Karos: Oom Krisjan Byleveld en Oom Jan Rigter se dorsbak.
Destyds, hier aan die einde van 1950’s het almal nog met ertjies, wit boontjies, lensies of koring geboer langs die rivier en as die oes ryp is, was die ertjies of boontjie getrek, in hopies gepak en op die land gelaat om te droog en daarna is dit uitgery en mied gepak en dan is daar gewag .. en gewag... en gewag vir Oom Jan Rigter se dorsbak.
En dan op ‘n oggend bring iemand die nuus dat die dorsbak nou by Oom AP Olivier op Lambrechsdrif is. En met verloop van tyd kom die tyding, “die dorsbak nou by Oom Piet van Niekerk (Oom Piet-keer-die-perde)”, net ander kant Grootdrink se winkel waar Francois Slabber nou bly.
Na verloop van nog ʼn week of twee hoor ons die dorsbak is nou by Oom Abraham Sutherland net anderkant Grootdrink se laerskool. Boere het dan sommer daarheen gery om te gaan kyk en te staan en gesels terwyl daar gedors word.
Daar was ʼn opgewondenheid en ʼn gees van afwagting, want nou is dit nie meer lank nie. En dan een oggend daag oom Krisjan Byleveld met die dorsbak op. Hy was die dorsbak “operator” en hy het net geweet waar om die dorsbak staan te maak, want dis belangrik dat die reuse kontrapsie waterpas moes staan.
Ek kan nie onthou watse trekker gebruik is om die dorsbak aan te dryf nie, maar dit was in elk geval baie groter as wat die boere destyds gebruik het. Die trekker is reggetrek en die plat belt wat van die Pully van die trekker na die dorsbak gaan is styf getrek en nou is alles en almal gereed.
Die manne op die mied staan gereed om die dorsbak te voer, die wat sakke volmaak staan gereed met pakke goiingsakke. Die tou om die sakke toe te werk is dae voor die tyd op lengte gesny en is in bondels vasgemaak en hang gereed en die manne wat die sakke moet pak staan en trippel soos perde.
Alles is nou gereed en almal wag in spanning dat die eerste hoop ingegooi moet word, maar dan laat Oom Krisjan eers ʼn vuur aansteek om die teer te te smelt om op die aandryfbelt te gooi sodat dit nie afspring nie.
Vir ons het dit soos ʼn ewigheid gevoel, en dan ....uiteindelike kom die hele gedoente in beweging en soos die liedjie sê “sjakka sjakka doef, ghwarra doef soef doef die sakke word vol, en ons almal (oompie) glimlag breed”.
As ek vandag daaraan terug dink voel dit soos iets uit ʼn vorige lewe, maar ek glo dis Oom Chrisjan Byleveld wat die grootste indruk gemaak het. Vir my was hy ’n imposante figuur. Groot, grof en bonkig met ʼn stem en lag wat by sy postuur gepas het. Prominente oogbanke en welige wenkbroue en dan daai groot, dik voorarms en borshare wat by sy hemp se kraag uitpeul en as hy sy hemp uitgetrek om die ertjiesstof saans van sy bolyf gesig en hare af te spoel, was daar oral op sy lyf en rug net hare.
Eintlik het hy nie hare gehad nie, dit was ʼn pels. Dis ’n tyd wat meeste boere langs die rivier in eenvoud geleef en ’n bestaan in moeilike tye uitgekerf het, maar tye waaroor ek dankbaar en trots is en ook dankbaar vir die interessante mense wat ek kon ontmoet.
Deur: Wollie Burger