Wanneer rekenaar tegnologie jou byt

Rekenaar tegnologie is wonderlik wanneer alles reg verloop. Maar wanneer dinge skeef loop kan dit partymaal sommer gou in n nagmerrie ontaard. So n nagmerrie het met my gebeur toe ek verantwoordelik was vir die instandhouding van Unisa se rekenaar produksie aanleg in die 1985's. 

Hierdie was die dae voor selfone of internet. Die enigste tegnologie wat jy kon dra was n "beeper". As hy "beep" het jy die baas dadelik van n handfoon gebel of hom gaan sien.


Dit was die jare toe Kodak uit die land onttrek het weens SA se apartheidsbeleid. Hulle het dus almal verkas met hul mense, kennis en ander toerusting. Gelukkig het die dokumentasie agtergebly want die was deel van die koopprys. Die rekenaar besigheid was deel van die Kodak group van maatskappye. Die spesifieke stelsel was n hoofraam (mainframe) Dec PDP woordverwerker stelsel waarmee alle studente materiaal en interne dokumentasie mee gedoen was. 

Ek was maar 29 of so, maar het toe reeds soortgelyke ondervinding by die destydste Burger opgedoen, wat amper so n tiepe stelsel gehad het. Net heeltemal anders in baie opsigte.

Hier is n soortgelyke voorstelling van hoe rekenaar kamers toe gelyk het. Daar was ook 3x 300mb harde skywe wat so om en by n halwe meter hoog gestaan het. Deesdae het n gewone skootrekenaar n 1000 maal meer kapasiteit.


As jy een van die blou panele verwyder het, het dit soortgelyk soos hieronder gelyk. Prent 1 is die rak, prent 2 was die rekenaar borde wat ingeskuif het in die onderste rak. Prent 3 was die agterkant (backplane) waarin al die rekenaar borde ingeskuif het.

 

Soos n goeie werknemer veronderstel is om te doen, het ek kort na my aanstelling besluit om al die tegniese toets programme te toets. Dit sou my eendag help sou daar ooit n probleem ontstaan.

In daardie dae was die toets programme met baie min informasie beskryf. n Mens kon dus nie staatmaak op die inligting nie. Jy moes maar doodgedwonge een vir een toets en aantekeninge maak van die resultate wat daaruit spruit.

Ek het gewag vir n langnaweek om al die toetse na-ure te doen. Die vrydag het ek vroeg die oggend begin en alles het goed afgeloop met die eerste sarsie toetse. In die namiddag het ek nog net so 5 toetse oor gehad om te doen. Met elke toets lees jy eers die dokumentasie goed deur.

Ek hardloop toe die 4de laaste toets. Toe ek die toetsprogram hardloop toe gaan staan een van die twee hooframe skielik. Ek lees weer die dokumentasie en was verseker dat dit niks met die toetsprogram te doen het nie. Na n halfuur se heen en weer het ek besluit om die spesifieke toetsprogram op die 2de stelsel te hardloop om te bewys dat dit absoluut niks met die toetsprogram te doen het nie.

Tot my skok gaan staan die 2de stelsel ook skielik. Dis soos n bom wat my ruk van skok. Ek het sopas al Unisa se produksie stelsels buite aksie gestel. Ek voel skielik verskriklik alleen en vasgevang in n wereld waar niemand my kon help nie. Kodak met hul mense, kennis en gespesialiseerde toerusting is almal weg, terug na die VSA.

Ek moes myself kalmeer en die telefoon optel om by nuwe baas te bel. Daarna my vrou. En toe die produksiebestuurder van Unisa. Ek moes doodgedwonge kalm bly en hulle gerus stel dat ek wel n oplossing tot die probleem sou kry. Ek het besluit dat daar nie tyd was om te mors nie en het besluit om aanhou te werk, want tyd was die enigste ding wat ek aan my kant gehad het op daardie stadium.

Ek het al die tegniese dokumentasie wat ek kon kry begin bymekaarskraap. Elke laai, rak en stoorkamer in die rekenaar seksie was gefynkam. Teen laataand kon ek begin lees.

Saterdag oggend het aangebreek. Ek kon darem koffie maak. Tot dusver kon ek absoluut niks kry wat my kon help nie. Ek het vasberade gebly, want sekerlik sou ek iets uit al hierdie tegniese dokumentasie moes kry wat my uit hierdie panarrie kon red.

