Gevegte, Oorlog & Veldslae - Die Anglo-Boere Oorlog 1899 - 1902

Toe die gerugte in die Upington-Kenhardt omgewing die rondte doen dat die Boere kom, het die spanning hoog geloop en polisiebeamptes het begin om beslag te lê op ammunisievoorrade wat deur winkeliers aangehou is.

Eintlik het die Republikeinse owerhede besluit om die distrikte Prieska, Kenhardt en Gordonia onder wapen te bring en so ‘n opstand teen die Koloniale regering te bewerkstellig. In Januarie 1900 het Genl Cronje vir Kmdt Lukas Steenkamp (‘n rebel uit Victoria-Wes met ‘n prysgeld van £1000 op sy hoof) en Genl Liebenberg aangewys om as aanvoerders van 130 man hierdie taak te onderneem. 

Dit sou in hoofsaak hulle taak wees om plaaslike owerhede te onthef en dan Boere-landdroste en veldkornette aan te stel om orde te handhaaf en om koloniste wat aan die oorlog wou deelneem van gewere en ammunisie te voorsien.

Op 24 Januarie 1900 het die kommando Magersfontein verlaat. Op 12 Februarie het Steenkamp en Scutte die Oranje by Swemkuil oorgesteek en op die oggend 16 Februarie het hulle Prieska ingeneem met 75 man. 

Die dorp is die vorige nag omsingel en vroeg die oggend het ‘n sekere Kok die magistraat wakker gemaak en die sleutels van sy kantoor geneem. Charlie Olen het die poskantoor se sleutels bekom en die telegraafdrade geknip terwyl Jooste die bevelvoerende polisiebeampte wakker gemaak het met die woorde: “Julle kêrels staan te laat op om die Boere behoorlik te ontvang en welkom te heet”. 

Teen 9 vm was alles verby – die Transvaalse en Vrystaatse vlae is gehys en op 19 Februarie kon Lukas Steenkamp ‘n volksvergadering by die NG Kerk se geboue toespreek. ‘n Krygskommissie van vyf lede is aangestel om orde te handhaaf.

Vanaf Prieska vertrek sowat 14 of 16 burgers met Kmdte Andries de Wet en Koos Jooste en Kaptein Borrius na Kenhardt plus ‘n wa met 300 gewere en 20 000 patrone om aansluitende rebelle te bewapen. 

Buite die dorp het die Boeremagte gewag terwyl de Kok ingestuur is om met die magistraat te onderhandel. 

Hy het van Mnr Garcai (of Garstin volgens Burger) onvoorwaardelik oorgawe geëis of die dorp sou met kanonne plat geskiet word. Kmdt Jooste het hier ‘n prysgeld van £20 000 op sy kop laat beland deur eers die magistraat en sy kantoorman in dieselfde sel op te sluit en daarna, weer geboei aan dieselfde kleurling, hom na Pretoria gestuur. 

Die magistraat se gepleit teen sulke vernedering is beantwoord met “Equal rights according to British views”. Hiervoor moes Jooste later via Lourenco Marques na Holland vlug. 

Met Borrius om sake verder op Kenhardt te hanteer, terwyl die Vrystaatse vlag wapper, vertrek Andries de Wet na Upington. Hier het Kmdt Jooste en Steenkamp die Vrystaatse vlag gehys en ‘n krygsraad aangestel. 

Eerw Schröder was toe reeds ‘n verkose parlementslid en het baie gehuiwer om die voorsitterskap te aanvaar. Dit sou ook later beteken dat hy as ‘n rebel ‘n swaar straf moes verduur, die uiteinde was dat hy as ‘n gebreekte man die tronk van Tokai sou verlaat. 

Ook op Kakamas is die polisiepos onskadelik gemaak. Binne ‘n maand is sowat 700 rebelle be- wapen vir verdere aksie en ‘n aanval op De Aar is in die vooruitsig gestel toe dinge meteens vir hulle ‘n verkeerde wending neem. 

Die koloniale regering was geskok deur die vermetelheid van Boereleiers en daar is onmiddellik toegeslaan. Tergelykertyd word Genl. Cronje op 27 Februarie op Paardeberg tot oorgawe gedwing en meer Britse Soldate word beskikbaar gestel. 

Op 18 Maart trek Lord Kitchener deur Prieska met 4 000 man en Sir Alfred Milner beweeg vir Lord Robberts om met drie kolonne soldate die noordweste se rebelle-neigings te smoor.

