Gevegte, Oorlog & Veldslae - Die Korana oorloë

Die Korana-oorloë
Soos die Boere en Basters in die rigting van Grootrivier getrek het, het die vrye jagruimte verminder en die Koranas het dit aangevoer as rede vir hulle rooftogte. Dit moet egter onthou word dat die Korana wreed en roofsugtig van aard was. 

Wikar noem byvoorbeeld hoe die Snyersvolk hulle teenstanders lewend oopgesny en die derms en die binnegoed uitgetrek het. In 1820 kry George Thompson ‘n groep langs die Hartbeesrivier wat in ‘n geveg hulle besittings verloor het en net van gom en bessies moes leef en hulle het sommer die swakkes net so onder die bome agtergelaat om van die dors en honger te sterf.

Theal het van die Koranas gesê:
“a more utterly worthless collection of human beings could not have been got together”. Dis dan ook verstaanbaar dat die Koranas dikwels die Boer- en Basterhuisgesinne vermoor het en dan met die geroofde vee na die digbebosde eilande gevlug het. Eintlik was dit redelik maklik. 

Die vernaamste leiers was Klaas Lukas, Klaas Pofadder, Piet Rooi, Jan Cupido en Karel Ruiters.

In 1868 word die Northern Border Protection Act geformuleer en nog dieselfde jaar stuur die Kaapse regering vir M.J. Jackson as spesiale magistraat na Kenhardt, bygestaan deur W. Wright en 50 polisie. Twee waens het net voorrade en bier vervoer. 

Net ‘n maand tevore het Klaas Lukas en Piet Rooi nog 6 000 klein- en 400 grootvee gebuit. Jackson wou dadelik optree en het nog 32 gewapende Boere en Basters gewerf maar Piet Rooi en Jan Cupido het die mag by die rivier ingewag en na ‘n ligte skermutseling het Jackson omgedraai. 

Na hierdie sukses het die Koranas so brutaal geword dat hulle selfs die Polisie se diere gaan steel het en die sendingstasie De Tuin omsingel het en die Basters in koue bloed doodgeskiet het. Trekkende boere het voortaan in groepe getrek.
Tipiese Armstrong Kanon
In Junie 1869 kom Sir Walter Currie met die Frontier Armed en Mounted Police en ‘n afdeling van die Royal Artillery, sowat 120 man sterk, en ‘n Armstrong kanon. Currie het vinnig nog manskappe bymekaar gemaak en met ‘n finale mag van 210 polisie, 400 burgers onder veldkornet Hendrik Blaauw en 100 Gaikas teen die Koranas opgetrek. 

Besonderhede van die gevegte is onbekend, maar die Koranas het skynbaar gereeld die bosse in gevlug en veral die kanonvuur het groot indruk gemaak. Patrollies vanaf Pypklip, Middelpos, Brakfontein en Boksputs het baie vee gebuit. 

Die sluwe Klaas Lukas het, om sy eie bas te red, dit so bewerk dat Piet Rooi, Jan Cupido en Karel Ruiters aan Jackson oorhandig is en na Robbeneiland gestuur is terwyl hyself met die Verdrag van Olievenhoutsdrift goed daarvan afgekom het. 

Hy het £525 ontvang vir die uitlewering van die belhamels, Klaas Pofadder het £75 ontvang en Lukas sou voortaan erken word as kaptein van Boven Koranaland met Pofadder as kaptein van Benede-Koranaland. Daarby sou hulle elk jaarliks 100 pond lood en 400 pond kruit ontvang om die orde te handhaaf. So eindig dan die Eerste Korana-oorlog met Klaas Lukas stewig in die saal.

Soos elders beskryf is, het Lukas waarskynlik besef dat hy moes leer lees en skryf en deur sy herhaalde pogings om ‘n onderwyser te bekom het eerw. Schröder in 1871 na Olyvenhoutsdrift gekom. Sonder dat Schröder dit besef het, het Lukas stadig maar seker sy tweede opstand beplan. 

Om Lukas se toekomstige bewegings te begryp moet daar kortliks op gewys word dat die verspreiding van inboorlingstamme en groepe noord van Grootrivier rofweg as volg was: 
Namas
Van die weskus tot aan die Visrivier was hoofsaaklik Namas, tussen die Vis- en Moloporiviere was die Bondelswarts met hul hoofkwartier by Warmbad (die Afrikaners was as ‘n groep by Blydeverwacht) Die Koranas het die gebied vanaf die Moloporivier tot by Kheis gehad en verder oos het die Griekwas gewoon. 

