Ouma se huis en die rooi granaat (S Grootdrink 4km)

 
Onlangs ontmoet ek van baie ... baie jare gelede weer ons bure se dogter Driekie Theron nee Strauss. Hul hele gesin, oupa, ouma, kinders en kleinkinders het saam gekom om weer haar en haar man Nico se grootword wêreld te kom verken. 

Ons gesels en ons onthou van ’n tyd so lank gelede dat dit byna in die vergetelheid verdwyn het en dit tref my hoe baie ek van hierdie bure, wat ons lewens verryk en gedeel het, kan onthou. Ek praat oor die begin jare van1950 tot 1960. ’n Era toe almal nog in die skadu van die Groot Depressie, die groot droogte van 1933 en die Tweede Wêreldoorlog gelewe het en omstandighede mense hier langs die Oranjerivier versamel het.

Keuses en geleenthede was baie beperk maar hier het dit die versamel plek geword van mense wat hoop en uitkoms gesoek het. Boere wat uitgeboer het, spoorwegwerkers, transportryers, delwers en oudsoldate en een ding het almal in gemeen gehad, hulle was arm.

My pa het altyd die gesegde gehad dat die Regering hier geleer het om met arm mense te boer.
Van oral het hulle gekom en van verskillende agtergronde om tog net ’n lewe hier te kon uitkerf om vir hul gesinne voorsiening te kon maak.

Ons huis (Ouma se Huis) en ons bure weerskante van ons het op ’n hoogtetjie gebly, met die Theron’ s se huis so 100 meter aan die suidekant , en Oom Simon Rickert so 80 meter noord van ons. Naby genoeg dat ons alles van mekaar se doen en late weet en ook kon deel in die vreugdes en hartseer wat deel was van ons alledaagse bestaan.

My pa, Frans Burger, Oom Jan Theron en oom Simon Rickert was almal kort mannetjies en daarom het hulle die spoorweg bushalte langs die pad tussen Upington en Groblershoop, Dwergieshoogte gedoop. 

Hier het almal op en af van die ou rooi Diamond T spoorwegbus geklim en hier is die roomkanne langs die pad gelaat, sodat die assistent busbestuurder dit sou oplaai na Kleinbeginstasie en van daar gaan dit per trein na Kimberley. Die ou witgatboom staan steeds daar waar ons soms in sy skaduwee vir die bus moes wag om ons roomkanne terug te bring.

Meeste boere het nog perde, muile en donkies gebruik om hul grond te bewerk en hul lusern te sny en te hark . Oom Jan en Tannie Stina Theron was ouer as my pa-hulle en toe ek my verstand kry, was hul jongste twee dogters Poppie en Driekie moontlik al in hul vroeë twintigs. Hul seun Jannie was net uit die skool en het al baie van die take op die plaas verrig, wat Oom Jan tyd gegee het om tuie en halters van die perde en muile onder ’n groot ou doringboom reg te maak en verder allerlei handwerkies te verrig.

Vir die kerkbasaar het Oom Jan altyd iets vir ons seuns gemaak wat ons kon koop. ’n Woer –woer, swepie of kierietjie en dan het Oom Jan natuurlik ’n ry granaatbome gehad wat van die syfer water uit die sementdam floreer het. Sulke bloedrooies waaroor ons as kinders gek was.

Die granate was egter as ’n ruilmiddel gebruik. Oom Jan het tafelpootjies van garingtolletjies gemaak en vir elke tolletjie kon ons ’n granaat kry. Baie dae moes my ma ’n halwe tolletjie garing op ’n ander tolletjie draai sodat ek ’n granaat by Oom Jan kon gaan haal.

Ek onthou daar het op ons grond ’n ry perskebome langs ’n watervoor gestaan en in die middel van die laning was daar ’n rooiwang-vaspit perskeboom met heerlike groot sappige perskes. My Pa het op ’n keer met ’n besonder grote by die huis kom spog en op die kombuis tafel gesit waar almal dit kon bewonder. Toe ons dit wou eet het hy gesê hy bêre dit vir “oudag”. 

Daar was gereeld oor en weer gekuier om sommer te gaan koffie drink en by die bure ’n vinnige geselsie in te kry, en so het Oom Jan die oggend soos gewoonlik daar opgedaag, die perske geneem, so in die rondte gedraai en toe baie rustig sy mes uitgehaal en dit begin afskil en dit met smaak geëet. Ons bediende het droog teenoor ons opgemerk, “mmm ... Oudag het gekom.” 

Ons wou ons natuurlik hieroor breek, maar Oom Jan was onbewus van die vermaak wat hy daardie dag verskaf het en my ma het ons uitgejaag want ek dink sy het geweet Oom Jan sou baie sleg voel as hy sou agterkom dat dit kamtig my Pa se spesiale perske was.

Verder suid, aan die oorkant van die kanaal, was die huis van Oom Willem en Tannie Hester Burger, ook bekend as Oom Willem-Tros. ’n Groot mens, bedoelende lank en groot, nie vet nie en ’n baie joviale persoon, ’n kleurvolle karakter en altyd jonk van gees. As dit die jaar lekker reën het die hele gemeenskap op ’n Saterdagmiddag piekniek in die veld gaan hou en hy was altyd die spook wat in die donker ons kinders met ’n laken voorgelê het om ons dan al jillend en gillend met Eselfontein se sloot langs af te jaag. 
Ons kinders het dit natuurlik baie geniet.

As gesin het hulle nogal snaakse gewoontes en gebruike gehad. Hy het byvoorbeeld die buurvrouens altyd formeel as Miesies Burger of Miesies Theron aangespreek en die kinders het hulle ouers Mom en Dad genoem. Vir ons was dit altyd volksvreemd.