Sondag oggend het aangebreek. Ek was oor halfpad met die lees van die tegniese dokumentasie. Teen vroegaand het ek al die dokumentasie klaar gelees. Ek het op en af begin loop buite die rekenaar kamer, want daar was niks uit die dokumentasie wat my gehelp het om die probleem te verstaan nie. Dit het gevoel of iemand my wurg, want Maandag oggend was om die draai.

Tyd vir slaap was daar nie. Ek het probeer om n geheelprent te skep uit alles sover, maar absoluut niks het my nader aan n oplossing gebring nie. Ek het elke moontlike tatiek probeer. Ek was ook teen laataand half breindood en kon nie meer suiwer dink nie, maar ek het maar voortgeworstel deur die nag.

Maandag oggend 6uur stap Unisa se Produksie bestuurder daar in. Ek moes hom maar die slegte nuus gee. Dit was n bitter pil om te sluk. Ek het hom gese dat ek huistoe moet gaan om net so 4ure te slaap, maar dat ek teen vroeg middag terug sal wees. 

By die huis gekom het my vrou lekker kos gehad. Ge-eet, gestort en dadelik in die bed. Na 4 ure moes ek maar doodgedwonge opstaan, maar my kop was darem weer skoon. Oppad na Unisa het ek besef dat ek n heel ander taktiek moes toepas. Wat dit was, weet ek toe nog nie.

By Unisa aangekom, het ek besluit om die mees basiese rekenaar tegnieke toe te pas. Die oorsprong daarvan was n projek wat ek baie jare gelede toegepas het, soos die prent hieronder voorstel.


Ek het n spesmaas gehad dat die program alle inligting op n rekenaarskyfie uitgevee het. Die skyfies was ROM (Read Only Memory) genoem. Die spesifieke soort ROM's wat jy kon uitvee was n EPROM (Electrical Programmable Read Only Memory). Die ouer soort het jy met n UV lig bestraal om hulle uit te vee. Dit het n glas venster gehad soos die 1ste foto hieronder aandui. Met ander woorde al die 0 (zero's) en 1 (ene) wat die program opmaak word dan alles 0 (zero's)

 

Hierdie programme was die BIOS (Basic Input Output System) genoem. Dit stel n rekenaar byvoorbeeld in staat om te weet hoe om n sluitelbord te lees of hoe om iets na n rekenaar skerm te skryf. 

Met die teorie het ek gesoek na maniere om die BIOS te herstel. Ek het op inligting afgekom. Jy moes op n klein sleutelbord n program intik wat om trent n uur geneem het om te doen. Die doel was om die oorspronklike BIOS vanaf n CE hardeskyf in te lees en dan te skryf na die EPROM.

Wonderbaarlik het ek die 1ste hoofraam weer aan die lewe gekry. Ek het gevra dat die produksie mense n paar toetse doen om te bevestig dat alles normaal lyk. Die produksie span het na so n halfuur bevestig dat alles normaal lyk.

n Berg het van my skouers afgeval. Ek het besluit dat so n ding nooit weer met myself of met iemand anders in die toekoms moet gebeur nie.
 


Ek het besluit om die toetsprogram weer n keer te hardloop, maar voor dit het ek die een been (aangedui in rooi) afgeknip. n Spanning (Voltage) van 5V op die been stel die rekenaarskyfie in staat om alles uit te vee.

My teorie was reg. Al het ek die toetsprogram weer gehardloop, het niks gebeur nie. Vir die eerste keer voel ek ten volle in beheer.

Ek het dieselfde prosedure op die 2de stelsel gevolg. Die gevolg was dat teen laat middag altwee stelsels volkome herstel was.


Dae na hierdie ervaring het ek die probleem in die dokumentasie agter gekom. Die toets se beskrywing was omgedraai met n ander beskrywing. Ek was vir n lang ruk nie beindruk deur Amerikaners nie.

Daar was n paar lesse vir my uit hierdie nare ervaring:
  • Opgee is nie n opsie nie.
  • Aanhou, uithou & moedhou.
  • Verwyder jouself van n probleem en keer later weer terug.
  • Keer terug na die basiese goed as jy vasbrand.
  • Jy leer die meeste uit moeilikste tye
Deur: Johan Swart
Hierdie storie het wel in Pretoria gebeur, maar omdat ons nou in die Noord-Kaap woon is dit nog steeds relevant, want dit gaan oor die mense wat hier woon.