Van Zylsrus se geskiedenis

Ons dorp

Die dorpie Van Zylsrus is geleë aan die walle van die droë Kuruman-rivier. Die gebied was deel van die eeue-oue handelsroete tussen die Kora-Tswana gebiede suid van die Molopo en die Groot Namaland-Damaraland en Ovamboland.

Na die groot droogte van 1907-1908 het boere van veral die Suid-Vrystaat en Noord-Oos Kaap na die gebied gekom. Water was ‘n groot probleem en boorgate is deur majoor Thomas Cullinan op Eensaam, Kameelrus, Murray, Springputs, The Heights, Van Zylsrus en Visgat geboor.

Van Zylsrus is vernoem na Genl. J.A. van Zyl wat tydens die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 by generaal De la Rey aangesluit het en by Kimberley en Sweizer-Reneke geveg waar hy ‘n groot groep vroue van die Engelse bevry het. Hy was ook een van genl. De la Rey se bevelvoerders oor die Griekwalanders tydens die 1914-Rebellie.

Gedurende die 1914-1915 Rebellie het generaal J.A. van Zyl die stryd in en om Kuruman en die Kalahari gestry en ‘n groep ruiters aangevoer tydens die Suidwes-Afrika (Namibië) veldtog.
Hy en sy manne het in die Kurumanrivier op die terrein van die huidige Van Zylsrus by ‘n windpomp afgesaal. 

Nadat hulle vier dae lank daar gerus het, is die groep verder op hulle reis deur die Kalahari. Volgens Donald Riekert, skrywer van Woestynruiter, die lewe van veggeneraal Jakobus Albertus van Zyl, het die generaal, toe hulle daarvandaan weggery het, sy hand opgelig en uitgeroep: “Vier dae het ek hier gerus, die plek se naam is Vanzylsrust.” Mettertyd het die naam na Van Zylsrus verander en plaaslike mense praat ook van die dorp as Vanzyls.

Na die oorlog is ‘n paar boere aangestel as boorgatwagters. As vergoeding is wei lisensies gratis aan hulle toegeken. In 1929 het kommandant Botha van die Departement Lande, plase in die gebied uitgemeet en aan boere toegeken. Van Zylsrus is aan ene mnr Visser toegeken. ‘n Gedeelte van die plaas met die woonhuis daarop is later uitgekoop en so het die dorpie ontstaan. (dankie aan Bardene Thirion)

“The warm Kalahari sands will blow over my footprints. But the warmth of the Kalahari people will be printed in my heart. I came as a stranger, I left as a friend.”

Ons Hotel

Dudley Venner
Dudley Venner was vir tien jaar, vanaf 1974-1984 die eienaar van die eertydse Gemsbok hotel.
Dudley, ‘n verteenwoordiger van Gilbeys in Kimberley, het in Oktober 1974 in Van Zylsrus aangekom. Hy het die hotel (wat eers ‘n losieshuis was) vir R40 000 by mnr Attie Lubbe gekoop.

Die hotel was ‘n nuwe begin vir Dudley, wat die vorige jaar sy seun in ‘n ongeluk verloor het. Saam met sy vrou, Babsie, wat die kok was,’n kroegman,’n drankwinkel-verkoopsman, twee skoonmakers, twee kombuis assistente en een algemene werker het die hotel groot hoogtepunte beleef. Dit was ‘n gewilde oornag- en kuierplek. Daar is ook gereeld Saterdagaande braaivleis gehou en gedans.

Boeredag

Maandae was die boere se dag. Nadat die kinders by die skool afgelaai is, het hulle by die kroeg gekuier en die hele dag veerpyltjies gegooi, ghitaar gespeel en gesing. Ds van Wyk, oud-leraar van die Ned. Geref. Kerk was so beïndruk met die samesang dat hy die manne gevra het om as koor in die kerk te sing.

Aflewerings

‘n Bus het twee keer per week aflewerings gedoen. Tydens een geleentheid is ‘n paar doodskiste bo-op 400 kiste bier gepak. Een van die afleweringsmanne het binne-in een van die doodskiste geklim en toe die bier afgelaai is, het hy uit die kis geklim en almal wat met die aflewering gehelp het, die skrik op die lyf geja.

