Die oudste verwysing na die eiland is Gordon se kaart van 1779 waar hy die eiland vernoem na sy oudste seun, die Jonge Robbert Gordon Eyland. Waarskynlik het die drif toe bekend geword.
Vir ‘n wadrif was dit noodsaaklik dat die rivier wyd moes vloei en dus vlak water en dat daar nie gate of rotse op die vloer moet wees nie. So skryf eerw. Hodgon in 1824 dat hy so haastig was om by die drif te kom dat hy selfs ‘n gedeelte van sy Sondag moes gebruik.
As die water te diep is moes vlotte gemaak word om die wa oor te bring en dan weer anderkant aanmekaar gesit word. Rivierbewoners kon almal goed swem en ‘n 10 tot 12 mans hou aan die sye en agter aan die vlot vas en skop net woes.
Vir Hodgon het dit omtrent 12 uur geneem om hier by Upington oor die rivier te kom en toe breek sy trektou nog toe die wa op die eiland uitgesleep word. Hier het hy eers ‘n koei geslag sodat almal die aand goed kon eet. Behalwe vir die hoofstroom aan die noorde kant was daar nog ‘n tweede stroom wat waarskynlik ‘n diep donga was.
Na ‘n derde stroom word nie verwys nie, maar vroeë reisigers vertel wel dat dit eintlik twee eilande was. Na die eiland is verwys as die Olyvenhouts Drift Eiland. Volgens oorvertelling het hier baie Olienhoutbome gegroei.
Die palmlaan by die Eiland
Die palmlaan het sy ontstaan te danke aan die aanlê van die landbou navorsingstasie. Die eerste proefstasie was op Kakamas op sowat vyf hektaar grond. In 1935 is die nuwe navorsingstasie op die eiland aangelê op grond wat deels van die Departement Lande en deels van die stadsraad van Upington verkry is om sowat 27 ha te maak.
Dit was ‘n voorwaarde van die Stadsraad dat die vyf groot kameelbome behoue moes bly en dat palmbome net buite die grens van die navorsingstasie geplant moes word. In 1957 is nog grond van die Stadsraad verkry op voorwaarde dat ‘n keerwal ook rondom die munisipale eiendom gestoot moes word en dat die palmlaan tot aan die keerwal verleng moes word.
Die beplanning en aanplant van die laan is deur ‘n mnr Sellschop gedoen en die laan was ten einde 1041 meter lank, die langste palmlaan in die suidelike halfrond. Met die vloed van 1974 het die noodwal gebreek en palms na aan die wal is uitgeruk.
Deur: A.K. Cornelissen. Alwyn het hierdie geskiedenis in die 1970's aangeteken.
Hierdie is die mees digbevolkte besproeiingsgebied van ons land met die droë kalkvlaktes van Kenhardt en Boesmanland na die suide en die sandduine van die Kalahari na die noorde.
Vir my as geoloog is dit ‘n gebied van oorsaak en gevolg, van waarneem en interpreteer en dan na alles die gebied waar ‘n mens jou medemens kan dien om ten volle mens te wees. Kyk na die sweetkolle op die hemp van arbeider, kyk na die kameeldoringboom en wonder hoe oud hy is, kyk na die kalkvlaktes en wonder hoe het dit ontstaan en dan eers as jy weet dat jy min weet sal dinge waarde kry, en eers as jy raaksien sal jy sien hoe baie hier is om te sien.
Hier is die sewestêr en die suidekruis snags helder, want hier is die lug skoon. Hier was die pioniers natuurmens en ons bring hulde aan hulle wat ons voorgegaan het.

Verwysing: Wollie Burger
Saamgestel: Johan Swart. Beelde bygevoeg vir duidelikheid.
Saamgestel: Johan Swart. Beelde bygevoeg vir duidelikheid.