Grootdrink is ’n goeie, genadige plek

“Grootdrink is ’n goeie, genadige plek”.

Nee ...dis nie ek wat so sê nie ...maar iets wat die bekende Afrikaanse skrywer FA Venter in 1977 neergepen het, toe hy redakteur van die Burger was.

In 1977 was die koue oorlog tussen die Weste en die kommunistiese Oosblok lande op sy felste en Suid-Afrika in ’n verbete grensoorlog in die Noorde van Suid-Wes-Afrika betrokke.

Op Sondagmiddag 14 Augustus 1977 het ’n ongemerkte ligte vliegtuig laag oor ’n afgesonderde terrein genaamd Vastrap gevlieg waar die weermag ’n militêre toetsterrein gevestig het as kamoeflering vir toetse deur die Raad op Atoomkrag.

Die ontdekking van die kerntoetsterrein het tot hewige diplomatieke druk deur die Carter-regering in die VSA, die Sowjetunie en selfs Frankryk en Brittanje gelei en die plaaslike pers was in rep en roer en oral in die Noord-Kaap is gesoek na die veelbesproke toetsterrein.

So verskyn daar een Sondag op Rapport se voorblad die berig dat die enigste plek waar daar bouwerk aan die gang is, is die boeregemeenskap van Grootdrink wat besig is met die bou van ’n nuwe kerkgebou met foto’s. Na aanleiding van hierdie berig skryf FA Venter op Maandag 12 September 1977 in sy rubriek “Van alle kante” onder die opskrif “Grootdrink is ’n goeie, genadige plek”.

Hy skryf: Ek is bly dat Grootdrink tot sy reg gekom het – al het dit dan nou na aanleiding van die “bom”.

Inderdaad sou ek glad nie omgegee het as Grootdrink regdeur die wêreld beroemd geword het omdat Suid-Afrika sy eerste atoombom daarrond laat ontplof het nie. Vir my is Grootdrink ’n goeie, genadige plek.: een van daardie plekke wat deur al die jare heen ’n plekkie in mens se herinneringe behou.

Vir my is dit snaaks dat mense met hul wys vingers op landkaarte rondsoek om te sien waar Grootdrink lê. Ek kan amper met my toe oë op ’n landkaart wys waar hy lê. 

Hy het dan so ’n lekker naam! Grootdrink ....groot drink. Dit kan net beteken dat baie dors mense of baie dors diere op daardie plek by die Grootrivier se water uitgekom het.

• Groot drink veronderstel tog groot dors en daardie wêreld se groot dors het ek leer ken toe ek een dag in Desember aan die kant van die Kalahari, nie vêr van Grootdrink nie, ’n hele voormiddag moes hardloop om ’n weghol rooi-witrug-vers in die kraal te kry. Toe ek by die opstal terugkom het ek by die pompstraal gaan lê en drink en drink en drink totdat ek groot gedrink het.

• Dit was, was 1927. Genade dis vyftig jaar gelede! In daardie bitter droogtejaar het ons in Kenhardt se wêreld gaan uitkoms soek. Op Omdraaisvlei, bokant Prieska is ons met sak en pak op die “goods” en op Josling het ons afgelaai. Josling? Hy lê in die kontrei van Putzonderwater en Koegrabie. ’n ent bokant Grootdrink.

Halfkroon se water

Van Josling af is ons met die kapwa en twaalf torras en ons vee oor die witgatboom en suurgrasbulte deur Kenhardt se wêreld. Op plekke soos Rugseer en Vyfbekers het ons drinkwater gekoop vir ’n halfkroon per honderd kleinvee. 

Wip geskep, rol gedraai, klompies gekeer, want daar kon ’n klomp skape nie gelyktydig drink nie. Deur die vonkklipkoppies af Kakamas toe met sy groot, soet, geel lemoene, deur ’n Grootrivier-drif Suidwes-grens toe.

Tien meter van die grens af kom sê die veeinspekteur die grens is gesluit. Dit kos ons met die maer diere omdraai Kakamas toe waar ons by Oom Jan Muller oorstaning kry. Daarvandaan tot aan die kant van die Kalahari naby Upington.

Daar staan ons tussen die rooiduine waar die noordewind die kospotte toewaai totdat dit in Britstown se wêreld gereën het. Ons trek al langs die Grootrivier langs terug en toe ons die dag regoor Grootdrink kom, kla ma dat alles op is. 

G’n koffie meer nie, g’n suiker. Haar blousel is op en haar stysel. (Ma het daarvan gehou om haar kappie te stywe en om Sondae ’n gestyfde tafeldoekie oor ons trektafeltjie te gooi). Meel is daar ook nie en sy kort kamfer vir my aamborstigheid.

Taxi oor die rivier

En daar net oorkant die rivier, lê Grootdrink met sy winkeltjie. Maar hoe gemaak? Grootrivier loop kant aan wal! Pa het hom so gekyk, maar selfs hy sien vir die ou grootman kans nie, al het hy in die Rebellie die beroemde Nel-broers gehelp om met wilgerstompe manskappe ’n entjie bokant Augrabieswaterval oor die rivier te “taxi”.

• Tienuur se kant kom vier Basters met hul kapkar en vier langore by ons staning aan. Hulle groet, span uit en vra of ons dalk iets van die winkel af nodig het. “Van die winkel?” vra pa “maar kyk hoe lyk die rivier!” “Nee, wat Oubaas.” Sê die lang skrale “as die ou so loop, loop hy nie hoe nie.”