Pryse in 1974

Aandete, bed en ontbyt: R12.50
Bottel brandewyn: R7.50
Biltong: R1 per kg
‘n Slagbees: R80
‘n Skaap: R10
‘n Gemsbok: R15

Die Kuruman-rivier in vloed

In 1974 het mense het van oral oor gekom om na die vol Kurumanrivier te kom kyk. Die myn op Black Rock het ‘n kabel geskenk en daar is ‘n vlot met vier petroldromme, ‘n houtplatform en ‘n katrol gemaak sodat mense oor die rivier kon kom. Na ‘n hele paar drankies in die hotel het een man (Gertjie de Bruin) sy valstande verloor tydens so ‘n rit op die vlot. Sedert 1974 het die Kuruman-rivier ‘n paar keer geloop, maar die watervlak was nog nie weer so hoog soos in 1974 nie.

Skaap vereffen drankrekening

Twee plaaslike boere, Duusman van Eeden en Dirk Beukes wou ‘n tjek van R20 000 by die hotel wissel, want hulle wou kontant hê vir ‘n paar drankies by die kroeg. Dudley Venner, eienaar van die hotel, het nie soveel geld beskikbaar gehad nie en hy wou hulle ook nie toelaat om op skuld te drink nie.

Die lus was egter te groot en ‘n boer maak mos ‘n plan. Dirk en Duusman het toe een van hulle skape wat bedoel was om op te veil die volgende dag, gaan haal om vir hulle drankies te betaal. Nie een van hulle wou agterop die bakkie saam met die skaap sit nie en die skaap is toe voor in die kajuit, tussen die twee ingelaai. Die skaap is aan ‘n paal in die kroeg vasgemaak en Dudley moes drank ingooi vir die skaap se prys (R10 in daardie dae). Die hotel het ‘n verlies gely, want die waarde van die drank wat uitgedrink is, was baie meer as die prys van die skaap.

Bekende gaste van die hotel

· Genl. Victor Verster (na wie die Victor Verster-gevangenis vernoem is) het gereeld by Niklaas Engels gejag en in die hotel oorgebly.
· Mnr Pik Botha, oud-minister van Buitelandse Sake het gereeld by Dirk van Eeden kom kuier en in die hotel ‘n paar drankies kom geniet.
· Dr Lukas Potgieter, skrywer van Die Boer en sy Roer.
· Prof. Eloff, wat navorsing gedoen het oor leeus in die Gemsbokpark (die huidige Kgalagadi Oorgrenspark).

Die nuwe Hotel

Die huidige eienaars, Elbie en Petro Jonker, het die hotel gekoop in 2006. Dit was nodig vir ‘n nuwe baadjie, en die ou hotel is kompleet gesloop tot op fondasie vlak en weer gebou.

Petro Jonker is verantwoordelik vir die oorgrote kunswerke in die hotel. Haar persoonlike hand is oral te sien en besienswaardighede soos die wasbakke, muurwerke, pleister krap en baie ander is persoonlik deur haar gedoen. Ander hoof kunstenaars word hieronder genome alhoewel die vriendinne en familie se insette ewe belangrik was.

Teddy Mkhize van Durban was verantwoordelik vir die pragtige ystermeubels en lampe in die hotel. Hy het geen formele opleiding in sweiswerk nie, maar het in 2000 begin om stoele en blompotte van afvalmetaal te maak om hom en sy gesin te onderhou.

Zakes Malatji oorspronklik van Tzaneen in Limpopo en deel van die Integron Konstruksiespan het die uitdaging geniet om uiting te gee aan sy kreatiwiteit. Zakes en Petro Jonker was verantwoordelik vir die unieke versiering van die hotel se mure. 

Petro se fantastiese ontwerpe en Zakes se gewillligheid om te leer en met verskillende teksture en kleure te eksperimenteer het van hulle ‘n merkwaardige span gemaak. Lenie Brand (Petro se Ma) van Stellenbosch was verantwoordelik vir die unieke mosaiek- en decoupage spieëls in die hotel.

Hierdie energieke senior burger het nie tyd om terug te sit en oud te word nie. Sy is gek oor haar tuin, doen blommerangskikkings en is lief vir alle vorme van skeppende werk. Alhoewel sy dikwels kla dat daar nie genoeg ure in ‘n dag is nie, vind sy altyd tyd om aktief betrokke te wees by kerkaktiwiteite en liefdadigheidsprojekte.

Deur: Lieb Loots
Facebook: Reenval & Foto's in die Kalahari