Vanaf Augrabies met die rivier op is die eilande waarheen met gesteelde vee gevlug kon word. Dit moet ook onthou word dat gewetenlose handelaars die behoefte aan wapens en drank uitgebuit het. 

Volgens die Argiefjaarboek is daar aan die weskus alleen in die jaar 1874, 23 058 pond (10 480 kg) kruit, 46 608 pond (21 185 kg) lood en 571 gewere verskeep. Handelaars het mekaar by die kapteins onderkruip en die Kaapse regering was magteloos. 

Teen 1878 was die mark vir voorlaaiers omtrent versadig en agterlaaiers is toe ingebring. Dit is bereken dat een pond kruit en vyf pond lood sowat 50 koeëls lewer. In 1882 het Rautenbach alleen deur die hawe van Port Nolloth 10 000 pond kruit, 5 000 pond lood en 25 000 patrone gekry. Een handelaar het voor ‘n gekose komitee getuig dat: “If they could get a lot of ammunition they could exterminate each quickly”.

Die verkryging van wapens en ammunisie het by die inboorlinge ‘n valse vertroue geskep. ‘n Ander vorm van aanmoediging was die nuus dat Bantoes aan die oosgrens met sukses in opstand gekom het en selfs die Griekwas sou die Engelse ‘n geweldige slag toegedien het, want drie bokwaens vol lyke van Engelse soldate is begrawe. 

Voeg hier by dat sake op Kenhardt baie swak gelyk het. Die offisiere was dranksugtig en die organisasie was so swak dat die Koranas diere van die polisie gaan steel het en weer aan hulle terug verkoop het. 

Die oorlamse Klaas Lukas het sy kaarte goed gespeel. In briewe gedateer Maart 1878 (in vertaalde vorm) dui daarop dat Lukas vroeg beplan het om ook die Bondelswarts en Afrikaners by sy beplande oorlog in te trek en dat hy alreeds ‘n datum vasgestel het, want Jacobus Afrikaner antwoord op Lukas se brief: “……………….. that I will not be present on the first day on which you get up to fight”. 

Intussen het die Kaapse Regering die Bondelswarts en Afrikaners probeer weghou van Lukas. Schröder moes totaal onbewus gewees het van Lukas se planne, want selfs so laat as 6 Junie 1878 skryf Schröder nog dat hy by Lukas aanbeveel het om na die oosgrens te gaan (By Kheis) om toe te sien dat die Koranas nie by die Griekwarebelle aansluit nie en dit juis toe Donker Malgas besig was om sy magte daar saam te trek. 

Eers ‘n maand later, op 9 Julie, moes Schröder ontdek dat Lukas gereed maak vir oorlog.

Op Kenhardt was sake in ‘n treurige toestand. Verslae van diefstal het gedurig ingekom en polisie sowel as Boere en Basters was in afdelings vanaf Koegas tot by Kakamas geplaas, maar daar is nie tot aksie oorgegaan nie en die burgers het later geweier om diens te doen, want hulle word nie betaal nie. 

Inspekteur Nesbitt wat aan die hoof gestaan het, het wel op 24 Julie 1878 dringend ‘n kanon gevra: “…………….. in order that I may commence operations without any delay”, maar net daarna het hy homself siek gedrink en kolonel Bayly is gestuur om die bevel oor te neem met die duidelike opdrag dat Nesbitt nou tweede in bevel sou wees en oor die betalingsprobleme lui ‘n ander telegram “………… and you are held responsible that they are regularly paid accordingly. Any difficulties that may arise from neglect in this respect will have to be answered by those who have withheld the pay”. 

Op 22 Oktober skryf Nesbitt dat die kanonne die 19de op Kenhardt aangekom het. Die enigste opkikkering wat ook in Kaapstad weerklank gevind het, het van Kommandant van Niekerk gekom. Op 30 Oktober het hy die vyand by Stofkraal aangeval en 46 in die bosse dood geskiet, maar na die geveg was daar ook vroue en kinders onder die dooies. 