Donkies

Onderwyl ma haar notisietjie skryf, trek hulle op hul dooie gemak ’n skuit onder die wilgers uit, stoot die kapkar bo-oor die skuit sodat sy wiele weerskante afhang en trek die donkies aan die halters nader. 

Twee manne het elkeen twee donkies aan die halterrieme. Een gaan sit aan die stuurboordkant en die ander aan die Bakboordkant en hou die rieme kort voor die halters vas.

.....Of pa sal omgee om die donkies net ’n bietjie met die plak af te stof sodat hulle die water kan vat. Die twee los manne druk die skuit die water in, glip om tot voor die kapkar, klim in die skuit en gryp die roeispane.

Pa hoef die donkies nie eens danig aan te moedig nie, toe vat hulle die water, want hulle ken al dié ding. En sommer met die intrap is dit wegtrap, maar die twee Basters hou die diere se koppe behoorlik bo die water. Die voorste twee roei – en daar gaan hulle. Dié vreemde optog oor die bruin vloed.

Sake gewerk

Hulle was nog skaars van die wal af weg, toe vat Grootrivier hulle vas en werk hul sake. Maar hulle sit hulle nie teë nie. Grootrivier het hulle grootgemaak en hulle ken sy krag en sy giere en sy wette en reëls. 

Daarom vat hulle hom slim – Hulle vat hom “skeuns” soos hulle sê. Die regterhandse man roei sterker as die linkerhandse man en hulle sak weg in die ou Gariep se krag en sy vaart en hulle gaan skuins oor.

Toe die middelstroom hulle vat, hou ons asem op. Die wit kap van die kar lyk soos ’n tentjie wat dobber en swaai en reguit stroomaf dryf. ...Nee, tog nie. Hulle sny stadig oor en ons hou hulle dop totdat hulle d-a-a-r-r-r tussen die wilgers en rivierkaree van die oorkantste wal verdwyn.

Ons sit al by die aandvuur toe hulle na ’n tweede oortog rivier-op aangery kom met hul nat donkies en blink-speek-kar. Hulle laai ons goedjies af en ma pak uit. Alles wat sy gevra het is daar tot ’n pakkie dadels en ’n rol pruimtwak vir Kleinbooi.

Sugar Sticks

En toe haal ma dit uit, heel laaste: vir my en my suster elkeen twee lang “sugar sticks” wit met rooi strepe soos die paal van ’n haarkapper. En nogal met ’n pepermentsmaak! Ons het hulle bietjie-bietjie geëet , daardie “sugarsticks” en ek dink hulle het ’n paar dae gehou.

“Kêrels,” sê pa toe “geld het ek nie, maar kom soek vir julle ’n slag-kapater uit.” 
Hulle ry toe daar weg met hul slagkapater en ons hoor wie weet hoe lank hul draaghout klap in die donker en hoe die kapater teen die spletsbord skop.

Almal was gelukkig daardie aand langs Grootrivier – ons kinders met ons “sugarsticks”, ma met haar stysel, pa met sy pakkie “Flag”-sigarette, Kleinbooi met sy pruimpie – en die Basters met hul bok.

Dis dié dat ek Grootdrink nou nog onthou.

Grootdrink is steeds daar maar in Grootrivier het baie water sedertdien verby gevloei.
In 1929 is met die bou van die Boegoeberg Dam en die ontwikkeling van die Boegeobergskema begin en vandag is duisende mense van die ou grote se water en ontwikkeling in die streek afhanklik.

Die brug by Grootdrink, met die kerkgebou in die agtergrond.
Die wingerde, met die Grootdrink nedersetting links bo teen die berg.
Lugfoto van die Grootdink Winkel voor en die NG Kerk agter in die middel.
Twee en negentig jaar na FA Venter se vlugtige besoek bestaan Grootdrink se winkel ook nog steeds. Die winkel het natuurlik oor jare uitgebrei en bestaan vandag uit die winkel, poskantoor en ’n drankwinkel en besoekers kan nog die ouwêreldse atmosfeer van ’n plaaswinkel met die uitstekende en vriendelike diens van Anna Mari, Carli en hul span hier ervaar.

Grootdrink is nie ’n plek nie, maar bestaan uit sy gemeenskap en as besoekers hierdie mense wil leer ken is daar verskeie gastehuise waar hulle kan tuis gaan, maar as hulle die plek wil ervaar moet hulle die plekke besoek waar die gemeenskap bymekaarkom.

Gedurende druiweoes wat strek vanaf Januarie tot Maartmaand kan hulle gerus ’n draai by Grootdrink se wynkelder maak en vra dat Jim of een van die vriendelike personeel om julle rond te neem en gaan proe die lekker wyn wat van Grootrivier se water geproduseer word in die proelokaal.
Maak ook ’n draai by die skaal kamer waar die suiker, pH en temperatuur van elke vrag druiwe gemeet word en vragte in en uit geweeg word. Of as jy ’n paar van die boere wil ontmoet gaan sit daar in” Jan se kantoor” onder die koelteboom en voel wat is dit om te boer luister as die boere gesels.
En dan is daar natuurlik die Kaap-Agri depot waar toeriste hul dieselvoertuie kan kom volmaak en enige iets van katkos tot ’n waterpomp kan koop. Gebruik sommer ’n tydjie om ’n koeldrank op die stoep te drink terwyl die manne jou voertuig vul en luister na die nuutste Koöperasiestories.
Op Grootdrink glo die mense “die lewe is nie ’n snelweg tussen die wieg en die graf nie, maar ’n ruimte om te parkeer in die son”.

Deur: Wollie Burger