Daar is so baie staaltjies aan Oom Willem gekoppel, soos dat hy nooit vinniger as 35 myl per uur (60km/uur ) gery het nie en dat hy altyd probleme met ’n pap battery gehad het. Die grootmense het gesê die enjin het te stadig geloop vir die generator om die battery te laai.

Een ding wat uitgestaan het, was Oom Willem se liefde vir rugby en hy het alles gedoen om ’n Springbok toets te gaan kyk. . Een van sy kleinseuns, Neil Burger, sou later vir die springbokke as vleuel uitdraf en Neil se suster is met Hennie Becker die springbok en WP slot getroud. Ongelukkig sou sy oupa nooit hierdie geskiedkundige oomblik van die familie kon beleef en geniet nie.

In sy latere lewe het sy oë verswak en het hy dag en nag ’n donker bril gedra. Hy het darem ook die bril tot sy voordeel gebruik, soos dié aand wat ou Jolla, ’n kennis van die omgewing, kom kuier het. Die huis was maar saans donker want hulle het net kerse en paraffien lampies gebruik om lig te maak. 

Ou Jolla was bekend daarvoor dat hy graag na sy eie stem kon luister. Oom Willem het later vertel dat hy gedurende die ou se monoloog aan die slaap geraak het en as hy ’n slag wakker skrik hoor hy oom Hendrik stel 'n vraag en dan dut die ou maar weer in en as hy weer wakker word, hoor hy ou Jolla het sopas sy eie vraag beantwoord.

Toe hy en die tannie een aand donker van die grootpad afdraai kon hy as gevolg van sy swak sig nie die plaaspaadjie uitmaak nie en moes tannie Hester met ’n wit doek die hele end voor hom uitloop tot by die plaashuis. Hy kon dit met smaak vertel en vir homself lag.

Oom Simon Rickert wat Noord van ons gebly het, was maar ’n knorrige oompie met ’n baie kort humeur en as sy werksmense of seuns hom die dag kwaad maak, het hy so in die rondte gedraai en boontoe gevloek. Hy het altyd ’n paar boerbokke aangehou wat op die werf koning was en net deur ’n draadheining om die huis van die voorstoep gehou was. 

Hy en tannie Rickert is redelik laat weer getroud, elkeen met hul eie kinders en as die stief kinders, Koos von Weitz en sy span daar kom kuier, het die bokke met lammers en al sommer bo-op sy motor gespring. Koos het naby Lambrechtsdrif ’n garage gehad en soos dit maar met ’n mechanic gaan was sy motor altyd stukkend. 

Daar was egter ’n kapater wat hom nie deur die draadheining laat keer het nie en as die geleentheid daar was het hy oorgespring om op die stoep te gaan lê. Oom Simon het vir hom ’n windbuks aangeskaf waarmee hy die bok kon skiet as dit wou oorspring. Ek vermoed die bok se vel was te taai vir die koeëltjie om deur te dring. 

Eendag het die bok egter weer oorgespring maar die keer het Oom Simon reggestaan en toe die bok so uitstrek klap die skoot en daar val die bok morsdood aan die anderkant van die draad. Ons het op ons stoep gesit en net oom Simon se skor stem hoor sê “Gods hys moes dood!”

Verder noord van Ouma se Huis, het Oom Frans en tannie Nelie Cilliers met hul kinders gebly. Wat my bybly van Oom Frans was die getatoeërde drake op sy voorarms. Hy was ’n Veteraan uit die tweede wêreldoorlog. ’n Maer seningrige oom wat altyd ’n gabardine langbroek met velskoene sonder sokkies gedra het en as hy by my pa kom gesels het hy altyd sy een been onder die ander ingevou. 

Hy was altyd op hoogte van wêreldgebeure en as Oom Frans ernstig met my pa in gesprek was, sou hy elke sin met “sien” eindig. Hoe graag sou ek hom nie wou uitvra oor die oorlog van destyds toe ek bietjie groter en ouer was nie, en ek wonder of hy die drake daar in die loopgrawe van Frankryk op sy arms laat tatoeër het.

Dood en siekte was maar deel van die lewe langs die Skema en die afgesonderdheid het gemaak dat mense grootliks op hulself, die bure en op boererate aangewese was in gevalle van nood en siekte. Die dood van hul seuntjie as gevolg van witseerkeel het ’n onuitwisbare indruk op my gemaak. Sy eerste vrou is dood toe ek nog maar klein was en oom Frans is later weer met tannie Bessie van Zyl getroud.

So met die terug dink en onthou besef ek dit is nie groot gebeurtenisse wat jy van jou bure onthou nie, maar die alledaagse. Soms is dit juis die skynbaar onbelangrike gebeure wat jou lewe inkleur en is dit soms ’n gawe oom wat op ’n dag ’n rooi granaat na jou uithou, wat jy altyd sal onthou.

Hierdie is n foto van n tipiese skema huisie. Die eienaar het eers later die stoepie bygelas.

Die kuiergroup in die artikel van links na regs is: 
  • Nico Strauss (grootgeword in Wilgenhoudsdrift). 
  • Dan Johan Strauss (nie op foto nie) se seun, Rouxwaldo Strauss by sy oupa. 
  • Dan Johan Strauss (Jonkste seun van Nico & Driekie). 
  • Dan Driekie Strauss, gebore Theron. 
  • Dan Claudette Strauss, vrou van Johan Strauss (nie op foto nie). 
"Artist on the move!" Rudolph Clench skilder Ouma se Huis.

Deur: Wollie Burger

Vandag dien Ouma se huis as n blyplek vir besoekers aan die area.