Teen die einde van Maart arriveer Kol. Pearson op Kenhardt en op 3 April neem Genl Settle self die bevel oor op Upington. Intussen, na die oorgawe van Genl. Cronje, word bevel van Genl. C de Wet ontvang dat die Boeremagte dadelik na die Republieke moes terugkeer. 

Die Prieska-rebelle het net daarin geslaag om op 6 Maart Kol. Adye se magte terug te dryf na Britstown, maar daarna moes Liebenberg en Steenkamp alles net so laat en baie vinnig padgee. 

Sommige kolonialers het met bitterheid hul gewere weggegooi en na hul wonings teruggekeer, andere het die Boereleiers gevolg en by die kommando’s gaan aansluit. ‘n Groep onder Herman Judelewitz het wel teen die Britse magte in Mei 1900 op die plaas Kheis in ‘n geveg betrokke geraak. 

Kol. Adye het van Prieska gekom en versterkings van Kenhardt. Die Boere het op ‘n eiland geskuil en soos die Tommies uit die bome te voorskyn kom is hulle afgemaak. Burger skryf egter dat die kanonne van die suidekant op die eiland geskiet het, terwyl Engelse voetvolk hoër op deur die rivier gegaan net om die Boere uit die flank aan te val.

Die bombardement het egter so lank aangehou dat die flankaanval nie uitgevoer kon word nie, en intussen het die Boere die eiland verlaat. Aan Engelse kant is Maj. Ewing en nege van sy manne gedood en aan Boerekant het die aanvoerder Judelewitz en ‘n paar stryders gesneuwel.

Op die dorpe en plase het die Britse magte met harde boetes getug. Eerw Schröder wat deur die Boereleiers as landdros op Upington aangestel is, is op Kakamas in hegtenis geneem en na sewe maande in die tronk op Upington is hy eindelik op Kimberley verhoor en beboet met £500 plus nege maande tronkstraf op Tokai. 

Van die Basters vir wie hy soveel opgeoffer het, was van die sterkste getuies teen hom. Toe hy in 1903 vrygelaat is, was sy gesondheid gebroke. Hy het na Upington teruggekeer, maar in 1905 het hy weens swak gesondheid sy werk gestaak en by die blanke gemeente op Upington aangesluit waar hy “nog kleine werkjies” in diens van sy Meester verrig het. 
Te besigtig by Kalahari-Oranje Museum Upington
Op 18 Februarie 1912 is hy op Upington oorlede waar sy stoflike oorskot nog rus.

Gedurende die Britse besetting is verskeie proklamasies onder krygswet aangekondig. Daar is onder andere ‘n aandklokreëling ingestel en feitlik alle donkies, muile en perde is opgekommandeer. Een van die dokumente dui daarop dat ‘n openbare veiling van die diere na die oorlog gehou is.

Volgens die notule van ‘n kerkraadsvergadering van 24 September 1900 was daar vir die vergadering van die blanke gemeente van Upington net die voorsitter en een ouderling en een diaken omdat: “byna al de leden des Kerkraads in de tronk gestopt waren en een paar woonagtig in het distrik Mier durfen niet op- komen wegens den oorlog”.

Nadat die Britse garnisoene met die opstandelinge afgereken het is in Mei 1900 die Border Scouts in die lewe geroep. Hierdie gewapende kleurlingtroepe moes die distrikte patroleer en dien as spioene en rapportgangers. 


Tot so ‘n mate is van Border Scouts gebruik gemaak dat daar teen Desember 1900 byna geen blanke troepe meer op Upington en Kenhardt was nie. Die Scouts is vermeerder van 150 aan die begin tot 500 in Januarie 1901 en daarna tot ‘n korps van agt eskadrons met ‘n totale mag van 786. Hulle het eintlik die gebied van Prieska tot Springbok gepatrolleer. 

Die korps het die boerebevolking verneder, op hulle gespioeneer en uitgetart. Omdat die Engelse van sulke werktuie gebruik gemaak het, is hulle deur die boerebevolking verag en verafsku, maar dit was krygswet en mag is wet.

