Die Rieldans - Oudste danssoort in Suider Afrika

Die rieldans kan met reg as die oudste danssoort in Suider Afrika gereken word omdat die hedendaagse vorm direk na die Khoi-San, die eerste bewoners van die streek herlei word.

Vanmelewe het die Khoi-San na ‘n goeie oes of jagtog en by hul verskeie feeste al sirkelend om die vuur gedans. Baie van die passies word vandag nog steeds in ‘n sirkel gedoen. In Nama staan die dans as die ׀khapara bekend en is veral bekend vir die vernuftige voetwerk en energieke pas waarmee dit gedans word. In Afrikaans het die dans die rieldans geword vanweë die ooreenkomste wat dit met die Skotse “reël” het.

Die dansers wat die dans vandag beoefen probeer dan ook deur middel van die kleredrag iets van daardie era weergee. Die riel het veral te make met die liefdespel en om dit te illustreer word diere en voëls nageboots. Die askoekslaan is ‘n bekende deel van die rieldans waar die regtervoet gedurende die dans vinnig en sekuur bokant die linkerknie geplaas word. Die rieldans word veral in die Noord-Kaap en Karoo en enkele ander streke gedans.

Die ATKV het gedurende 2006 die eerste kompetisie in sy soort aangebied. Daar word voorsien dat die kompetisie nog steeds sal groei en dat gemeenskappe weer kultureel aktief gaan word.

Website: https://atkv.org.za/neem-deel/musiek-en-dansprojekte/rieldans/algemene-inligting/
Die Rieldans dansers
Die Rieldans dansers
Rieldans 2012
Die Nuwe Graskoue Trappers - ATKV Rieldans winners 2014