In die Kaapse koerante was daar ‘n groot lawaai oor “such disgraceful acts of barbarity”. Onder die datum 18 November lui ‘n verslag dat 47 transportosse by die polisiekamp op Rietfontein gesteel is en op 27 November is ‘n boer by Middelpos naby Kenhardt van al sy vee beroof en sy huis en wa uitgebrand. 

Teen hierdie tyd lui ‘n mediese verslag oor Nesbitt dat: “he is suffering from over work and mental strain”. Bayly was in botsing met Nesbitt en hy Bayly, wou nie bly nie en so is Jackson weer na Kenhardt teruggestuur. Na sy aankoms rapporteer hy: “……… the greatest disorder existed in every branch of the service ………. some men have not received pay for six months ………….. his (Lukas) forces now number upwards of a thousand man ………. their late successes are causing many more to join his standard”. 

Intussen skryf Schröder dat op Kenhardt “met goewerments geld gemorst word”. Jackson moes dus orde skep in die chaos op Kenhardt, hy moes probeer manskappe werf om die getalle te verbeter; Boere en Basters wou nie langer diens doen nie en daar moes uitgevind word waar Lukas sy manne saamtrek. 

Teen hierdie tyd het die oorlog die Kaapse regering al £ 10 000 per maand gekos, hoewel daar byna geen skoot geskiet word nie. By nadere ondersoek blyk dit toe dat Lukas wel ‘n 700 – 800 man gehad het. Jackson het vir Lukas probeer paai en Thomas Upington, toe Prokureur-Gene- raal het besluit om self te kom kyk wat aangaan. 

Op 15 Maart 1879 het hy by Kenhardt aangekom vergesel van Mnr J.H. Scott. Teen hierdie tyd het Jackson al 600 man bymekaar gehad en het net gewag op die aankoms van kapt Mc Taggert vanaf Kaapstad. Upington het dadelik druk uitgeoefen en van “energetic action” gepraat. 

Die mag is tot 781 man opgebou waarvan 550 die opmars sou begin en die res op strategiese plekke geplaas word. Die plan was om by Neusdrif naby Kakamas oor die rivier te gaan en dan vinnig rivier-op skoon te maak. Na Upington se sin kon Jackson net nie vinnig genoeg beweeg nie en hy (Jackson) bedank dan ook op 5 April net nadat die meeste troepe en waens oor die rivier is. 

In sy brief sê hy: “……………… you place my own plans and suggestions before me as eminating from yourself, couched in the most insulting terms and coupled with the gravest misinterpretations”. Upington het Jackson se bedanking aanvaar en vir Mc Taggart as kommandant aangestel. 

Die waens, kanonne en berede soldate het noord van Neusberg om beweeg terwyl die voet- soldate langs die rivier op beweeg het en die aand van 6 April slaap hulle op Warmsand.

Klaas Lukas het waarskynlik vir Kanoneiland as hoofkwartier gekies en sy verkenners het die magte goed dopgehou. Volgens argiefstukke lyk dit of dit Lukas se plan was om die magte in die digbeboste rivierstroke in te lok, maar hy het nie deeglik die waarde van die kanonne besef nie.

Op 7 April het die eerste geveg plaasgevind. Die wapad het destyds aan die voet van die heuwels geloop en die Koranas het die bultjie agter Friersdale se Koöperasiewinkel as skuilplek gekies en op die 20 verkenners begin skiet. 

Kapt. Nelson het sy kanonne nader gebring en die Koranas het rivier toe gevlug. Die volgende halte was by “Scance Kop” waar kanonvuur weer die vyand verdryf het. Die oorlogskaarte wys hier twee saamtrekplekke van Koranas, een groep in die heuwels by Loxtonvale en ‘n tweede groep regoor Loxtonvale tussen die twee hoofstrome. Hierdie hele gebied was Scance Kop of Schandkop. Hier het die konvooi se waens so gebreek dat slegs die ambulanswa nog vorentoe kon beweeg. 
Uitsig vanaf Tierberg in Keimoes
Op die oggend van 8 April is die Koranas by die Kevidos eiland gesien. Dieselfde omgewing is ook Cuvidos genoem met Grootoog noord en Kebies Kopje net wes. Met Kebies bekend as die teenswoordige T’kabies en Grootoog as Keimoes, moes die Koranas die heuwels by Keimoes sowel as Tierberg deeglik beman het. 

