Wanneer laas het jy mooi in die spieel gekyk?

'n Krietiese waarneming.

Toe ek vanoggend in die badkamer kom het hy daar gestaan en ek was geskok. 'n Patetiese figuurtjie.

Ek is so besig dat ek nie altyd tyd maak om hom in diepte te waardeer nie. Ek kyk soms maar sien altyd raak nie en ek moet erken ek is teleurgesteld om die algehele agteruitgang waar te neem.

Die torso het afgesak, die vel het sy veerkrag verloor en oral is oumens plooitjies waarneembaar. Die haredos van 'n klompie jare gelede het stil.. stil migreer na die mees onwaarskynlike plekke. 

Gryshare peul by die neusgate en ore uit en sommige het hulle wragtig op die ore staan gemaak en om die prentjie af te sluit, dik weerbarstige grys hare op die wenkbroue.

Die oë wil selfbewus wegkyk, maar kry dit tog reg om huiwerend na my terug te staar. Wat het geword van die vuur in daardie oë? Oë wat eens op 'n tyd vol selfvertroue 'n bars kon kyk? Nou is dit waterige oumens-ogies wat onseker na my terug staar. 

Meteens verkyn my vrou se gesig langs syne. "En as jy jouself in die spieël staan en bewonder? ... vra sy laggend. Jy moet klaarmaak, die kerk begin oor 40 minute.
Deur: Wollie Burger