Nuwe sytak van Oranjeriver - 1 April 2022

Konstruksie vir nuwe sytak van Oranjeriver begin. Kenhardt distrik binnekort gereed vir dagga-gewasboerdery.

GEMSBOK-UPINGTON: 
Ten spyte van die hewige teenstand deur boereverenigings langs die Oranjerivier, het kontruksie aan die nuwe vertakking van die Oranjerivier verlede week begin.

Die Departement van Landbou en Waterwese meen die nuwe vertakking, wat se eerste fase vanaf Boegoebergdam na Kenhardt sal strek, bring die moontlikhede vir gewasboerdery na die dikwels erg droogte geteisterde sentrale Noord-Kaap.

Die multi-biljoen rand projek se eerste fase behoort teen einde 2022 voltooi te wees, met minimale kontrakteuring om geld te bespaar.

Die bod op die konstruksie is in Januarie vanjaar aan GEK Plofstowwe toegeken en Ehan April, uitvoerende direkteur van die konstruksiemaatskappy, meen hy kan met minimale mannekrag in rekord tyd ‘n 800m breë en 22m diep rivierloop vanaf Boegoeberg na Kenhardt bou.

“Hierdie soort tender skop jy nie sommer agter elke bos uit nie en dit het baie intensiewe onderhandelinge met die tenderkomitee gekos, maar ons het die knoop deurgehaak.” sê April, wie ook steeds wag op die toekenning van beide fases twee en drie van die projek.

Fase twee, wat strek tussen Kenhardt en Brandvlei, behoort middel 2023 voltooi te wees.
Vanaf Brandvlei sal die rivierloop strek verby Loeriesfontein, waarna die rivier sal uitmond by Lutzville.

Die departement meen boere wie se grond in die pad van die beplande rivierloop lê sal met pomptoerusting en cannabis gewasse vergoed word vir die gebruik van hulle grond.

Die verbouing van canabis verwante produkte blyk die sleutel tot ‘n finansiële hupstoot vir ‘n sukkelende landbougebied te wees en die Departement wil, met die nuwe Oranjeriviervertakking ‘n volhoubare plan B in komende droogte seisoene in die gebied verseker.

By die riviermond beplan die Department van Handel en Nywerheid ‘n vragskip hawe, om die canabis uitvoere na die buiteland te vergemaklik.

Die eerste canabisvrag sal op 31 Februarie 2024 na Jamaika vertrek.

Die uitvoermaatskappy, DOPE Uitvoere, is baie opgewonde oor die nuwe geleenthede wat die Lutzville vragkern sal bring en hulle beplan om meer as net cannabis van hier uit te voer.

** Die Gemsbok het besluit om tog ons lesers op die datum te let en wens elkeen van julle ‘n verspotte en genotvolle Aprilgekke dag toe.