Onder dekking van kanonvuur is die eiland (Tierberg en Bokeiland) beset en die Koranas het so vinnig gevlug dat hulle 20 perde, 54 beeste, ‘n aantal bokke, kooigoed, kookgereedskap en self ammunisie agter gelaat het. 
Posisie van Currieskamp
Die konvooi se waens het soveel probleme gegee dat alles maar sukkel-sukkel na Currieskamp beweeg het om daar ‘n sentrale laer te vorm. Vanaf Currieskamp het eenhede in verskillende rigtings beweeg. In die omgewing van Keimoes is van eiland tot eiland geveg terwyl Mc Taggart met drie groepe langs die rivier op beweeg het. 

Op 10 April het die geskiedkundige Dyasonsklip- en Kanoneiland-gevegte begin; waarskynlik dan ook teen Klaas Lukas se hoof vesting.

Die Dyasonsklip stormloop is deur Mc Taggart as volg beskryf: “I came suddenly upon the enemy who opened fire upon us from a natural fortified scance. I immediately gave orders to dismount throwing out the Orange River Rangers as skirmishers, and No 2 Troop Northern Border Horse on the left flank and No 1 troop as a support. I opened fire, gradually advancing towards the enemy’s position and when within thirty yards gave orders to storm the stronghold and charge. 

Three of the enemy were killed and several severely wounded and were driven from their position into the bush and across the river. I am sorry to report that in this engagement I lost a brave and good officer, Field-Adjudant W. Dyason of No 1 Troop Northern Border Horse, and one man, Trooper Bruss, slightly wounded in the arm”.

Dit is dan die verhaal van die vandag bekende Dyasonsklip. Net hierna het die aanval op Kanoneiland begin wat deur Mc Taggart as volg vertel word: “I sent an express to Currieskamp, about eight miles off, for the two guns under Captain Nelson and the Zulu contingent under Captain Maclean. I placed the guns in position about two hundred yards apart on two prominent hills overlooking the islands, and sent in the whole of the mounted men with the Zulu contingent, leaving a sufficient number to guard the horses on the mainland, under cover of the guns. 

Captain Maclean returned with a quantity of cattle and small stock with two women prisoners, several of the enemy being killed in the bush as they were retreating from island to island”. 

Die verhaal gaan verder oor hoe die vroue ondervra is waaruit dit blyk dat die geveg by Dyasonsklip gelei was deur Donker Malgas, Klaas Lukas en Pofadder. Die vroue het die gesneuweldes herken as Rooy Thys, die hoof raadgewer van Donker Malgas, Pieter Lynx ‘n leier en Atief ook ‘n leier. 

Dyason is op die 11de met militêre eer begrawe en op dieselfde dag het ‘n afdeling soldate oor die rivier tot aan die suidekant gegaan. Op 12 April het die troepe in die rigting van Cabus (T’kabies) gegaan, waarskynlik weer met die doel om die eilande te bombardeer en op een plek is twee waens gevind: “…………… one containing boxes, books, papers, pens, ink, letters and portions of their household furniture”. 

Heel moontlik was dit hier waar die interessante korrespondensie van Klaas Lukas gevind is. In een van sy briewe het Lukas gesê, dat hy nie self kon skryf nie, maar ‘n kind skryf vir hom, want ‘n mens laat wonder of hy sy hoof vesting op Kanoneiland gehad het en net soms laer afgegaan het om by sy korrespondensie-plek te kom. 

Op die 12 de is die bo-end van Kanoneiland weer gebombardeer en daardie aand het Mc Taggart hoer op oornag, vandag bekend as die plaas Mc Taggarts Camp, 172 beeste en drie perde is gebuit. 

Op 13 April is 100 man na Olyvenhoutsdrift gestuur terwyl die res met ‘n boot na Bo-eiland (Kanoneiland) gegaan het waar 32 beeste en drie perde gebuit is terwyl Mclean en Walters vir Kanoneiland in die rigting van Blousekop deursoek het. Hulle het een kanon op ‘n heuwel op die eiland opgestel (die Bourant) en daar het 240 vroue en kinders met sowat 200 – 300 kleinvee hulle kom oorgee. 