Hierdie Border Scouts (of Butter Skots soos hulle ook bekend was) was meer dan enigiets anders die rede waarom die boere vir ‘n tweede maal in opstand gekom het. Hulle het klompies-klompies bymekaar gekom en gewere en ammunisie wat begrawe was weer gaan uithaal. 
Manie Maritz
Boere-offisiere het kom help, en in April 1901 was Manie Maritz in die Boesmanland en Conroy op Kakamas. Die Namaqualand Scouts het aangegroei tot sowat 400 en die Bushmanland Border Scouts tot sowat 600, maar so het Boerevegters uit die Republiek ook aangegroei sodat in die hele noordweste teen die einde van 1901 sowat 3 600 gewapende mans was.
Genl. Jan Smuts
Genl. Jan Smuts wat op ‘n algemene opstand in die Kolonie gehoop het, het die sowat 16 kommando’s van Noordwes-Kaapland gekoördineer en het vir Manie Maritz, Jaap van Deventer, Wynand Malan, en Hendrik Lategan tot generals bevorder en hulle in bepaalde gebiede geplaas.

Van Rhynsdorp, Garies, Springbok en Concordia en Kenhardt het die Boere veral vir Phillip Froneman, Jan Louw en Albert Stadler gevolg. Kmdt. Conroy is deur Maritz na Kakamas gestuur waar hy vir Kmdte. Stadler en Louw met hul 500 manskappe bygestaan het. 

Conroy wou ‘n aanval op Kenhardt waag, en terwyl hy op Dwaalgees, sowat 12 myl van Kenhardt, hom gereed maak vir die aanval, verneem hy dat ‘n patrollie Engelse hom op Naroegas inwag. Conroy stuur 28 ruiters om die Kakies te gaan vang, maar hulle word onverwags deur Border Scouts onder leiding van Ramsbottom en Mac Cloud aangeval. 

H.L. Jacobs word in die voet gewond en A.C. Jooste word daar gevang. Hierdie twee jongmans word dan op Kenhardt tot die dood veroordeel omdat hulle rebelleer het, en is op 24 Junie 1901 naby die dorp tereggestel. Gevegte het by Keimoes en Swartkop plaasgevind, maar voordat verdere aandag aan Kenhardt gegee kon word, is Conroy en Louw na Griekwaland.

Toe dit lyk of sake in Noordwes-Kaapland vir die rebellie ‘n gunstige wending aanneem is Genl. Smuts na Transvaal geroep vir vredesonderhandelinge. By sy terugkeer het hy met groot moeite daarin geslaag om die kommando’s tot oorgawe te oortuig. 

Maritz en sy manskappe moes op Kenhardt oorgee, en daar is hul in klip forte aangehou en deur Border Scouts bewaak. Albert Stadler kon hom hiermee nie vereenselwig nie en het met 30 man uit die forte gestap en ‘n ent daarvandaan gaan raad hou en weer teruggekom. 

Hieroor is hy in die tronk gestop en moes saam met Kleurlinge prisoniers die houtkar trek – gaan hout haal by Driekop. Sy broer Arnoldus het weer vir ‘n Engelse offisier gelag en is ook tronk-toe en verder na die houtkar. Arnoldus het homself amuseer deur kort-kort per ongeluk die kar om te gooi.

Die rebelle moes elk voor Kapt White sy vonnis kom aanhoor en die eed van getrouheid aflê. Albert Stadler het volstrek geweier om onder gewapende geleide deur ‘n berede offisier na die hof geneem te word. Die offisier was finaal verplig om hom te voet ongewapend te begelei. Geen wonder dus dat Albert Stadler met die 1914 / 1914 rebellie weer op die voorpunt was nie.
Die grense soos in 1885
Deur: A.K. Cornelissen. Alwyn het hierdie geskiedenis in die 1970's aangeteken.
Hierdie is die mees digbevolkte besproeiingsgebied van ons land met die droë kalkvlaktes van Kenhardt en Boesmanland na die suide en die sandduine van die Kalahari na die noorde.

Vir my as geoloog is dit ‘n gebied van oorsaak en gevolg, van waarneem en interpreteer en dan na alles die gebied waar ‘n mens jou medemens kan dien om ten volle mens te wees. Kyk na die sweetkolle op die hemp van arbeider, kyk na die kameeldoringboom en wonder hoe oud hy is, kyk na die kalkvlaktes en wonder hoe het dit ontstaan en dan eers as jy weet dat jy min weet sal dinge waarde kry, en eers as jy raaksien sal jy sien hoe baie hier is om te sien.

Hier is die sewestêr en die suidekruis snags helder, want hier is die lug skoon. Hier was die pioniers natuurmens en ons bring hulde aan hulle wat ons voorgegaan het.
Verwysing: Wollie Burger
Saamgestel: Johan Swart. Beelde bygevoeg vir duidelikheid.
Naslaan Verwysings:
Rebelspoor - Die ware bittereinde