Piet (Fokken) van Rooyen

Ma het nooit baie van Piet van Rooyen gehou nie. "Nie oor dit of dat nie, het sy gesê, maar hy sê te veel "fokken".

Dit was die jare net na die oorlog. Piet was ons buurman op die besproeiings-erwe. Dit was n moeilike tyd..Alles was peper-duur. En die mense was arm.

Baie skaap-boere het as gevolg van die droogte, uitgeboer, en hulle hier na die besproeiings-grond langs die Oranje-rivier gewend. Hier het hulle n nuwe lewe van vooraf begin. 
Bome moes uitgehaal word, water-vore moes aangelê word, en die landery gelyk gemaak word. Met perde en donkies, skrapers en baie moed is die grond dag vir dag bewerk.

Daar was nie n dokter nie, en die naaste dorp was 30 kilometer weg. As iemand siek geword het, is n oud-verpleegster wat almal "Suster" genoem het, ingeroep. Sy het met primatiewe gereedskap, warm kompresse en allerhande doepa die pasiente behandel.

Sy was ook die enigste vroedvrou in die omtrek. Daardie jare is babas tuis in die boere-huis gebore en baie selde in n hospitaal.

Toe byt n bosluis vir Giel van Rooyen. Piet en Sarie van Rooyen se seun. Giel was so om en by 20 jaar oud en het saam met sy pa geboer.

Hy was fris en sterk en sy pa se regterhand. Hy kon sommer die bale lusern man-alleen optel en op die wa gooi. Hy was ook Sarie se oogappel, veral omdat dit al kind was wat sy by Piet gehad het.

Ek was die dag by toe Piet van Sarie vertel het. "Oom Schalk, het hy gesê, "daar is nou vir jou n voorslag vrou. Maar weet oom dis so toevallig. Sarie was n nooi Louw daar van die Paarl se wêreld."

"Toe ontmoet sy vir Barend Brand en nie lank nie toe trou die twee. Hulle was nie n jaar getroud nie toe sterf Barend in n motorongeluk. Ek het Sarie hier op Upington tydens n troue in die Oranje-hotel, ontmoet."

"Oom , sy was mooi.....en ek het nie gras onder my voete laat groei nie. Ons is nou 22 jaar getroud. Maar wat ek oom nou eintlik wil vertel is.... 
Sarie was eers Louw,, toe geBrand en nou is sy al vanRooyen ."

Piet het uit sy keel gelag en oor sy rooi hare gevryf. So tussendeur het hy natuurlik n paar maal daai f-woord gebruik, tot ma se ontsteltenis.

Pa het droogweg opgemerk. "Piet,, as Sarie nou weer n weduwee word ,moet sy met Andries van As gaan staan en trou...." Piet het dadelik gesnap en lekker saamgelag.

Die bosluis het vir Giel agter-op sy rug gebyt. Hy het bewus geword van die seerplek maar nie verder ag geslaan nie. Na n week of wat het hy siek geword. Koorsig en koue sweet.

Die seer agter-op sy rug was ook nou baie gevoelig,en sy ma het ondersoek ingestel. Toe hulle die bosluis ontdek, het sy en Piet besluit om die bosluis met n sker middeldeur te knip. Dit was n groot fout.

Giel het al hoe sieker en swakker geword. Toe hulle vir Suster laat kom was dit feitlik klaar te laat. Sy het beveel dat hulle hom dadelik by n dokter bring. n Week later is Giel in die hospitaal op Keimoes dood. 
Ma het altyd gesê sy wonder watter soort bosluis hom gebyt het.

So n jaar na Giel se dood was Piet eendag by ons aan huis. Hy en pa het by die kombuis-tafel gesit en koffie drink. Giel se dood het weer ter sprake gekom. 

Ma het n bordjie biskuit op die tafel neergesit en gevra:
"Piet,, ek wou jou nog altyd vra..
"Was dit een van hierdie blou bosluise wat destyds vir Giel gebyt het?"
Piet het die biskuit in die koffie gedoop en n groot hap gevat.
"Nee ant Kittie,

dit was n fokken bont-poot".......
Deur: Coen Vollgraaff
Verwysing: Wollie Burger