Volgens Upington se verslag van die gebeure by Kanoneiland blyk dit dat die jong vroue (dogters) en beeste saam met die vegtende mans beweeg het, terwyl Lukas daarop staat gemaak het dat die soldate die vroue en kinders en die kleinvee wel iewers langs die rivier sou gehou het en hulle sou dan maklik weer opgespoor word. 

Hierdie vroue het vertel dat (met die kanonvuur) alreeds 750 beeste, 30 perde en ses waens vernietig is sowel as baie ammunisie, baie dooies lê in die bos en dat daar nou tweespalt onder die mans ontstaan. Lukas het dan ook sy mense in klein groupies opgedeel met die gevolg dat daar tot in Junie gesukkel is om die eilande tussen Kanoneiland en Friersdale skoon te maak.

Terwyl Lukas die oorlamse beplanner was, was Donker Malgas die roekelose vegter. Uit die argiefverslae blyk dit dat Fryer teen 25 Mei by Pofadder se kraal by Kakamas was en daarvandaan het hy die boodskap aan Mc Taggart gestuur dat Malgas nog op Kevise-eilande regoor Skanskop was. 

Mc Taggart het sy manne in twee seksies verdeel sodat hy (Mc Taggart) met een kanon van Skanskop vertrek het terwyl Maclean met die ander seksie en ‘n kanon van die noordekant af sou aanval. Op 29 Mei is Malgas dan ook uit twee rigtings met kanonvuur bestook. Met kleingeweervuur het Malgas skoot vir skoot beantwoord. Die strome was te sterk om tot by Malgas se skanse te kom en hy het die magte hardop uitgedaag om nader te kom en nie halfpad om te draai nie.

Hulle moes vir Malgas net so los en omdraai, maar hierdie aanval het vir Lukas die kans gegee om uit te glip. Lukas het vroegtydig gereël dat sy seun Koos in die omgewing van Swartmodder met ‘n groot aantal beeste en perde moes skuil en eers teen 13 Junie is dit ontdek dat beide Lukas en Malgas by Swartmodder skuil. 

By ondervraging van gevangenes het dit geblyk dat kos begin skaars word het, maar wat ookal die rede, toe die Koranas die eilande begin verlaat het, was die oorlog omtrent verbly. Klaas Pofadder het probeer om by Jakobus Afrikaner aan te sluit, maar is op 1 Julie gevang. 

Gamka Pienaar het na die Griekwas gevlug maar is gevang. Donker Malgas is in die Kalahari doogeskiet nadat Maclean hom vir drie weke van dors en honger agtervolg het. Vir Klaas Lukas kon hulle nie vaskeer nie en hy is later deur ‘n Baster, Gert Louw, gevang en uitgelewer. 

Die uitgeslape Lukas wat so graag wou leer lees en skryf het die ondergang en verdwyning van ‘n Koranavolk veroorsaak. Schröder het in 1878 al voorspel: “Zy zullen na dezen oorlog in de vier winden verstrooid worden” en so het dit ook gebeur. Vandag vertel nog net die Koranaberge van die vroeëre bestaan van ‘n Koranavolk.

Deur: A.K. Cornelissen. Alwyn het hierdie geskiedenis in die 1970's aangeteken.
Hierdie is die mees digbevolkte besproeiingsgebied van ons land met die droë kalkvlaktes van Kenhardt en Boesmanland na die suide en die sandduine van die Kalahari na die noorde.

Vir my as geoloog is dit ‘n gebied van oorsaak en gevolg, van waarneem en interpreteer en dan na alles die gebied waar ‘n mens jou medemens kan dien om ten volle mens te wees. Kyk na die sweetkolle op die hemp van arbeider, kyk na die kameeldoringboom en wonder hoe oud hy is, kyk na die kalkvlaktes en wonder hoe het dit ontstaan en dan eers as jy weet dat jy min weet sal dinge waarde kry, en eers as jy raaksien sal jy sien hoe baie hier is om te sien.

Hier is die sewestêr en die suidekruis snags helder, want hier is die lug skoon. Hier was die pioniers natuurmens en ons bring hulde aan hulle wat ons voorgegaan het.
Verwysing: Wollie Burger
Saamgestel: Johan Swart. Beelde bygevoeg vir duidelikheid.
Naslaan Verwysings:
The story of Grootkolk - the forgotten war