “this bloody man” en dat hy vasgekeerdes die keuse laat om al hulle besittings onvoorwaardelik af te gee of voor die voet dood geskiet te word. Kircherer vertel dan ook dat Jager, om die nodige respek af te dwing en vrees in te boesem, gevangenis se tonge uitgesny het en die mense dan aan bome vasgemaak het vir andere om te sien. 

Jager Afrikaner se voorgeslag het van St Helenabaai gekom. Hy, onder die Namas bekend as Hôa garab, was van kleins af bekend as ‘n goeie skut en is veral gebruik waar jagtogte op Boesmans gemaak is en as onverskrokke Boesmanjagter het hy die naam Jager gekry. Die “van” Afrikaner is deur sy eie mense aan hom gegee omdat hy die blankes se taal so goed kon praat. 

In die omgewing van Calvinia het hy by veldkornet Pieter Pienaar gaan woon en daar Boesmans gejag. Volgens Campbell sou Pienaar hom gestuur het om Boesmans te jag, maar hy het vir Pienaar beskuldig dat hy (Pienaar) met sy vrou wou lol waarop Pienaar hom ‘n pak slae gegee het. 

Jager en sy seuns skiet toe vir Pienaar en vermoor sy vrou en kind en vlug daarna na Grootrivier waar hy alle soorte boosdoeners om hom versamel het.

Dit was omstreeks 1802 dat Jager besluit om weer die Hantam te besoek. Op hierdie tog vermoor hy ‘n blanke boer Engelbrecht, ‘n Baster, ‘n Hottentot Titus en twee slawe en buit 3 700 skape en bokke, 446 beeste, 8 perde en drie gewere. Verder stuur hy een van sy onderdane Kobus Booy na Stellenbosch om nog ammunisie te kry. Hy word egter voëlvry verklaar.

‘n Jaar daarna stuur hy weer vir Kobus Booy Kaap toe om by Sir George Joung om vergifnis te pleit. Sir George belowe om hom sy dade te vergewe en die plaas Klipfontein in Namakwaland te gee op voorwaarde dat hy tot rus sou kom. 

Hierdie aanbod het Jager van die hand gewys en dit was waarskynlik hierna dat hy besluit het om van blyplek te verander. Dit is bekend dat hy by tye noord van Augrabies en ook die Suidweskant van Schuitdrift gewoon het. Teen 1810 was sy kraal sowat 40 km van Warmbad af. 

Hier vermoor hy die seuns van die Hottentot Hans Dreyer en toe hy verneem dat Dreyer dit waag om ‘n opstand te organiseer het hy eers alle vee gevat en toe alle eiendomme by Warmbad met vuur verbrand. Dit was met hierdie geleentheid dat die sendeling Albrecht van Warmbad na Pella gevlug het.

Teen 1813 woon Jager en sy mense by Jerusalem en Blydeverwachting suid van Ariamsvlei. Hier het hy tot rus gekom en by die Londense Sendinggenootskap vir ‘n onderwyser gevra wie se veiligheid hy gewaarborg het “ omdat ek ook ‘n siel het wat die Here God in my geskape het”. 

By sy dood in 1923 het hy ook sy volgelinge aangesê om nie na die boosheid waarmee hy hulle gelei het terug te keer nie. ‘n Gedeelte van hulle het geluister, maar sy seun Jonker was net so bloeddorstig soos die tata. 

Jonker het eers in die suide met ‘n gedeelte van sy vader se volgelinge geplunder en toe dieper in Suidwes (Namibia) ingetrek. In 1840 woon hy in die teenswoordige Windhoek vanwaar hy diep spore in die geskiedenis van Suidwes getrap het. 

Die gedeelte wat op Blydenverwachting agtergebly het, het weer met die Korana-oorloë ter sprake gekom. Die sendeling Joseph Tindall noem dat hy die Afrikaners tussen die jare 1840 en 1852 by Blydeverwachting bedien het, maar daarna het hulle waarskynlik na Haas (later Rietfontein-Mier) vertrek onder Jacobus Afrikaner. 

Met die tweede Korana-oorlog is die Afrikaner terug na Blydeverwachting en die ou kwaal was nog daar – by Schuitdrift vat hulle 200 beeste oor die rivier, maar bekyk verder die kat uit die boom soos gesien uit Klaas Afrikaner se brief aan Klaas Lukas, hy skryf (net die Engelse vertaling beskikbaar): “Klaas Pofadder has now gone over to his father and Willem Christiaan is still on the outside and Dirk Philander also still outside, and Boolryk is also still behind, so that I cannot now rise up and help you before you all have joined”. 

Die Afrikanergroep het dan ook nie aan die Korana-oorlog deelgeneem nie.

Deur: A.K. Cornelissen. Alwyn het hierdie geskiedenis in die 1970's aangeteken.
Hierdie is die mees digbevolkte besproeiingsgebied van ons land met die droë kalkvlaktes van Kenhardt en Boesmanland na die suide en die sandduine van die Kalahari na die noorde.

Vir my as geoloog is dit ‘n gebied van oorsaak en gevolg, van waarneem en interpreteer en dan na alles die gebied waar ‘n mens jou medemens kan dien om ten volle mens te wees. Kyk na die sweetkolle op die hemp van arbeider, kyk na die kameeldoringboom en wonder hoe oud hy is, kyk na die kalkvlaktes en wonder hoe het dit ontstaan en dan eers as jy weet dat jy min weet sal dinge waarde kry, en eers as jy raaksien sal jy sien hoe baie hier is om te sien.

Hier is die sewestêr en die suidekruis snags helder, want hier is die lug skoon. Hier was die pioniers natuurmens en ons bring hulde aan hulle wat ons voorgegaan het.
Verwysing: Wollie Burger
Saamgestel: Johan Swart. Beelde bygevoeg vir duidelikheid.
Naslaan Verwysings:
The story of Grootkolk - the forgotten war